Boekresensie: Die nuwe Afrikaanse Prosaboek

Kortverhaalbundels het die afgelope paar jaar heelwat aandag getrek én is hoë lof toegeswaai – dink maar aan Nicol Jaekel Strauss se Maal (2011) wat nie net die Eugène Marais-prys en die Universiteit van Johannesburg-prys vir beste skeppende debuutwerk verwerf het nie, maar ook op die kortlys was van die Jan Rabie Rapport-prys vir vernuwende prosa, en SJ Naudé se Alfabet van die voëls (2011) wat die volgende jaar die Jan Rabie Rapport-prys en die Universiteit van Johannesburg se debuutprys verower het en boonop die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning (Sala) vir beste Afrikaanse debuutwerk. Jaekel Strauss het met haar tweede bundel kortverhale, As in die mond, in 2018 Sala se Nadine Gordimer-kortverhaalprys verower.

Moontlik is dit op grond van die aandag wat die kortverhaal as genre geniet dat Sonja Loots en Steward van Wyk besluit het om ʼn bloemlesing saam te stel wat hulle noem Die nuwe Afrikaanse prosaboek – ʼn lywige boek van net meer as 670 bladsye en met iets soos 150 “prosas”, soos wat Jan Rabie na sy kortverhale verwys het.

Dié Rabie-verwysing wat in Loots en Van Wyk se voorwoord taamlik sentraal staan, hou verband met 21, Rabie se bundel van 1956, ʼn bundel wat tot ʼn groot mate die matrys vir Die nuwe Afrikaanse prosaboek word.

Elk van die nege afdelings word ingelei deur ʼn Rabie-kortverhaal wat as ʼn soort suggestie dien vir die groepering van kortverhale deur skrywers jonger as Rabie (1920-2001) losweg daarom heen.

Van Abraham H de Vries wie se eerste bundel kortverhale, Hoog teen die heuningkrans, soos dié van Rabie in 1956 verskyn het, en wat deur die jare ʼn beduidende bydrae tot die genre gelewer het, is drie kortverhale ingesluit teenoor die nege van Nataniël en tien van Nathan Trantraal. Van Hennie Aucamp is daar een verhaal. Van Dana Snyman sewe en van Petra Muller 14.

Oor die kriterium vir insluiting sê die samestellers in die voorwoord: “Ons wou veral die keuse verteenwoordigend maak van verskeidenheid, met spesifieke aandag aan genoeg ruimte vir die voorheen gemarginaliseerde posisie van vroue, diere, gaywees, orale tradisies en omgangsvariante van Afrikaans.”

Met dié kaarte op die tafel en die “nuwe” in die bloemlesingtitel as rigtingwyser het die samestellers as rangskikkers van die blomme tot hul beskikking as’t ware carte blanche om na willekeur in én uit te sluit. Die fokus is derhalwe nie “verteenwoordend” of “historiese verloop” nie, maar eerder die nuwe/ander voorkoms wat uit die samestelling wat dié gerf blomme spruit. So kan ʼn mens ook die samestellers “kurators” noem wat ʼn “uitstalling” saamstel uit bestaande kunswerke met die oog op nuwe betekenisse wat uit aanvulling en/of teenoorstelling tot stand kan kom. Dié spesifieke samestelling beïnvloed ook of torring of knaag aan die betekenis van die omliggende kortverhale.

Die bloemlesing kan ewenwel van voor na agter maar eweso van agter na voor gelees word. Of jy kan die boek gewoon oopslaan en begin lees. Die samestelling bied leidrade wat jy kan volg of laat vaar.

Wat die samestellers met dié sowat 150 verhale die leser wil bied, is ʼn oorsig van neigings in die Afrikaanse kortverhaal aan die hand van eietydse sosiale problematiek. Dié “verpakking” sluit op sy beurt in langer verhale soos “Die slagwerker” en “Die vrou wat haar verkyker vergeet het” van Marlene van Niekerk maar ook ʼn verhaal soos “Rubber” van Nataniël van skaars een bladsy. Daarby is daar verhale wat ʼn foto as vertrekpunt of verwysing gebruik, soos dié van Dana Snyman.

Verrassings is daar volop in Die nuwe Afrikaanse prosaboek. Sonder om die pret te bederf is daar byvoorbeeld vertalings van twee verhale van Jolyn Phillips, “Lelik” en “Senna se krieklied”, wat oorspronklik verskyn het in Tjieng Tjang Tjerries and Other Stories.

Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk word deur Human & Rousseau uitgegee. Die boek kos R315.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.