Boekresensie: Dagboek van ʼn dork-reeks

Die Dagboek van ’n dork-reeks word in Afrikaans uitgegee deur Human & Rousseau.

Die #1 New York Times-topverkoperrreeks Dork Diaries word deur die veelbekroonde Kobus Geldenhuys as die Dagboek van ’n dork-reeks in Afrikaans vertaal.

Die eerste vier boeke in die reeks, Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe (boek 1), Stories van ’n nie-so-gewilde partytjiepop (boek 2), Stories van ’n nie-so-talentvolle popster (boek 3) en Stories van ’n nie-so-elegante ysprinses (boek 4) is reeds in Afrikaans beskikbaar.

Met die eerste deurblaai van die Dagboek van ’n dork-reeks het ek besef dat hierdie lekker dik boeke heerlik anders is. Die besondere visuele ontwerp van die inhoud – onder meer die prettige skrif en illustrasies – is vars, modern en opwindend. Dit beloof ure se leesvermaak vir 9-12 jariges, want daar lê geen vervelige oomblikke vasgevang tussen die bladsye nie. Daar is oor die 45 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop van die eerste dertien boeke wat in bykans 40 verskillende tale vertaal is. Klik gerus hier en verlustig jou in die produkte, video’s en ander bemarkingsinisiatiewe wat aan hierdie reeks ’n kultusaanhang besorg.

Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe

Die leser ontmoet in hierdie eerste boek die protagonis, Nikki Maxwell, wat ’n absolute dork is. Dit beteken natuurlik dat sy die teenoorgestelde van gewild is. Sy hou getrou dagboek van al die drama en dinge in haar lewe – en daar is baie! Die dagboek is gemerk as “privaat en vertroulik” en “loer is verbode”. Nikki beskryf haarself op bl. 6 só: “Ek is ’n kunstenaar en ABSOLUUT VERSLAAF aan teken! As ek dit nie elke dag doen nie, raak ek KOEKOES! Ek gee al my sakgeld op sketsboeke, potlode, penne, kunsprojekte en sulke goed uit.” Nikki voel dat haar lewe suig en dat sy onsigbaar is, veral nou dat sy by ’n snobistiese privaat skool moet inpas. Sal sy leer dat dit eintlik oukei is om ’n dork te wees?

Stories van ’n nie-so-gewilde partytjiepop

Nikki begin stadig maar seker aanpas by die nuwe skool. Sy het vriendinne gemaak in Chloe en Zoe maar is siek en sat vir MacKenzie, die gewildste meisie in die skool, se mislike meisie-houding en haar hansworsery (bl. 40). Sy beskryf MacKenzie só in boek 1 op bl. 34: “Om MacKenzie ’n ‘mislike meisie’ te noem is hopeloos te vriendelik. Sy’s WREED! Sy’s ’n Boelterriër met blink grimering en haarverlengings!” Boonop is MacKenzie se visier deeglik ingestel op Nikki se geheime hartklop, die fotograaf genaamd Brandon. En nou spog MacKenzie dat sý saam met Brandon na die skooldans gaan! Sal Nikki se droom om Brandon se metgesel te wees ooit realiseer?

Stories van ’n nie-so-talentvolle popster

Nikki se skool hou ’n talentkompetisie en álmal wil inskryf. Natuurlik verloop net mooi niks in Nikki se lewe seepglad nie. Die nare MacKenzie slyp haar tande vir Nikki omdat dié voorheen eerste gekom het in ’n kunskompetisie. Sy maak slinkse planne om Nikki die loef af te steek wanneer dit by die talentkompetisie kom en reken nogal ewe dat “die enigste talent wat Nikki het, is om toilette te skrop” (bl. 236). Sal Nikki die supergewilde MacKenzie, die grootste diva in die skool, kan ore aansit én boonop die aantreklike Brandon se oog vang?

Stories van ’n nie-so-elegante ysprinses

Brandon is nie net ’n talentvolle fotograaf nie. Hy doen ook vrywilligerswerk by ’n diereskuiling en wil eendag ’n veearts word. Wanneer Nikki hoor dat die skuiling dalk gaan toemaak, besluit sy om deel te neem aan die skool se ysskaatskonsert vir liefdadigheid om die skuiling te help. Maar MacKenzie, wat kliphard ogies maak vir Brandon, het planne van haar eie en kan nie wag om dit op bl. 87 te deel nie: “Brandon, ek het ’n briljante idee gekry. Jy gaan SO dankbaar wees. Maar ek moet ALLEEN met jou praat!” het sy met ’n aansitterige hees stem gesê terwyl sy haar wimpers fladder soos iemand in wie se gesig jy nou net ’n hand vol sand gegooi het.” Behalwe dat Nikki nie juis kan ysskaats nie, word haar en haar maats se kostuums boonop omgeruil en kry hulle hansworspakke om in te skaats. Hopelik boemerang MacKenzie se planne en sal Nikki R10 000 wen vir Swaaistert.

Uittreksel uit een van die boeke

Meer oor die skrywer:

Rachel Renée Russell is ’n prokureur en woon in Noordelike Virginië, Amerika. Sy lees graag jeugboeke in haar vrye tyd en doen kunshandwerkprojekte. Haar dogters, Erin en Nikki, skryf en illustreer die reeks saam met haar. Sy het glo ’n troetel-Yorkie wat hom verbeel dat hy ’n kat is.

Skaf die Dagboek vir ’n dork-reeks gerus aan. Meisies die wêreld oor is gaande daaroor. Dit is propvol drama, spanning, humor en dork-oomblikke.

Koop die boeke by Graffiti Boeke:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.