Boekresensie: Die opstand van Poppie Nel

Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Hierdie boek skop soos ’n muil. Nes Christine Barkhuizen-Le Roux se My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, bring dit die gruwel van seksuele kindermisbruik hard en duidelik tuis by die leser.

Diaken Gawie Galant ken Poppie Nel se storie goed. “Ek en haar broer Markus is al maats vandat ons in graad drie was, en wat ek nie self van sy suster weet nie, het Markus my oor die jare so bietjie-bietjie vertel (p. 9). “Sy het hulp nodig, bitter, bitter nodig. Werk saggies met haar, sy sukkel nou al lank met die teenswoordige wêreld, ’n wêreld wat ek self nie mooi verstaan nie, al is ek en jy deel daarvan. Sy moet dit nog ontdek en alleen is dit vir haar te swaar” (p. 11). Ds. Lukas Lucas stem teensinnig in om na Poppie se storie te luister, al verstaan hy as gevolg van sy eie verlies ook maar nie die teenswoordige wêreld nie.

Poppie vertel deur die loop van die boek aan ds. Lukas die aangrypende verhaal van hoe sy oor etlike jare heen, sedert sy ’n klein dogtertjie was, deur die gesin se pastoor – nogal met die Bybel onder die een arm én boonop reg onder haar ouers se neuse – seksueel voorberei en later herhaalde kere misbruik is. Die pastoor se houvas is só sterk dat Poppie selfs as volwassene nog in sy mag verkeer, want hy oortuig haar dat alles wat tussen hulle gebeur die wil van God is soos wat dit deur boodskappe direk van die hemel af aan hom geopenbaar is. Die enigste persoon wat oënskynlik deur die pastoor se geveinsdheid sien, is haar jonger broer, Markus.

Toe Poppie op bladsy 48 uitvind dat Lukas ’n predikant is, reageer sy só: “Predikant?” Asof dit ’n vloekwoord is. “Ek is klaar met kerk en ek wil nie ’n preek hê nie. … Van kerk en van Bybeltekste en van lieg het ek in my lewe genoeg gehad.” Sy reken dat godsdiens mense mal maak. Maar Lukas korrigeer haar dadelik. “Nee, dis mense wat die godsdiens mal maak omdat die grens tussen preek en laster soms so fyn soos die spindraad van die van die kleinste spinnekoppie is (p. 49).

Ek het, ten spyte van die sterk tema wat seksuele misbruik uitlig, glad nie Die opstand van Poppie Nel as grafies of sensasioneel ervaar nie. Die skrywer slaag daarin om die leser se fokus te hou op Poppie se wroeging en uiteindelike genesing. Poppie onderneem op bladsy 26 die volgende: “Ek sal iemand word” en ook “Ek as ’n niemand en ’n niks, as ’n flop, ’n teleurstelling, sal opstaan. Ek sal verander in iets moois, maar opstaan beteken uitpraat, oopmaak.” En dis presies wat sy doen. Sy praat en Lukas luister. Later verklaar sy dan ook: “Noudat die woorde uit my donker mond in die lig is, voel dit asof die vloek verbreek is. Ek het vlerke gekry (p. 219).

Ek het Die opstand van Poppie Nel in ’n middag klaargelees, want ek kon en wou die boek nie neersit nie. Dit is nie ligte vermaak nie, maar soms is dit nodig dat ’n mens so bietjie uit jou gemaksone lees. Die seksuele misbruik van kinders neem wêreldwyd astronomies toe. Hoe meer ons daaroor lees en praat, hoe groter is die bewustheid dat dit met enige kind kan gebeur en hoe meer waaksaam kan ons wees.

Meer oor die skrywer:

Professor Hans du Plessis is ’n bekende en geliefde taalkundige wat hom as digter, prosaïs en dramaturg onderskei het. Sy vorige publikasies sluit in Drie vroue en ’n meisie, Tussen die klippe en Karos orie dyne.

Skaf Die opstand van Poppie Nel gerus hier aan. Dit is ’n séér storie, maar dit is ook ’n dapper storie van hoop en oorbegin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.