Boekresensie: Die Smooie en die Smoue

Die Smooie en die Smoue deur Julia Donaldson en geïllustreer deur Axel Scheffler word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Ek is sommer hoogs beïndruk met hierdie lieflike, verbeeldingryke kinderboek wat puik vertaal is deur die immergewilde Jaco Jacobs. Jacobs het met sy fyn aanvoeling vir woorde wat kinders fassineer, die oorspronklike teks sprankelend in Afrikaans weergegee. Hy gebruik lekkersê woorde soos “morrelborrelmeer”, “hoggelboggelbult” en “glompoffels”.

Twee jong ruimtewesens, een ’n Smooi genaamd Fleur en die ander ’n Smou genaamd Fanie, raak dolverlief en wil trou ten spyte daarvan dat Smooie en Smoue glad nie maats mag wees nie. Hulle families is dadelik teen Fleur en Fanie se saamwees gekant en waarsku die een teen die ander. Smooie lyk anders as Smoue en hulle doen sekere dinge anders, en vice versa. Maar ai tog, Fleur en Fanie gee nie om oor hoe die ander een lyk of hoe hulle manier van dinge doen verskil nie. Hulle wil net bymekaar wees.

Op ’n dag vlieg die paartjie saam weg na ’n ander planeet. Die Smooie en die Smoue moet nou na hulle soek en beleef vele avonture saam op verskeie planete in die buitenste ruim. Die einde is natuurlik ’n heerlike en bevredigende verrassing, net soos ’n jong lesertjie daarvan sal hou.

Hierdie baie kleurvolle prenteboek van 32 bladsye het ’n hardeband omslag en is in ’n lekker groot formaat (250 mm x 280 mm) wat sorg dat kinderogies en -handjies maksimaal daarby baat kan vind. Die illustrasies is besonder kleurvol en kreatief. Daar is baie moeite gedoen om die milieu en agtergrond heerlik ánders maar steeds herkenbaar te maak. Die bome is byvoorbeeld blou, diertjies soos slakke het nie doppe nie, en die Smoue dra sulke weglê-puntskoene. Die fantasiewêreld en -wesentjies word treffend uitgebeeld deur steierlopers, langneushusse en Rompse wat nogal verbasend baie lyk na iets tussen ’n trol en ’n olifant. Kinders sal hulle daarin verlustig om na die besige prentjies te kyk.

Die teks, in prettige rym, het my sommer baie lekker laat lag en ek kon nie wag om te lees wat verder gebeur nie.

Hier is ’n uittreksel:

Fleur, soos ’n ware Smooi, is rooi
en gereeld pleit haar oupa baie mooi:

“Luister vir my, pasop vir ’n Smou.
Hulle slaap snags in gate wat hulle self grou.
Hulle dra snaakse skoene, hulle spring hulle flou.
Luister vir my, pasop vir ’n Smou.”

Hierdie kinderboek bied ’n onvergeetlike leesbelewenis wat kinders sommer baie sal geniet. Die subtiele les dat ons soms vooroordele teenoor ander koester omdat ons hulle net nie regtig ken nie, word slim in die storie verweef en nie in die lesertjie se keel afgedruk nie.

Die Smooie en die Smoue is oorspronklik uitgegee as The Smeds and The Smoos en uitgegee deur Alison Green Books. Rentia Bartlett-Möhl en Anzette Williams is die redakteurs van die weergawe in Afrikaans. Kinders tussen 3 en 8 jaar oud behoort mal te wees oor hierdie unieke storieboek.

Kry gerus jou kopie van Die Smooi en die Smoue hier, of skaf dit aan by jou naaste toonaangewende boekwinkel.

  • Donaldson en Scheffler is die blitsverkoper skrywer-illustreerder-span wat onder meer Die goorgomgaai en Die goorgomgaatjie aan die wêreld gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.