Boekresensie: Die duisend en eerste nag

Die duisend en eerste nag deur François Bloemhof word deur Wenkbrou uitgegee.

Boekwurms is dit eens: Niks is so lekker soos om iewers op te krul met ’n boek wat jou op ’n onvergeetlike verbeeldingreis neem nie. Boeke laat jou toe om uit jou eie werklikheid te ontsnap en deel te word van die wêreld, gebeure en karakters wat ’n vernuftige woordsmid geskep het. Dit is soos om in ’n ander realiteit of realm in te beweeg. Vir my bly dit verstommend dat netjies gerangskikte letters woorde word en woorde word sinne en sinne word stories … en in jou gedagtes word die woorde prentjies en klanke.

Draaiboekskrywers het ’n goeie idee hoe woorde visueel en ouditief lewe kan kry wanneer hulle skrywes omskep word in films wat op die grootdoek gestalte kry. Maar ’n baie talentvolle en geliefde Suid-Afrikaanse skrywer, François Bloemhof, het gepoog om grense te verskuif met sy splinternuwe boek getiteld Die duisend en eerste nag. Daar is gratis aanlyn musiek en video’s beskikbaar waarin lesers hulle kan verlustig terwyl hulle hul in die storie verdiep. Dis een ding om aan grense te wil karring, maar wérk dit, sou mens vra. Lesers is tog gemaklik met die leeservaring wat aan hulle bekend is. Ek voorspel egter dat François met hierdie sonderlinge luister-en-kyk-ervaring lesers na hulle asem sal laat snak en dat hy hiermee ’n standaard stel vir skrywers om na te volg. Hierdie manier van boeklees smokkel met jou kop. Dis soos om deur ’n warrelwind in die lug opgeraap te word en windverwaaid maar tog heelhuids iewers anders neergesit te word.

Herman Swart se tweelingsus sterf onverwags. Hy onttrek hom en vind ’n toevlug in ou films, maar tog bly haar beeld by hom spook. Maar dan gebeur iets skokkends, en Herman verval in ’n koma. Hy is egter bewus van wat om hom aangaan en kan die dokter en sy ouers hoor gesels. Terselfdertyd bevind hy hom in ’n vreemde, surrealistiese wêreld vol magiese avontuur waarin drome, nagmerries, verbeelding, flieks, vervolgverhale, musiek, plekke, karakters en selfs die gotiese saamsmelt.

François skryf in die voorwoord: “Episodiese roman? Onderbroke roman? Al beskou ek hierdie boek as ’n geheel waarvan die onderdele in die meeste gevalle op hulle eie kan staan, gaan ek nie stry as jy dit ’n kortverhaalbundel wil noem nie. Of ’n vervolgverhaal. […] Hoe eggo jy op musikale wyse ’n boek met uiteenlopende temas soos die nag, drome, reise, versoekings, jeugdige waagmoed en weetgierigheid, begeertes en gevaar? Jy sal hoor hoe ek gedink het dit moet! Om dit pretensieus te stel: Dit is vir my goed om dié liedjies vir ontvanklike luisteraars aan die vergetelheid te ontruk.” François het saamgewerk met kreatiewe geeste soos onder andere Jan Blohm, Loraine Stander, Sarah Theron, Johanna van Lill, Riaan Steyn, Louis Henn, Russian Fabjan en Lize-lotte Constandius.

Daar is ook die videokomponent van drie stories wat Rudi Steyn aangepak het. François merk op: “Ek was opgewonde oor hoe die idee van vertakking in die boek tot verdere afdwaal-en-nuwe-rigting-kry in die kortfilms gelei het. […] Rudi se styl het raakpunte met dié van die Italiaanse regisseur Mario Bava, wat veral in die 1960’s opgang gemaak het met sy esoteriese grilprente vol droomlogika. As jy daarom verwag dat hierdie video’s die gewone vertelreëls gaan volg, is jy in die moeilikheid!” Die hoofspelers in die video’s is Carl Ruppert en Fredia Roux.

Ek het Die duisend en eerste nag baie geniet. Lees dit gerus indien jy iets alternatiefs soek om te lees wat jou van nou af anders na boeke sal laat kyk. Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.