Boekresensie: Die Edik van Nantes-kookboek

Die Edik van Nantes-kookboek deur Nataniël en Erik le Roux en word uitgegee deur Human & Rousseau

Dit het gevoel of ek verjaar toe die koerier my kopie van Die Edik van Nantes-kookboek aflewer. Dié lywige sagteband boek van 224 bladsye neem jou op ’n onvergeetlike kosreis na Nantes, Frankryk, saam met die nimlike Nataniël en sy broer, Erik le Roux. Die boek bevat opwindende nuwe resepte en van die lekkerste resepte uit die gelyknamige TV-reeks.

Die Edik van Nantes-kookboek bied aan die leser ’n gastronomiese én visuele fees. Nie net kan jy jou verlustig aan Erik se pragfoto’s nie, maar die talentvolle Clinton Lubbe se fotografie verskyn ook in die boek. Dan is daar ook nog die interessante vertellinge deur beide Nataniël en Erik. Jy verkyk jou aan die argitektoniese wonders van Nantes, beskou die chateau waar Erik en sy gesin woon en beleef selfs ’n yskoue winter saam met hulle. Die resepte is natuurlik van die heel beste, nes mens van hierdie “twee kaalkoppe in swart” sal verwag.

Nataniël skryf: “Kos is die toegang tot onvergeetlike kuiers, duisende kerse, prettige tafels en die genesende, veilige teenwoordigheid van familie en vriende.” Erik het nie ’n spesifieke uitgangspunt of filosofie vir kook nie, maar hy “probeer kook met bestanddele wat ’n naspeurbare, onskadelike en etiese pad gestap het tot in die kombuis.” Vir hom het gemoedsrus ook ’n smaak en is “die grondgetal van die som van ’n dis die bestanddele”.

Die kookboek is ingedeel in vier hoofstukke, nl. plaas, chateau, stad en winter.

Plaas: “Net buite Nantes is die klein tipiese Franse dorpie, Pont St. Martin. Net buite die dorpie is Erik se skoonfamilie se plaas”. Die huis is meer as 300 jaar oud en gemeubileer met geslagte se oorblyfsels. Edik van Nantes 1 is hier verfilm.

Hierdie hoofstuk bevat 26 resepte wat ingedeel is in Entrées (bv. sjampanje-visbredie, brioche met salm en lemoen-en-bokmelkslaai), Plats principaux (bv. artisjokbroodpoeding, sjokolade-kammossels en skaaptjops met pietersielie-sautée), en Desserts (bv. suurlemoen-omelet, Franse aarbei-en-eiertert en sjokolade-okkerneutkoek).

Château: Die Chateau du Breil is “geleë net buite La Haie-Fouassiere, ’n tipiese Franse village (dorpie klink net verkeerd!), ongeveer 25 minute van Nantes se middestad”. Edik van Nantes 2 is hier verfilm.

Hierdie hoofstuk bevat 27 resepte wat ingedeel is in Entrées (bv. kreefstertslaai, aligot met roosterbrood en Franse wortelslaai), Plats principaux (bv. patatpasta, beetburgers, hoender met uie en gruyère), en Desserts (bv. sjokoladekoek, gebak en ongebak, dadelpotjies en choux met crème mousseline).

Stad: “Nantes is ’n Middeleeuse stad … gevul met kunswerke, verstommende permanente installasies deur plaaslike en internasionale kunstenaars (die drywende huis in die rivier is maar net een), die reusemarionette van La Machine en asemrowende mallemeules geïnspireer deur die verhale van Jules Verne”. Edik van Nantes 3 is in en om die stad by familie se huise verfilm.

Hierdie hoofstuk bevat 26 resepte wat ingedeel is in Entrées (bv. pampoen-pekanbroodjies, markdagslaai, vyebrood), Plats principaux (bv. sampioenpakkies, sjampanje-lamskotelette en lamsboud sonder drama), en Desserts (bv. stukkende mascarponetert, nougat in soetwyn en rooskoek).

Winter: ’n Europese winter is “die seisoen van tydlose disse, stomende skottels op vriendelike tafels, vars brode, kaggelvure, outydse speletjies, handwerk, stokperdjies, klassiese rolprente, musiek en talle ander tuisvermaak”. Edik van Nantes Winter is verfilm “tydens Frankryk se koudste winter in dekades”.

Hierdie hoofstuk bevat 28 resepte wat ingedeel is in Entrées (bv. Franse uiesop, eet-met-die-hand-spinasietert op rys en Auvergne-koolpastei), Plats principaux (bv. groentelasagne, hoenderborsies in calvados en biefstukpastei), en Desserts (bv. bourbonkoek, sjokolade-klappertruffels en langpad-gemmerkoekies).

Die agterbladteks som dié besonderse kookboek só op: “Die Edik van Nantes kookboek is … die getuienis van ’n vier-jaar-avontuur, van die vreugde van twee broers en die geskiedenis van ’n familie, ’n portefeulje van fotografie, ’n dossier van kuns en ontwerp, ’n dokument van skoonheid en ’n liefdesbrief aan ’n ongewone stad!”

Dit is die ideale resepteboek vir mense wat daarvan hou om te onthaal en graag fynproewerkos met flair bedien aan uitgesoekte gaste.

Koop die boek by Graffiti Boeke of toonaangewende handelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.