Boekresensie: Die Ickabog

Die Ickabog deur J.K. Rowling word deur Lapa Uitgewers in samewerking met Hachette UK uitgegee.

Ek het sommer baie lekker aan hierdie splinternuwe sprokie uit die pen van een van die wêreld se voorste storievertellers gelees. (Daar het meer as 500 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop van J.K. Rowling se supergewilde Harry Potter-reeks wat in meer as 80 tale vertaal is. Agt trefferflieks daaroor het ook op die silwerdoek verskyn. Dan noem ek nie eens die Harry Potter-parafernalia wat wêreldwyd te koop aangebied word nie!)

Die Ickabog se hoofstukke het tydens die Covid-19-pandemie gratis aanlyn begin verskyn. Rowling het reeds tussen die skryf van die Harry Potter boeke (1997–2007) deur daaraan begin werk maar dit nooit tóé voltooi nie. Kinders tussen 7 en 12 kon hulle illustrasies instuur en die kans staan dat hulle werk gekies word om in die gedrukte boek te verskyn.

Bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys het die storie in pragtige Afrikaans vertaal. Die Afrikaanse vertaling beslaan 240 bladsye en bevat die kleurryke illustrasies deur die wenners van Die Ickabog-illustrasiekompetisie. Die boek is geskik vir kinders 9 jaar en ouer, maar volwassenes sal dit ook baie geniet.

Die volgende uitdaging verskyn op die agterblad: “As jy dapper genoeg is, lees hierdie boek en raak verlore in ’n asemrowende nuwe sprokie oor die mag van die waarheid, hoop en vriendskap om alles te oorkom …” Rowling, wat die uiteindelik voltooiing van Die Ickabog beskryf as een van die bevredigendste ervarings van haar skryfloopbaan, vra in die Voorwoord: “Hoekom glo mense leuens, selfs al is dit gebaseer op beswaarlik enige of glad geen bewyse nie?” “Leuens op leuens op leuens. Wanneer jy eers begin lieg, moet jy daarmee aanhou; dis soos om die kaptein van ’n lekkende skip te wees wat gedurig nóg gate in die romp moet toestop om te keer dat jy sink” (246). Die leser wonder heeltyd of die leuenaars ooit uitgevang sal word en sal boet vir hulle dade.

Die Ickabog handel oor ’n voorspoedige en gelukkige koninkryk genaamd Kornukopië wat stadig maar seker te gronde gaan nadat die mite van die Ickabog ’n lewe van sy eie kry wat deur leuens tot iets skrikwekkends opgeblaas word – soveel so dat ’n verarmende Ickabog-belasting ingestel moet word om die koninkryk te beskerm teen die dierasie. Die teks, wat deels in die verlede tyd en deels in die teenwoordige tyd geskryf is, het daartoe bygedra dat ek die verteller as heerlik outentiek ervaar het en dit het die sprokieselement van die storie vir my suksesvol uitgelig. Rowling noem dan ook in die Voorwoord dat sy die oorspronklike onvoltooide hoofstukke aan haar jongste kinders voorgelees het toe hulle nog klein was. Haar vertelstem is deurentyd merkbaar in die teks, en sy betrek haar leser byvoorbeeld met vrae wat sy self antwoord of die kind mee lei om self verder te dink.

Subtemas soos verraad, leuens, bedrog, hebsug, magsug, verlies, uitbuiting, onderdrukking, breinspoeling, ens. word gestel teenoor byvoorbeeld vriendskap, lojaliteit, goedhartigheid en selfs ’n skeutjie romanse. Daar is swaarkry en armoede, maar ook rykdom en voorspoed. Dit mag klink na baie swaar temas om in ’n kinderboek te gebruik, maar soos in alle sprokies wat hulle sout werd is, oorwin die goeie altyd die bose en werk alles wel ten goede uit, veral vir diegene wie se bedoelings opreg en suiwer is en wie se harte mooi is. Uiteindelik gaan dit oor die menslike gees wat sterk genoeg is om bittere uitdagings te oorkom. Ook dat die waarheid altyd seëvier.

Kyk net hoe treffend beskryf Rowling die koue winter sodat jong kinders presies kan weet hóé koud dit werklik was: “Hulle dun, gelapte klere en geskeurde komberse het niks teen die vriesende lug beteken nie; dit was soos klein wolfies met vlymskerp tande wat hulle oral gebyt het” (219). Rowling se wêreldbou is ook uitstekend. Daar is meer as genoeg herkenbare elemente waarmee kinders met gemak kan identifiseer, tog verleen plekname soos Stad-in-die-Stad, Suiwelstad, Chouxville, Moerasland en Baronsburg daardie tikkie misterie waarvan kinders so baie hou.

O, en watter kind hou dan nou nie van lekkernye nie?! Vir die rykes van Kornukopië is daar eetgoed soos Hemelhartjies, Dagdroompies, Feetjievlerkies, Hertoghappies en Troeteltertjies wat so lekker is dat die eter se oë vol trane skiet met die eerste hap daarvan. Dan praat ons nie eens van die verruklike kase, vleis en wyn nie! In teenstelling hiermee is daar die afgewaterde vrotkoolsop waarmee kinders in die weeshuis tevrede moet wees. Die lewe is voorwaar nie regverdig nie, en daar is ’n allemintige groot gaping tussen ryk en arm!

Die karakters se verbeeldingryke en eweneens beskrywende name – o.a. Koning Fred die Vreeslose, manskap Knoppie Knopie, lord Spoegmann, lord Flapmann, majoor Rommel, professor Foppenfnuik, kaptein Goedaard, Ma Grommer, slagter Vaatjie Filett, Pester die lakei, Org Skarrel die huiskneg,en Paul Boelie – verleen verdere luister aan die storie.

Volwasse lesers sal vind dat Die Ickabog onderstrominge het wat ’n kind nie noodwendig sal optel nie. Dit lewer byvoorbeeld kommentaar oor leiers wat nie in voeling is met die leefwêreld van die man op straat nie, die invloed wat sogenaamde “raadgewers” op leiers het, die instel van belasting(s) wat die werkerskorps se rûe breek, die verkwisting van belastinggeld, die verwronge idee wat politici koester dat die gepeupel in húlle diens is, die enorme bedrae wat net tussen neus en ore verdwyn en geen haan daaroor kraai nie, die propaganda en wette wat ingestel word om mense op hulle “plek” te hou, ens. Dis ’n boek met vele lae en ’n mens staan verstom oor wat jy alles tussen die lyne ontdek wanneer jy durf dieper kyk. Die Ickabog is ’n sprokie, maar dis ook baie meer.

Skaf Die Ickabog hier aan.

Hier is die reaksies van die illustreerders wat vir die eerste keer hulle werk in Die Ickabog sien:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.