Boekresensie: Dans, Jenna

Dans, Jenna is geskryf deur Noreen Nolte en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Wat ’n lieflike, onopgesmukte storie oor ’n talentvolle graadsewe meisie wat versot is op dans, maar goed besef dat balletklasse eintlik ’n luukse is wat haar enkelma – wat twee werke doen om vir hulle te sorg – nie kan bekostig nie! Jenna oefen baie hard en bring haar kant, want dans laat haar “voel asof sy presies is waar sy hoort”. Dit laat haar vergeet dat sy en haar ma in ’n beknopte woonstelletjie bo haar ma se lapwinkel woon, dat haar pa dood is, en dat sy ’n koffiekleurige vel en blou oë het.

Soms wil swartgalligheid vir Jenna plattrek. Haar dansskoene raak te klein en haar pointes is ook gaar. “Wat is die kans dat sy ooit so sukkel-sukkel ’n danser sal word?  Sy kan net sowel nou tou opgooi en haarself baie moeite en verdriet spaar.” Sy en ma kan tog nie nuwe skoene bekostig nie! Tog bly Jenna hoop op ’n wonderwerk, al spot en verkleineer die skatryk en selfversekerde Mineke haar.

Dan gebeur die wonderwerk wat Jenna se dansdrome kan bewaarheid. Die Kaapse Balletgeselskap bied ’n kompetisie aan vir belowende dansers om ’n winterskool in die Kaap én ’n vertoning van ’n Russiese balletgeselskap by te woon. Juffrou Saskia en van Jenna se maats glo dat sy ’n kans staan om te wen as sy baie hard sal werk daarvoor.

Jenna gee haar allerbeste. Sy oefen eintlik haar groottoon stukkend en haar spiere seer. Sy hoop teen alle verwagtinge in dat sy sal wen. Dan gebeur daar ’n verskriklike ding net voordat Jenna op die verhoog moet dans vir die kompetisie. Jenna moet kies of sy op ’n hopie gaan sit en huil oor die onregverdigheid van dit wat haar getref het, en of sy dapper gaan wees en ten spyte van die omstandighede, steeds met haar hele hart gaan dans.

Hierdie deernisvolle verhaal laat die leser hoopvol voel en laat jou glo dat wonderwerke kan gebeur wanneer jy in jou drome glo en jou beste gee. Dans Jenna is geskik vir lesers 9 jaar en ouer en bestaan uit 80 bladsye.

Die skrywer, Noreen Nolte, is ’n gekwalifiseerde balletonderwyseres. Haar jeugromandebuut, Om te dans, het in 2017 verskyn en is baie goed ontvang.

Dans Jenna is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.