Boekresensie: Die stoutste klas op aarde-reeks

Die baie gewilde Die stoutste klas op aarde-reeks deur Joanna Nadin, word deur Human & Rousseau uitgegee. Riken Parekh het gesorg vir die skreeusnaakse illustrasies en Kobus Geldenhuys was verantwoordelik vir die puik vertaling in Afrikaans.

Kinders tussen ses en nege jaar oud, wat hulle eerste hoofstukboeke begin lees, sal hulle behoorlik verkneukel in hierdie humoristiese boeke wat nogal sterk herinner aan die blitsverkoperskrywers David Walliams (Die aardigste kinders op aarde-reeks) en Dav Pilkey (Hondman-reeks) se werk.

Elke boek bevat twee lag-tot-jou-maag-pyn stories. Die kreatiewe bladuitleg behoort selfs trae lesers se aandag te trek. Die gerieflike skrifformaat en sekere vetgedrukte sleutelwoorde wat uitgelig word, werk goed saam met die illustrasies. Elke boek beslaan 160 bladsye en het ’n fotogalery waar die kleurvolle karakters bekend gestel word.

Ek het baie lekker aan hierdie reeks gelees waarvan ene Alex en Manjit die hoofkarakters is. Daar is nie ’n vervelige oomblik in hierdie stories nie. En al speel dit nie in Suid-Afrika af nie, is daar meer as genoeg komiese universele raakpunte dat Suid-Afrikanertjies hulle in die boeke sal verlustig.

The Worst Class in the World en The Worst Class in the World Gets Worse is oorspronklik uitgegee deur Bloomsbury Publishing Plc. In Afrikaans is die titels Die stoutste klas op aarde en Die stoutste klas op aarde word stouter.

Die stoutste klas op aarde

Die twee opwindende stories in hierdie boek se titels is Die koekiekoning en Wys-en-vertel. Heel agter in die boek is ’n lys met 50 van mev. Brombom-Bredeboud se reëls. Reël 50 is “Lamlendig wees verbode.” Daar is ’n vraelys wat lesertjies kan invul om te bepaal of hulle dalk by Die stoutste klas op aarde hoort. Nóg ’n vraelys wys watter karakter hulle beste vriend sal wees. Die waarskuwing op die agterblad lui: “Bevat papnat skoene, ’n hamstergeraamte en baie NAAR WORD!”

Uittreksel: Ek weet ons is die STOUTSTE KLAS OP AARDE omdat mev. Brombom-Bredeboud (ons skoolhoof, wat ’n geluid soos ’n perd maak wanneer sy kwaad is, en dis dikwels) ons onderwyser altyd uit gang toe neem en sê: “Mnr. Abdoo, ek het al met baie vrot eiers te doen gehad, maar 4B is LETTERLIK die STOUTSTE KLAS OP AARDE” (ble. 1-3).

Die stoutste klas op aarde word stouter

Die twee opwindende stories in hierdie boek se titels is Die speelgrondmonitors en Die skooluitstappie. Heel agter in hierdie boek is ’n lys met 100 van mev. Brombom-Bredeboud se reëls. Reël 96 is “Wind tydens saal opbreek verbode.” Daar is ook ’n vraelys wat lesertjies kan invul om te bepaal of hulle dalk by Die stoutste klas op aarde hoort. Die waarskuwing op die agterblad lui: “Bevat verstopte toilette, visvinger-en-pekelbroodjies en pikkewynbollie!”

Uittreksel: En toe verbied sy ons om weer speelgrondmonitors te wees en sit ons op verfbotteltjie-skoonmaakdiens en sê as ons nie ophou met ons bog nie, gaan ons verfbotteltjies regpak TOT DIE PERDE EENDAG HORINGS KRY. Sover ons weet, kry perde nie horings nie, so dit klink of daai eendag baie, baie ver weg is” (62).

Meer oor die skrywer: Die bekroonde skrywer Joanna Nadin het ‘n doktorsgraad in literatuur vir jong volwassenes. Sy is werksaam as ‘n lektor in kreatiewe skryfkunde by Bath Spa Universiteit en Bloomsbury. Sy was voorheen ’n raadgewer vir die eerste minister van die Verenigde Koninkryk. Meer as 80 boeke het al uit haar pen verskyn.

Die stoutste klas op aarde-reeks is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels. Koop dit ook hier: Die stoutste klas op aarde en Die stoutste klas op aarde word stouter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.