Boekresensie: Die Bergengel en Die Wonderwese

Carina Stander lees voor uit “Die Wonderwese” tydens die boekbekendstelling (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Die Bergengel en Die Wonderwese deur Carina Stander word albei deur Protea Boekhuis uitgegee.

Daar is al baie gesê en geskryf oor die eerste twee boeke van Carina Stander se Bergengel-trilogie. Reeds in die Voorwoord van Die Bergengel kom lesers agter dat daar ’n ongelooflike lees- en reiservaring op hulle wag. Die grootste bederf is natuurlik om hierdie uiters begaafde woordsmit se werke, waarin die literêre verskynsel van magiese realisme as kunsvorm sublieme gestalte kry in die leser se verbeelding, eerstehands in suiwer, oorspronklike Afrikaans te mag lees.

Stander gaan met verbluffende en bewonderingswaardige gemak om met haar moedertaal. Sy skep skynbaar moeiteloos liriese prosa deur woorde, wêrelde, gebeure en karakters wat hulle oorsprong in die werklike, tasbare ruimte én die magiese het, te meng met ’n instinktiewe oerwysheid wat sekerlik net aan uitverkorenes behoort.

In hierdie mistieke en allegoriese fantasieverhale vertrek die jong Eron Verberger op ’n skemeroggend in Maart saam met sy pa, Gibor, op ’n reis deur Gabriëllië sodat hy die kuns van klokkemaak kan leer en ’n man kan word. Later word Eron ’n “Voetwerker vir die Geheime Rewolusie teen Vuurstorms en op soek na die laaste Geseëndes op die Kaart” sodat hy “by sy pa in Afrika kan aansluit”. Die bose kringloop van wraak en weerwraak moet immers gebreek word. Gibor skryf ter bemoediging in Die Wonderwese op bladsy 28 in ’n brief aan sy geliefde seun: “Ek het […] besef die Wonderwese wéét van jou – al herken jy die Teenwoordigheid nog nie.” Die tema van groei, grootword en volwasse word en die taal van liefde leer verstaan loop ragfyn deur die boeke.

Ek het heerlik gelees aan Die Bergengel en Die Wonderwese en sien baie daarna uit om ook die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, te lees wanneer dié gepubliseer word. Ek het heelwat stadiger aan die boeke gelees as wat ek normaalweg deur fiksie sou werk. Die rede hiervoor is dat ek meeste paragrawe twee of meer maal moes lees omdat die slim woordspeling vir my so mooi was, of omdat ek die dieper betekenis daarvan moes oordink. Stander rangskik, ryg en omvorm woorde asof dit klei onder haar hande is en sý die pottebakker. Die boeke het my aandag deurentyd gevange gehou, al was daar dele waar ek gereken het die pas vinniger kon gewees het, maar ek het gou besef dat die “stadiger” dele nodig was vir asemskep, introspeksie en ook om die gevoel van surrealisme soms te anker.

Die Bergengel word op die agterblad tereg beskryf as “’n Mistieke reisverhaal, ’n poëtiese en byna gewyde kunswerk in ’n literêre gedaante wat nog nooit tevore in Afrikaans teëgekom is nie.”

Ek beveel albei boeke heelhartig en sonder enige skroom aan. Ek het wel die klein skrif waarin die boeke gedruk is, hinderlik gevind – en ek dra nie eens ’n bril nie. Die Bergengel is 240 bladsye lank en Die Wonderwese ’n lywige 304 bladsye. Vir my sou ’n effens groter skrif soveel meer bygedra het tot my leesgerief, veral omdat baie van die paragrawe lank is en die teks boonop in die verlede tyd geskryf is.

Meer oor die skrywer: Carina Stander behaal haar honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria en haar meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Sy woon in die Tsitsikamma saam met haar man en twee seuns. Van haar werke sluit in haar digbundels, die vloedbos sal weer vlieg (Tafelberg, 2006) en  woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009). Haar debuutroman, Wildvreemd, (Tafelberg, 2011) is in Nederlands vertaal (Uitgeverij Athenaeum).

Skaf gerus Die Bergengel hier aan en Die Wonderwese hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.