Boekresensie: ‘Decima’ deur Eben Venter

Decima, Eben Venter se jongste roman, sy 11de, is op die oog af ʼn misdaadroman, ʼn pleidooi wat op wetenskaplike feite staatmaak vir die bewaring van renosters en olifante en die natuurlewe in die algemeen, ʼn verhaal ten dele vertel vanuit die perspektief van ʼn swartrenoster, en outofiskie (as ʼn vorm van gefiksionaliseerde outobiografie). Die teks word ʼn web, vernuftig gespin uit vertellings uit verskillende oogpunte, persoonlike vinjette en daarby ʼn sweem van die fabel waarin diere aan die woord kom. Die afbeelding van die Dürer-houtdruk op die boek se buiteblad benadruk die gedagte dat die renoster voorop staan in die boek.

Die lot van Decima, ʼn swartrenosterkoei in die Groot Visrivierpark in die Oos-Kaap, is die voertuig (om dit so te noem) waarmee die roman by die leser aankom. En daarmee saam etlike karakters wat ʼn impak op die lot van die renosters het: stropers en hul kliënte, beoefenaars van tradisionele medisyne en hul kliënte, navorsers en wildbewaarders. Die maan is besig om vol te word – die tyd van die maand wanneer stroping (gewoonlik) plaasvind.

Nietemin is dié voertuig (met al die lofwaardige lanse wat gebreek word vir bewaring) gewoon Venter se werkwyse om aan die woord te kom oor verlies en verganklikheid – nie minder nie as wat hy dit in 1996 gedoen het in sy voortreflike Ek stamel ek sterwe. Soos in dié roman het nou by die lees van Decima die dagboekwoorde van Virginia Woolf in my agterkop bly draal: “I meant to write about death, only life came breaking in as usual.”

Die verganklikheid waardeur renosters in die gesig gestaar word (met die huidige stand van sake vermoed ʼn mens reg van die begin af waar Decima se storie gaan eindig), is een vorm van sterflikheid wat in die roman gestalte kry. Die dood van Maureen Venter in 2019 word (soos dié van Konstant Wasserman in Ek stamel) as’t ware die een groot trilling wat die hele web laat vibreer – van die ek-verteller, haar seun, se registrasie van die “woorde verslete van vrees dat ek haar sal los voordat sy my los” (20) tot en met haar vaarwelwoorde op sy selfoon: “as ek in die nag op my bed lê, kan ek die volmaan oor die baai sien opkom” (167).

Die beskrywing van haar dood, tweedehands (omdat die ek-verteller ten tyde van haar dood nie in Suid-Afrika was nie) dalk des te aangrypender beskryf, spreek van intense meelewing en foltering. Vroeër in die roman maak die ek-verteller ʼn knoop aan die oor om die ma tog te vertel: “Dié slag skryf ek nie net ter wille van skrywe nie”, maar as ʼn poging om gevoelvolheid te verstaan… soos Catullus dit uitgedruk het: “Ek voel dit aan, en ek is gefolter daardeur” (141).

Venter skryf met intimiteit en naastegevoel wat, en hy haal JM Coetzee aan, “die persoon in staat stel om die ervaring van die ander wese te deel, en as die dood dan wel die dier nader, sidder die liggaam” (59).

Verwysings na die dood is volop in die boek (opvallend hoe Venter “sterf” nie reserveer vir mense alleen nie, maar ook byvoorbeeld van die “sterfplek” van ʼn dier praat). In ʼn klein tussenspel word verwys na ʼn besoek aan die huis van die skilder Pieter Paul Rubens. Biografies sou ʼn mens heelwat kon sê om Rubens te beskryf, maar Venter kies byvoorbeeld om in een sin hom te beskryf as “die geprese Vlaamse Barokkunstenaar wat aan hartversaking, veroorsaak deur kwaai jig, oorlede is” (106).

Verganklikheid en sterflikheid bly egter nie op ʼn afstand nie. Dit kom ook nader as die bestaan van die wesens rondom die ek-verteller. “En dit is hoe ek Decima se onthutsing moet begryp, nie as vrees vir die dood nie, maar die voorgevoel daarvan: Haar ore wat los vlieë probeer wegswiep waar sy daar staan, geplant op tuisgrond, terwyl sy haar gereed maak vir daardie klanke wat so sonder twyfel op ʼn volmaannag in haar rigting gaan sketter, so seker en so trots as wat sy daar staan” (150).

Raakvlakke met Ek stamel ek sterwe is daar volop. Soos Konstant ʼn osoonsangoma gaan besoek het, is daar in Decima ʼn besoek aan ʼn igqirha (dalk om verskillende redes) (14); daar is die aanwesigheid van voormense (wat maak oom Kallie se Doppelgänger en ʼn sinsnede uit ʼn onverwante telefoongesprek anders daar?) (134); en daar is die oproep van die Oos-Kaapse plaas voor die geestesoog (selfs in iets so oënskynlik onbenullig as die herkenning van ʼn ekstragroot plastieksak in ʼn agterplaas in Motherwell – dié soort wat merinoboere vir hulle wol gebruik) (152).

Fyn waarneming en nog fyner beskrywing – hy verwys na die “skerp sintuie en verhoogde persepsie” (121) van die renoster – is iets wat ʼn mens oor die jare koppel aan die skryfwerk van Eben Venter. In Decima sou ʼn mens dié persepsie en vermoë desnoods met “ultra” kon kwalifiseer. So sou jy ʼn magdom geïsoleerde voorbeelde kon aanhaal: sy beskrywing van teksture en kleure, van argitektuur, van reuke (hou in gedagte die renoster se ontwikkelde reuksintuig), en les bes “al my geliefde bossies” van die Groot-Karoo (85).

Op die oog af is Decima die storie van ʼn renoster. Selfs meer as dit is die roman ʼn merkwaardige verkenning van hoe ons in die aangesig van die dood en verlies aangewese is op die lewe van die wesens wat die lewe met ons deel. ʼn Gul gawe (28).

Decima deur Eben Venter word uitgegee deur Penguin. Die boek kos R290. Koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.