Boekresensie: Christine le Roux Keur 6

Christine le Roux Keur 6 deur Christine le Roux word uitgegee deur Human en Rousseau.

Hierdie versameling liefdesverhale uit die pen van Christine le Roux (skuilnaam van Eleanor Baker wat in 2002 oorlede is) sorg vir ure se sielsalige leesplesier. Dit is die tipe boek waarmee jy jouself bederf wanneer die lewe en al sy probleme swaar op jou gemoed rus en jy ontvlugting soek in stories wat jou hartsnare roer, jou maak sug van genoegdoening en jou laat met ’n gevoel van tevredenheid. Dit is tydlose stories wat inspireer, hoop voorhou, moed gee en bewys dat die liefde altyd seëvier.

Christine le Roux Keur 6 beslaan drie volledige liefdesverhale getiteld Skynglans van geluk, ’n Vonk van liefde en ’n Nuwe begin. Al drie hierdie verhale het voorheen as afsonderlike boeke verskyn. Dit is ook in 2002 gesamentlik in ’n omnibus uitgegee met die titel Christine le Roux Omnibus 4. Die herdruk van 480 bladsye verskaf vandag steeds groot vreugde vir die lesers van liefdesverhale. Dit stel ook ’n nuwe geslag lesers bekend aan die veelbekroonde Le Roux se werk. Sy het vyftien romans, twee draaiboeke en verskeie jeugboeke geskryf. Haar Die kwart­voor-sewe­lelie is in 1991 vir die Old Mutual­prys vir letterkunde benoem, terwyl Verbeelde werklikheid in 1996 op die kortlys was vir die M­Net­boekprys. Sy het ook as Alex Muller speurverhale geskryf.

In Skynglans van geluk woon Elize, ’n jong Suid-Afrikaanse skrywer, in Amerika waar sy aan draaiboeke werk. ’n Regisseursvriend bied haar die hoofrol teenoor die gewilde en knap rolprentster, Robert Ryan, aan in sy nuwe fliek. Sy is aanvanklik uit die veld geslaan, maar gryp dan die geleentheid met beide hande aan. Ryan vermy die kollig, want hy is eintlik ’n boer van Colorado wat voorheen net in films gespeel het omdat hy die geld vir sy plaas nodig gehad het. Elize ervaar hom vanuit die staanspoor as meerderwaardig, vermetel, wysneusig en afsydig en die vonke spat behoorlik tussen hulle.

Uittreksel: Hierna gaan dit beter, maar sy vind dit ’n baie moeilike toneel om te speel. Toe hy haar die eerste keer teen hom vasdruk, gaan haar hart onkeerbaar te kere, en ten spyte van sy spottende oë net voordat hy sy mond op hare druk, is sy uitasem toe hy haar los en staar net na hom (57).

In n Vonk van liefde bly die swanger Danielle Steyn alleen agter nadat Danie, met wie sy ná ’n warrelwind romanse getroud is, onverwags in ’n motorongeluk sterf en haar met hope skuld agterlaat. Sy begin werk as bestuurder van ’n gastehuis in die Karoo. Die eienaar, Neil Greyling, ontferm hom oor haar en staan haar selfs met die geboorte van haar dogtertjie by. Neil is egter verloof aan Mieke.

Uittreksel: Hy gaan sit oorkant haar. “Danielle,” noem hy haar vir die eerste keer op haar naam, “belowe my jy sal na my toe kom as daar probleme is. Ek is nie ryk nie, maar ek sal altyd help (236).

In ’n Nuwe begin ly Emilia aan geheueverlies ná ’n ernstige motorongeluk. Sy herken ook nie haar man, advokaat Gerard Roux, nie. ’n Sielkundige reken dat sy haar geheue verloor het omdat sy doelbewus wou vergeet het. Sy gaan saam met Gerard huis toe, maar hulle het nie ’n normale huweliksverhouding nie en sy slaap in ’n aparte slaapkamer. Sy leer dat sy blykbaar nie voorheen ’n aangename persoon was nie en kan nie help om te wonder hoe haar man regtig oor haar voel nie.

Uittreksel: Huis toe, dink sy oorstelp. Sy weet nie waar dit is of hoe dit sal wees nie. Sy wil liewer in die hospitaal bly. Haar kamer ken sy en die gesigte is bekend. Buite hierdie mure wag ’n wêreld wat vir haar so ontstellend vreemd voel dat sy dit nie kan hanteer nie. Sy wil nie eers daaroor dink nie (349).

Skaf Christine le Roux Keur 6 hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.