Boekresensie: Die De Zalze-moorde

Die-de-zalze-moordeOm hierdie boek te lees is soos om verby ’n grusame ongelukstoneel te ry – mens wil nie regtig kyk nie, maar jy kan egter nie help om te staar nie. Ek kon die boek nie neersit nie en het dit binne ’n paar uur klaar gelees. Die inhoud is uiters ontstellend en beslis nie bedoel vir sensitiewe lesers nie. Die moordtoneel word haarfyn beskryf en selfs van die lykskouings se bevindinge word gedeel.

Dis haas ondenkbaar dat drie lede van die welgestelde Van Breda-gesin in Januarie 2015 met ’n byl doodgekap is in hulle spoghuis in die luukse De Zalze-landgoed in Stellenbosch en ’n vierde lid van die gesin net-net met haar lewe daarvan afgekom het. Marli van Breda se nekslagaar word gedeeltelik afgekap en sy ly ná die voorval aan geheueverlies. Sy kan niks onthou van die grumoorde op haar ouers, Martin en Teresa, en haar broer, Rudi, nie. Die vyfde lid van die gesin, Henri, dus die enigste ooggetuie, is ligweg beseer. Hy beweer dat hy homself teen sy gesin se aanvaller moes verdedig het. Op 13 Junie 2016 gee Henri hom oor by die Stellenbosch-polisiekantoor. Hy is tans besig om sy onskuld in die hof te probeer bewys, aangesien hy van die driedubbele moord verdink woord. Dwelms, jaloesie en geld word genoem as moontlike dryfvere agter die bylmoorde.

Die skrywer, Julian Jansen, ’n bekroonde ondersoekende joernalis, skryf in ’n gemaklike verteltrant waarmee baie lesers sal identifiseer. Ek het nie die idee gekry dat hy die gru onderwerp ligtelik hanteer het of tot goedkoop sensasie wou aanblaas nie. Inteendeel, Jansen blyk uit sy pad uit te gegaan het om soveel moontlike bronne te raadpleeg en verskeie gesaghebbende rolspelers se bevindinge te boekstaaf.

Hy was ook een van die eerste joernaliste op die moordtoneel en kan dus eerstehandse ervaringe weergee. Hy het ’n in-diepte ondersoek na die saak van stapel gestuur en het ook deurentyd aan Rapport verslag gedoen daaroor. Jansen probeer om die agtergrond en menslike aspek rondom dié tragedie te begryp en gesels ook met vriende en familie van die Van Breda’s.

Hy bedank dan ook agter in die boek onder meer die Van Breda-familie “wat my in hulle vertroue geneem het en by verskeie geleenthede brokkies inligting vir publikasie gegee het”.

Die De Zalze-moorde bevat foto’s van die Van Breda-gesin in gelukkiger tye. Daar is ook ’n grafiese voorstelling van die moordtoneel en die posisie van die bloedspatsels, soos gevind op Henri se slaapbroek en sokkies, word gewys.

Uitgewer: NB Uitgewers
Prys: R225,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ’n resensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veritas ·

Klink vir my na nog iemand wat geld uit ander se verlies wil maak. Die saak is tans voor die hof en die uitslag daarvan sou meer gewig aan die boek verleen het. Ek het nie die boek gelees nie en het geen behoefte om dit wel te doen nie want dit klink na ‘n versameling van raaiskote en skinderstories.

Sonja Vorster ·

Boek gelees en ek was teleurgesteld. Ek voel dat Jansen moet gewag het vir die neuroloog se getuienis wat uitgelaat is agv die boek voor selfs die “closing arguments”by drukkers te kry. Belangrike gedeeltes van getuienis uitgelos of ligweg daaroor gespring. Los ver te veel aspekte weg veral as jy be-oog dat die leser tot sy eie “conclusion” moet kom. Meer agtergrond inligting van gesin en beskuldigde sou ook meer gewig gegee het aan boek in my opinie. Ek volg die saak en agv dit was die gapings ooglopend. Die boek se geselstrant was lekker om te lees en ek het die hele tyd gehoop iets meer word in volgende hoofstuk genoem maar ek was teleurgesteld. As ek dit vergelyk met die Don Steenkamp boek skiet jansen ver tekort ongelukkig. Steenkamp se boek was ook gedruk en uitgegee voor die saak voltooi was maar die inligting van vriende en familie en polisie was intressant want dit was nie beskikbaar aan die publiek nie. Hy het die rolspelers goed leer ken en agv dit het hulle baie meer oopgemaak en n binneblik toegelaat aan die leser van wat agter geslote deure gese is en wat nie deur huisgenoot en koerante bekend was nie. Die gevoel van die begrafnis byv het die leser ingebring en deelgemaak van die hartseer van die gemeenskap in Steenkamp te poging.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.