Boekresensie: Die Claude-reeks

Die Claude-reeks, deur Alex T Smith, word uitgegee deur Struik Kinders.

Die supergewilde Claude-reeks steel kinderharte reg oor die wêreld. Nie net is die boeke – daar is vier titels in die reeks – reeds in meer as 15 tale vertaal nie, maar dit is ook op die kortlys vir die Waterstones-kinderboekprys. Dit word ook op die Disney Junior-kanaal op TV vertoon.

Die kostelike driekleur illustrasies is humoristies en deur die skrywer, Alex. T. Smith, self behartig. The Metro beskryf die reeks as “prettige illustrasies met hope humor” en The Sunday Times sê die boeke is “humoristies en elegant geïllustreer”. Ons eie Jaco Jacobs het die boeke in Afrikaans vertaal.

Ek het my verkyk aan die hoofkarakter, Claude, ’n hond wat my nogal aan die liewe Brakanjan herinner. “Claude is ’n klein hondjie met ’n ronde lyfie wat ’n baret en ’n pragtige rooi trui dra” (5, Claude in die stad). Sy gunstelingding is meneer Bobbelkous, ’n kous wat baie bobbelrig is en so bietjie na kaas ruik.

Die reeks word voorgeskryf vir kinders tussen vyf en sewe jaar oud en is geskik vir voorlees én selflees. Elke boek beslaan 96 bladsye of te wel 2 500 woorde en word in ’n gerieflike sagteband formaat van 181 x 129 mm gepubliseer wat die perfekte grootte is vir klein handjies om gemaklik vas te hou.

Claude in die stad
Claude en meneer Bobbelkous durf die groot stad aan. Hulle beleef allerhande avonture wat kinders na hul asems sal laat snak. Hulle ontdek “die beste winkel in die hele wye wêreld” (25) en doen heerlik inkopies. Hulle besoek selfs ’n kunsgalery en fnuik ’n dief! Maar o wee, die volgende dag is meneer Bobbelkous glad nie wel nie en dis dokter toe met hom! Koop die boek by Graffiti Boeke

Claude hou vakansie
Claude is ’n hond soos min wat by Stertswaaistraat 112 woon. Hy en meneer Bobbelkous besluit om op ’n seevakansie te gaan. Hier voer Claude ’n sopbeen vir ’n haai. Hy en meneer Bobbelkous neem deel aan ’n sandkasteel-kompetisie én hulle beland wraggies op ’n seerowerskip en soek na ’n skat. Koop die boek by Graffiti Boeke

Claude in die kollig
Claude en meneer Bobbelkous besluit om ’n entjie in die dorp te gaan stap. Soos altyd loop hulle hul ’n spul avonture op die lyf. Claude leer dans by juffrou Hoogskop, maar dis ’n vliegie wat hom vir ’n vale laat wriemel en wikkel. Hy en meneer Bobbelkous beland tot in die teater waar hulle aan ’n talentkompetisie deelneem! En wat is ’n teater nou sonder ’n spook?! Koop die boek by Graffiti Boeke

Claude gaan vir goud
Claude soek iets opwindends om te doen. Hy wil aan die Hengse Groot Sportdag deelneem en die goue beker en medaljes wen. Dis egter makliker gesê as gedaan. Boonop gryp twee rowers die beker en medaljes en laat spat op fietse. Dis ramp op ramp! Koop die boek by Graffiti Boeke

Ek het baie lekker aan hierdie boeke gelees en verstaan waarom dit so gewild is. Dis voorwaar vet pret! Ek beveel dit sonder voorbehoud aan.

Struik Kinders, ’n druknaam van Penguin Random House South Africa, gee die reeks uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.