Boekresensie: Die dag toe ons Krismis gaan soek het

Die dag toe ons Krismis gaan soek het deur Wini Esterhuizen word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Ek het heerlik gelees aan Wini Esterhuizen se bundel met onthoustories. Sy pen haar jeugherinneringe, mymeringe en kleurvolle kontreisketse op so ’n hartlike, opregte en eenvoudige wyse neer dat die leser nie anders kan as om ’n sug van genoegdoening te slaak met die uiteindelike toemaak van die boek nie.

Dit is inderdaad lekker om so saam met hierdie boervrou van Koës in Namibië te kuier. Haar verhale, ook dié oor mense wat sy raakgesien of opgemaak het, gryp die verbeelding aan en roer hartsnare met ’n eiesoortige deernis en humor wat ironie omhels.

Esterhuizen se kortverhale het my op ’n manier herinner aan Nataniël se lekkerlees Kyk na my waarin hy herinneringe aan sy kindertyd deel, maar sonder die flambojansie, fleur en drama daarvan.

Haar uit-die-hart-uit herinneringe getuig van haar besonderse kunstenaarsiel wat anderste en sagter kyk na alles en almal om haar. Sy betower haar lesers met ’n aardse charisma wat ook eie is aan die geliefde skrywer Dana Snyman. Sy skryf op bl. 236: “Ek ontdek die goud van onthou in die klapperbosse, in die uitbundige binneste van ’n granaat en in die sku blom van die vyeboom. Die stofpad strooi ’n stukkie van homself oor my.” Ook: “My spore lê nou wyer, maar die klein spoortjies wat ek toentertyd getrap het, bly steeds in my hart” (238).

Sy vertel van ’n stokou vroutjie wat oornag ’n kompartement met haar gedeel het tydens ’n treinreis toe sy nog ’n jong meisie was. Die volgende oggend is die vroutjie weg en die kondukteur wis van niks. Maar die vroutjie se woorde het vlak in Esterhuizen se geheue gaan lê: “Dis nie jou bagasie wat jy deur jou lewe dra wat tel nie, maar hoe jy saam met jou medemens reis” (p. 138). Ek vermoed Esterhuizen het hierdie wyse woorde ter harte geneem en op haar eie lewe van toepassing gemaak.

Haar invloed op haar medereisigers deur die lewe, spesifiek haar lesers, moet nie onderskat word nie. Geen wonder nie dat toe sy jare later weer haar oudrektor op die ou Jan Smuts-lughawe raakloop hy haar sowaar herken, want “sommige studente vergeet jy nooit” (p. 142).

Op bladsy 170 skryf Esterhuizen vir haar oorlede pa en wil by hom weet of daar sport in die hemel is: “Ek wil die son op my vel voel skyn. Ek wil nie liggaamloos in die hemelruim rondswerf nie. Ek wil nog soms duwweltjies uit my voete haal of my toon stamp.” Sy verwys na haarself: “So, hierdie appel het ’n paar kneusplekke, maar ek het my nooit in ’n boks laat pak nie.” Elize Voges, ’n onthoukind uit haar verlede, het vir haar gesê: “Dit sal maar vir jou neuk om die hekke van die jemel oop te kry” (p. 28).

Esterhuizen skryf nie net graag stories en staaltjies nie. Sy is ook ’n uitstekende amateurfotograaf wat graag kiekies neem. Haar swart-en-wit foto’s maak van Die dag toe ons Krismis gaan soek het ’n pronkstuk. My gunstelingfoto is nie een van dié wat sy self geneem het nie, maar die kiekie wat ook die voorblad versier. Daar is ’n pyltjie wat aandui wie Wini Esterhuizen is – asof enigiemand die skewekop dogtertjie met die knalrooi vlegsels en lewenslustige glimlag kan miskyk! Van ouderwetse kind met ’n liefde vir hoenders tot volwassene wat stories vergader en plekke en mense op kamera verewig is Esterhuizen net een woord – betowerend.

Skaf Die dag toe ons Krismis gaan soek het hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae