Boekresensie: Die vloek van Vreesbaai

Die vloek van Vreesbaai is geskryf deur De Wet Hugo en word uitgegee deur Human & Rousseau.

Dankie tog dat grootmense ook jeugboeke mag lees! Ek het De Wet Hugo se Die vloek van Vreesbaai baie geniet en het heeltyd oor my skouer bly loer omdat ek verwag het dat ’n grommende ongedierte enige oomblik op my gaan spring. Die lekkerste lekker is dat die boek op ’n ysingwekkende naelbyt oomblik eindig wat my omtrent nuuskierig maak om die ander twee boeke in die Grilgrypers-reeks, Web van die mummie en Kamp vir monsters, te lees sodra dit onderskeidelik in Mei en Julie gepubliseer word.

Miek trek saam met sy gesin Vreesbaai toe. Die kusdorpie is permanent toe onder digte mis wat die dekmantel is vir allerhande eienaardige gebeurtenisse wat die leser laat naels kou. Dinge ruk só handuit op Vreesbaai dat feitlik al die kinders onder sielkundige behandeling is. Miek word in die mis gekonfronteer deur sy heel grootste vrees. Hy besef gou dat sy drie nuwe vriende, Lisa, Donovan en Sumari, ook deur vrees verteer word. Wanneer Frans le Roux sterf, besef die kinders dat hulle iets sal moet doen voordat hulle dalk ook gevang en doodgemaak word deur die allerverskriklike monsters wat in die mis woon en hulle terroriseer. Dit lyk nie asof die ouers veel omgee oor die kinders nie. Dis net meneer Swart, die ou sielkundige, wat belangstel in die kinders se vrese en ’n simpatieke oor vir hulle probleme het.

Hugo weet duidelik waarvoor kinders gril en wat hulle laat bewe. Op die agterkant van die boek staan die volgende: “Wees gewaarsku: Die Grilgrypers-reeks is grillerig, rillerig en hoendervleis-lekker leesstof!” Dit is inderdaad so. Jy kan nie wag om om te blaai en te sien wat op die volgende bladsy gebeur nie. Die aksiebelaaide hoofstukke is kort en propvol intrige. Die dialoog is oortuigend en spitsvondig. Die monsters wat in die mis dwaal is herkenbare gru-karakters waarmee kinders vertroud is. Bloedstollende gromgeluide, onheilspellende sirkusmusiek, skerp byle wat bloed drup, happende kake, ’n ou tannie in ’n swart trourok … dis maar net ’n paar van die grilgoed wat maak dat jy jou vrekbang lees.

Die vloek van Vreesbaai word as jeugfiksie deur Human & Rousseau uitgegee. Dit beslaan 123 bladsye en beloof om kinders ure lank te vermaak. Daar is selfs so bietjie romanse ook in! Die spokerige voorbladontwerp en illustrasies is deur die talentvolle Shân Fischer gedoen en komplimenteer die inhoud van die boek.

Meer oor die outeur:
De Wet Hugo is ‘n laerskoolonderwyser by ‘n Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië. Hy het as tiener Stephen King se boeke verslind. Hy is ook lief vir Francois Bloemhof se rillers en Troula Goosen se raaiselstories. Die kinders vir wie hy skoolhou verkies R.L. Stine se opwindende Goosebumps-reeks.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R140,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Helga Croucher ·

Well Done De Wet ons hier in die Boland is Trots op jou !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.