Boekresensie: Die nuwe Afrikaanse prosaboek

Die nuwe Afrikaanse prosaboek, ’n dik sagtebandboek van 672 bladsye, bevat ’n indrukwekkende versameling van 149 Afrikaanse kortverhale deur 58 skrywers. Liefhebbers van kortverhale sal verheug wees oor die groot verskeidenheid verhale wat in die bundel verskyn. Klassieke verhale deur immergewilde skrywers asook voorheen ongepubliseerde verhale deur vyftien talentvolle nuwe stemme kry hulle lê knus langs mekaar. Jan Rabie, die skrywer wat in die laat 50’s opspraak verwek het met sy ‘prosas’ wat dikwels absurde, filosofiese en politieke ondertone bevat het, se werk dien (volgens die uitgewersbrief) as inspirasie en invalshoek vir die bloemlesing.

Die prosaboek is opgedeel in nege dele. Elke hoofstuk spring weg met ’n Jan Rabie-verhaal en word dan opgevolg deur spesiaal gekeurde kortverhale uit skrywers soos Breyten Breytenbach, T.T. Cloete, Abraham H. De Vries, Audrey Blignault, Etienne van Heerden, Elsa Joubert, Nataniël, Rachelle Greeff. Jeanne Goosen, Riana Scheepers, Dana Snyman, Herman Lategan, Nathan Trantraal, Alexander Strachan en Marlene van Niekerk se pen.

Helena Gunter, wat die Eugène Marais-prys in 2008 ontvang het vir haar kortverhaalbundel Op ’n plaas in Afrika, noem in ’n onderhoud op Litnet dat die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei vir haar die volgende is: “‘n Kortverhaal het gedrongenheid, dit fokus skerper op ’n enkele (maar nie simplistiese nie) aspek. Ek hou van ’n kortverhaal wat deur die gegewe (karakters, milieu, situasie, emosie, dramatiese verloop) ’n argument voer wat tot ’n slotsom (dikwels in die kop van die leser eers) lei.” Lesers wat die kortverhaalkuns waardeer sal dan ook hierdie eienskappe vind in die verhale vervat in Die nuwe Afrikaanse prosaboek.

In “Moeder Koei” (151) trek Rabie (1920–2001) se puik karakterisering in die openingsin my aandag: “Paul Roux was ’n krombeen-boertjie wat sy twee lieters [sic] wyn per dag gedrink en sy lande en vrou met strenge reëlmatigheid vir hul jaarlikse oeste geploeg het.” Die naderende oorlogsgeweld beroof die boer van sy sinne en hy vind vir vyf jaar lank vertroosting en skuiling in die stal by een van sy koeie. Ná Hitler se dood en die vredesluiting, is hy wonderbaarlik weer by sy positiewe en kom hy ook “sy verpligtinge teenoor sy vrou en sy lande weer naarstig na” (152). Die ironiese slotsin is noemenswaardig: “Ons kan die Jersey verkoop, die bruine wat in my oë geskyt het.”

Die openingsinne van Nathan Trantraal se “Black Monday” (vi Valencia Farmer) (673) is eweneens kragtig en lui só: “Oppe Maandag maak ek Sondag se koerant oep en sien daa die anne wit rock musician se hond het doodgegaan. Ek maak Facebook oep en sien daa die mense stuur ammel hulle condolences virrie hond se owner.” Die karakter wonder: “Hoekom extend ’n wit man se privilege na sy hond oek toe?” “Ammel wiet all dogs go to heaven. Maar as een van ôse kinders vi haa inne … rondloepbullet vasloep … dan moet ôs sit en wonne waa sy gan op einde.” Dan die ironiese slotsin wat hárd slaan: “Ôse laities word mos getry as adults.”

Bogenoemde twee verhale het vir my in besonder uitgestaan nie net vir die sosiale kommentaar wat tussen die reëls gelewer word nie, maar ook omdat dit vir my die ryke verskeidenheid wat die bundel bied, so duidelik ten toon stel.

Meer oor die samestellers:

Sonja Loots en Steward van Wyk doseer albei – Loots aan die Universiteit van Kaapstad en Van Wyk aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Die nuwe Afrikaanse prosaboek word deur Human & Rousseau uitgegee. Skaf die boek gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Lekkerlees-woorde wat soet op die woordpalet val bring hoop dat ware goeie skryfwerk, nie maklik sal uitsterf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.