Boekresensie: Die net is gebreek

Die net is gebreek deur prof Chris van der Merwe word uitgegee deur Luca.

Die Covid-19-pandemie het wêreldwyd ellende veroorsaak, nie net vir lande se ekonomieë nie, maar ook vir talle individue wie se lewens erg ontwrig is deur die katastrofe.

Baie mense se eens blink toekomsplanne is liederlik in die wiele gery. Baie van ons het geliefdes aan die dood afgestaan, was dalk self baie siek, het ons inkomste verloor of ons ondernemings moes sluit. Gevange in ’n net van ellende, moet talle van ons nou opnuut bestek van ons lewens neem en sin probeer maak oor die pad vorentoe. Ons het skielik besef dat ons lewens oornag in ’n nagmerrie gedompel kan word; dat alles waarop ons steun en roem, opeens kan wegval. Baie van ons het weer besef hoe afhanklik ons eintlik van God is.

Hierdie boek is geskryf vir mense wat nie net as gevolg van die pandemie nie, maar ook weens ander uitdagings en probleme wat oor hulle pad gekom het, weer moet opstaan en aangaan. Gelukkig het Christene die hoop en versekering dat krisisse wel tot innerlike groei en verryking kan lei. Die Estlandse komponis Arvo Pärt het glo, nadat hy om kommentaar genader is oor die pandemie, onder meer geantwoord: “Daar kan betekenis wees in ’n tyd van teenspoed en ’n nuwe pad kan uit die doodloopstraat lei.”

Van der Merwe haal aan en brei uit op Psalm 124:7: “Ons, net soos ’n voël het ons ontvlug uit die net van voëlvangers: Die net is gebreek en ons, ons het ontvlug” (2020-vertaling). Daar is altyd hoop!

Die subtitel van Die net is gebreek is: Gebed, die weg na vrede en vervulling. Die outeur stel nederigheid teenoor hoogmoed en wys daarop die moderne mens, ten spyte van al sy prestasies, die betekenis van die lewe verloor het en dat ons deur ons eie natuur gekortwiek word (6). “Teenspoed is ’n net wat ons nie kan ignoreer nie, maar van die vangnet van die sonde is baie mense nie bewus nie. Dit is veral hoogmoed wat ’n geestelike vangnet is, wat skeiding bring tussen die mens en God en die gesprek met God laat stil word” (3). Eers wanneer ons in opregte nederigheid ons totale afhanklikheid aan God bely en tot Hom nader in gebed, sal ons ’n gesonde gebedslewe smaak en sodoende vervul word met lof en aanbidding in God se teenwoordigheid. Danksy Jesus kan ons in vrymoedigheid tot God nader, want Hy het die skuld van die mensdom aan die kruis betaal.

Die net is gebreek beslaan 172 bladsye. Dit bestaan uit twee afdelings getiteld “Nederigheid” (tien hoofstukke) en “Gebed” (vyftien hoofstukke). Van der Merwe hou die bekende Onse Vader-gebed voor as gebedsmodel. Hy skryf ook gesaghebbend oor verskeie gebedskwessies soos onder meer voorbidding en gebedsverhoring asook gebed in tye van leegheid. Die teks is Skrifgefundeerd met genoegsame aanhalings en verwysings na eksterne bronne, soos byvoorbeeld die uitlig van enkele versreëls uit ’n N.P. van Wyk Louw-gedig (“Ex unguine leonem” uit Tristia). Die outeur se skryfstyl is gemaklik en vloeiend. Jeanette Ferreira het die redigering behartig en Ian Dennewill het gesorg vir die mooi voorblad.

Ek het Die net is gebreek waardevolle, leersame en beslis relevante leesstof gevind.

Meer oor die outeur: Chris van der Merwe het in 2009 afgetree as professor in Afrikaans en Nederlands. Die Universiteit van Kaapstad het emiritusstatus aan hom toegeken. Daar het al talle artikels in Afrikaans, Engels en Nederlands uit sy pen verskyn en hy was ook die skrywer, medeskrywer en redakteur van sewentien boeke.

Skaf gerus jou kopie van Die net is gebreek by toonaangewende boekhandelaars aan of bestel dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.