Boekresensie: ‘Die Greyson-probleem volgens Nikita Joubert’

Boekresensie deur Louise Viljoen

(Boek 2 in Anna Emm se Greyson-reeks)

Die oomblik toe ek die opwindende geel omslag van Anna Emm se Die Greyson-probleem volgens Nikita Joubert sien, het ek geweet daar wag ’n groot leesbederf op my. Ek het die eerste boek in die Greyson-reeks, Die Greyson-probleem volgens Amalie Verhoef, sommer baie geniet, en ek het uitgesien na die tweede boek – daar is drie boeke in die reeks. Anna Emm het my weereens nie teleurgestel nie. Boek twee lees soos ’n droom en mens kan nie gou genoeg die bladsye omblaai om te lees wat gaan volgende gebeur nie.

Reeds in die epiloog van die eerste boek maak Anna Emm die leser erg nuuskierig wanneer sy ’n voorsmakie gee van wat in boek twee op die leser wag: “Die meisie loop amper vir Paul onderstebo waar hy ingedagte aangestap kom. Vir ’n oomblik is die twee in mekaar se pad en dan, tot Fiona se verbasing, lig die meisie albei haar hande en stamp vir Paul hard teen sy bors uit die pad uit!”

Anna Emm ken die kuns van liefdesverhale skryf en sy ken haar lesers se onversadigbare leesdrang na tone-omkrul-romantiek. Voeg daarby haar hope skryftalent en weergalose verbeelding en jy het die resep vir ’n suksesverhaal soos min. Anna Emm se liefdesverhale is modern en skoon, haar skryfstyl gemaklik en vinnig. Haar karakters is eg menslik, bang vir seerkry en hulle maak foute soos die res van ons.

Dis egter die manier waarop Anna Emm die ontluikende romanse tussen haar hoofkarakters beskryf wat haar verhale so uiters gewild maak. Van die aanvanklike aantrekkingskrag tot die eerste aardskuddende soen – Anna Emm laat die leser voel asof die held háár beetkry en bo-op die fotostaatmasjien tel terwyl hy haar soen dat haar ore tuit. Sy raak heerlik saam met die heldin op die held verlief en ervaar elke fladdering van dié se hart wanneer die held in die nabyheid is.

In Die Greyson-probleem volgens Nikita Joubert vertel Anna Emm die verhaal uit beide Paul, suksesvolle portefeuljebestuurder van die Greyson-sakeryk, renjaer en renmotor-entoesias, en Nikita, die projekbestuur wat sy oudste broer, Neil, se troue met Amalie Verhoef reël. Die leser het dus insae in dit wat in Paul én Nikita se koppe en harte aangaan. Dit maak die storie soveel interessanter, want mens besef waar die misverstand inkruip wat amper Paul en Nikita se liefdesbootjie sink nog voordat dit behoorlik kans gekry het om te vaar.

My gunstelingdeel in Die Greyson-probleem volgens Nikita Joubert is waar Paul terugdink aan sy eerste ontmoeting met Nikita. Anna Emm beskryf dit só mooi: “Ons oë het ontmoet en dit was asof glas breek in my kop. Asof die aarde en alles rondom my skielik gaan stilstaan. Soos ’n vuishou in my maag was dit die eerste keer toe ek vir Nikita Joubert gesien het.”

Later in die boek dink Paul: “Niks in my lewe het nog ooit so reg gevoel nie. Hoe meer ek van haar kry, hoe meer wil ek hê. Ek gee nie om wat ek alles moet prysgee nie, ek wil net by haar wees. Ek wil elke oggend saam met haar wakker word, elke aand met haar in my arms gaan slaap.” Nou kyk, dames, as dít nie ongelooflik romanties is nie, dan weet ek nie!

Nikita onthou haar en Paul se eerste ontmoeting só: “Hy het uit die hysbak gekom en ek het uit die kantoor gestorm, ons het inmekaar vasgeloop en ek het opgekyk. En dit was dit. Dit was die oomblik toe ek geval het vir Paul Greyson. Met alles in my het ek baklei teen die aangetrokkenheid tussen ons, want ek het geweet as ek ingee, gaan iemand seerkry.”

Later gebeur die volgende: “En die oomblik toe ons lippe raak, voel ek hoe my lyf lig word, wárm, gelukkig. Dit voel asof ek jare lank yskoud was, sonder om dit te weet, en of sy mond die hitte onder my vel aanblaas.” Omstandighede laat Nikita egter nie toe om net aan haarself te dink nie. “Alles aan hom is ’n risiko wat ek nie meer kan bekostig nie.”

Anna Emm bring die spoedgevulde wêreld van ’n petrolkop en renjaer na haar lesers toe. Saam met Paul ry ons in ’n Dodge Challenger, ’n Aston Martin, ’n Mustang, en jaag ons met ’n Porsche om die baan by Killarney. Paul was as kleuter saam met sy ouers in die motor toe hulle verongeluk het. Hy en sy twee boeties, Neil en Charlie, is deur die Greyson-egpaar aangeneem. Sielkundiges reken Paul het iets oorgehou ná die ongeluk en dat dit die rede is vir sy voorliefde vir spoed en motors. Hy hou daarvan om in beheer te wees, want “mens crash net as jy nie weet wat jy doen nie.” Wanneer ’n amper-tragedie hom en Nikita byna uitmekaar dryf, besef hy: “Ek is gevaarlik. Ek crash mense.” Hy belowe egter: “Ek sal verander, Nikita. Ek sal beter doen, léér. Gee my ’n kans …”

Jy sal nie spyt wees indien jy Die Greyson-probleem volgens Nikita Joubert aanskaf en lees nie. Die karakters is onvergeetlik en bly jou by lank nadat jy die boek neergesit het. Ek kan nie wag vir boek drie nie! Dankie tog vir skrywers soos Anna Emm wat die hart van ’n vrou verstaan …

Die skrywer: Anna Emm is ’n suksesvolle skrywer en entrepreneur. Haar maatskappy, Anna Emm (Edms) Bpk, is ondermeer die grootste vervaardiger van Afrikaanse kinderstories in die land. Bestel Anna Emm se Greyson-reeks by www.annaemm.co.za

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.