Boekresensie: Die antie met die pienk rok

Die antie met die pienk rok en ander stories word deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.

Daar word nie verniet gesê dat lag die beste medisyne is nie. Ek kon voel hoe my gemoed lig terwyl ek Die antie met die pienk rok en ander stories gelees het. Vir ’n wyle kon ek vergeet van die gebroke wêreld en my net verlustig het aan die sterk visueel geskryfde stories wat my heerlik laat skaterlag het.

Hierdie heruitgawe bevat ’n versameling van ses en twintig skreeusnaakse vertellinge deur die ontslape legendariese storieverteller en skrywer, Jan Spies. Die puik bundel kortverhale is saamgestel uit Spies se immergewilde Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir servette.

Dit is voorwaar verblydend dat nóg ’n geslag lesers Spies (1936-1996) se stories te lees sal kry. Hy het die kuns vervolmaak om deur middel van onvergeetlike karakters en sy gawe om die komiese in enige situasie raak te sien, diep in sy waarderende gehoor se harte te kruip. Sy eiesoortige vertelstem het vele bewonderaars aan sy lippe laat hang, en hy het volksbesit geword.

Spies beskryf ’n karakter in “Moeilike medisyne” (p. 109) só: “Hy’t die naam Orrelkosie in die familie gekry omlat – wanneer hy ’n ding vertel – hy héél voor begint en dan eers dóér annerkant die end van die storie ophou. En alliepad beduie hy tot innie haarfynste alles wat beduibaar is.”

Hier is ’n voorbeeld van dialoog in “Die dinges is ’n watsem” (p. 32): “Maar toe begint word die oom warm. Hy sê: “Moet ek nou hier onnerie dinges uitwatsem om vir jou te kom wys hoe die dinges lyk? Gee vir my die wátsem – ons het nie dinges nie en netnou watsem dinges lat ons moet kom dinges en jý kén vir dinges: sy’s watsem as ’n mens nie dadelik dinges as sy roep om te kom watsem nie.”

Van aksie kon ’n mens Spies niks leer nie. In “Eie familie” (p. 131) vertel hy: “Nou, as daar een ding in die wêreld is wat mos baie ongemaklik lyk wanneer hy op sy gemak is, dan’s dit ’n hond. Want hy sit mos, soos die oumense sou gesê het, lat dit lyk of hy oor ’n dissel mis. En die hond sit-staan daar en sy stert lyk of hy in ’n paar golwe vasgekramp het en die hond kyk dóér onnertoe in die veld af lat mens sou sweer hy bepeins die wêreld vanuit dié ongemaklike posisie. En toe maak hy ’n pure maak. En toe’t hy klaar is, kom hy orent en skop ’n paar hale sand agtertoe en hy rek hom uit lat dit kompleet lyk of hy wil sê “Aááá”, en hy vlie daar weg en hy hol met so ’n gesonde draai tot aan die sonkant van die pondok en daar teen die muur loop lê en lek hy sy lekke.”

Ek het heerlik aan Die antie met die pienk rok en ander stories gelees deur een van Namibië se meesterstorievertellers.

Klik hier om ʼn uittreksel uit die boek te lees.

Meer oor die skrywer: Jan Spies het in Namibië geboer en was die stigtersredakteur van Die Republikein, ’n Namibiese koerant. Hy was ook, saam met P.G. du Plessis, die aanbieder van die destydse uiters gewilde TV-program Spies en Plessie – met permissie.

Skaf Die antie met die pienk rok en ander stories by Graffiti Boeke aan. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.