Boekresensie: Die Toeligtingsbybel

Christelike Uitgewers Maatskappy (CUM) publiseer Die Toeligtingsbybel – ’n verheldering van die NLV-Bybelteks deur die omskrywing van woorde en frases om dit vir hedendaagse lesers maklik verstaanbaar te maak. Elke Bybel beslaan 1 504 bladsye, is goud- of silwergerand en het ’n merklint en duimgrepe. Die kunsleeromslae wissel in kleure van blougroen, donkerbruin, salm en bruin.

Die Toeligtingsbybel gee die Skrif getrou in hedendaagse spreektaal weer sodat dit lesersvriendelik en toeganklik is. Volgens die uitgewersbrief bevat dit die volledige teks van die vertroude Nuwe Lewende Vertaling, en verhelder woordkeuses en definisies, teologiese begrippe, historiese konteks en geografiese inligting deur verduidelikings in hakies. Ek het gevind dat hierdie toeligtende verduidelikings en ook die historiese konteksbeskrywings my help om dieper te delf in die Woord en ’n beter begrip te hê van wat ek lees. So word my geloof versterk en vind geestelike groei plaas. Ek is tans besig met nagraadse studies in teologie en gaan beslis Die Toeligtingsbybel ook inspan om my take af te handel.

Elke Bybelboek word voorafgegaan deur ’n kort inleiding oor die boodskap of tema in die boek vervat. Daar is handige kruisverwysings in blokhakies na waar die bepaalde boodskap of onderwerp elders verskyn. Van die uitbreiding sluit in: Sinonieme, definisies of ekwivalente vir woordkeuses ter wille van betekenisverruiming, verduidelikings van teologiese begrippe, en historiese konteks en geografiese inligting om vir die leser ’n vollediger prentjie van die Bybelse leefwêreld te skep. Name, gebruike, plekname en liggings kry ook nuwe betekenis.

Die Nuwe Lewende Vertaling is sedert 2006 ’n betroubare Bybelvertaling. Die hersiene uitgawe rus op Skrifgetrouheid en verstaanbaarheid en wil op ’n dinamiese wyse by lesers aanklank vind. Die belangrikste kenmerke van die NLV het te doen met poëtiese gedeeltes, die vertaling van Godsname, tydsaanduidings, idiomatiese uitdrukkings, voetnote en geslagsinklusiewe benadering.

Uittreksel uit die inleiding tot Genesis: “Genesis beteken ‘oorsprong’ of ‘begin’, so deur die Griekse vertalers van die Ou Testament genoem. Die Hebreeuse titel begin met die eerste woorde van die boek ‘In die begin’. Die boek handel oor die skepping, asook die begin van God se verhouding met mense en ’n spesifieke groep, die verbondsvolk. Die eerste elf hoofstukke verduidelik dat God die mens met ’n doel skep en illustreer dan hoe die mens dié doel telkemale mis. Die res van die verhaal vertel hoe God uit die mensdom ’n geloofsgemeenskap byeenroep wat ’n bepaalde funksie moet vervul te midde van mense se toenemende vervreemding van God.”

Die medewerkers aan Die Toeligtingsbybel is Maretha Maartens (taalkundige verheldering), Marius Nel (redakteur Ou Testament) en Jan Barkhuizen (redakteur Nuwe Testament). Maartens het al verskeie pryse vir haar skryfwerk ontvang, onder andere die Oostenrykse Katolieke Kinderboekprys, die Andrew Murray-toekenning, die Credo-prys en die Sanlamprys vir Jeuglektuur. Nel is ’n navorsingsprofessor vir Ekumene, Pentekostalisme en Neo-Pentekostalisme by NWU in Potchefstroom en het al verskeie publikasies die lig laat sien. Barkhuizen is professor-emeritus aan die UP se Departement Antieke Tale. Hy is sedert 2004 navorsingsprofessor en het voorheen die Medalje vir Akademiese Voortreflikheid (UP) en die HCM Fourie-erepenning vir akademiese en kerklike dienswerk ontvang.

Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.