Boekresensie: Die Vuil Ferdie-reeks

Die uiters gewilde Vuil Ferdie-reeks wat in Engels bekend staan as die Dirty Bertie-reeks deur Alan MacDonald, word deur Lapa gepubliseer.

Die veelbekroonde outeur Alan MacDonald het reeds meer as 80 kinderboeke geskryf wat in verskeie tale vertaal is. David Roberts, ’n veelsydige illustreerder wat al dosyne boeke geïllustreer het, het gesorg vir die prettige illustrasies. Hy is ook die oorspronklike skepper van die karakters. Ons eie Jaco Jacobs het die reeks in Afrikaans vertaal. Die drie boeke wat tans in Afrikaans beskikbaar is, se titels is Burp!, Eeuw! en Kieme.

Beginnerlesers vanaf sewe jaar oud sal die Vuil Ferdie-reeks sommer baie geniet. Die inhoud is visueel aantreklik met ’n maklik leesbare skrifgrootte. Die bladuitleg is slim en kreatief gedoen en nooi kinders uit om die boeke op te tel en hulle in die heerlike kaskenades van Vuil Ferdie te verlustig. Die opgewekte voorblaaie in oranje, rooi en groen maak dat die boeke op die boekwinkels se rakke uitstaan. Elke boek beslaan 96 bladsye. Die illustrasies is prettig en komplimenteer die skreeusnaakse teks perfek. Die boeke kan vergelyk word met Jacobs se eie Z is vir Zackie-reeks wat ook vir Afrikaanse beginnerlesers voorgeskryf word.

Die volgende bewoording kom op die agterblad van elke Vuil Ferdie-boek voor: “Ontmoet vir Vuil Ferdie – ’n neusgrawende klein rakker met nare maniere! Sy kop is propvol holderstebolder planne en lawwe idees, en as jy moeilikheid soek, is jy op die regte plek – Ferdie is altyd kniediep daarin.” Ferdie word as die wêreld se vuilste moeilikheidmagneet beskryf. Die boeke kom met ’n waarskuwing: “Pasop! Ferdie se nare maniere kan aan jou afsmeer!”

Vuil Ferdie: Burp!

Hierdie boek beslaan drie stories getiteld “Burp!”, “Stinkbom!” en “Sit!”

In Burp! besluit Juffrou Boonzaaier, die nuwe hoofkostannie van die skoolkafeteria, om nét gesonde kos soos spinasiepastei en broccoligebak met beetslaai voor te sit. Die arme kinders burp groot, stink burpe en is skoon naar van die groen slop wat soos gekookte snollies met slymerige slakslaai lyk en proe. Ferdie en sy maats begin met ’n eetstaking – en natuurlik het hulle rebellie onvoorsiene gevolge.

Uittreksel uit Burp!: “Ferdie is die enigste kind in sy klas wat van die skoolkafeteria se kos hou. Klonterige kapokaartappels met taai sous oor. Wurmrige spaghetti met frikkadelle. Koue vla met ’n slymerige vel bo-op. Ferdie is mal daaroor” (7).

Vuil Ferdie: Eeuw!

Hierdie boek beslaan drie stories getiteld “Eeuw!”, “Snork!” en “Netjies!”

In “Eeuw!” moet Ferdie sy vuil, stink hond genaamd Knoffel bad nadat dié in ’n koeikamp tussen koeimis rondgehol het. Knoffel laat hom egter nie sommer vang en bad nie. Boonop besluit Ferdie dis die ideale tyd om Knoffel in te skryf vir die hondeskou – maar ai, as Knoffel net nie so mal was oor ’n hondebeskuitjie nie, het hy dalk die eindronde gehaal.

Uittreksel uit “Eeuw”: “’n Halfuur later staan Ferdie in die voortuin, gewapen met ’n spons en ’n bottel Stertswaai-hondesjampoe. Hy dra ’n reënjas, rubberhandskoene en waterstewels. As ’n mens vir Knoffel bad, beter jy voorbereid wees. Op die grasperk staan ’n plastiekbad vol skuimende water” (13).

Vuil Ferdie: Kieme

Hierdie boek beslaan drie stories getiteld “Kieme!”, “Dans!” en “Zombies!”

In Kieme! is Ferdie se sussie, Suzie, uitgeslaan met waterpokkies. Sy mag vir ’n week lank nie skool toe gaan nie. Ferdie wens natuurlik dat hý ook waterpokkies kan kry. Gelukkig is waterpokkies mos hoogs aansteeklik, en Ferdie probeer sy bes om dit ook te kry, al beteken dit hy moet sy tande met sy siek sussie se tandeborsel bykom. Soos altyd neem Ferdie dinge veels te ver.

Uittreksel uit Kieme! “Dalk hoef ek nie regtig waterpokkies te kry nie, dink hy. Hy moet net sorg dat Ma dink hy het waterpokkies. Dan sal hy veilig wees. Geen juffrou Kotze nie, geen skool nie en geen nare huiswerk wat ingegee moet word nie” (22).

Ek het al drie hierdie boeke baie geniet. Die stories handel oor situasies waarmee kinders kan identifiseer en lekker oor sal giggel. Dit laat mens “jiggie” sê, maar op ’n goeie manier. Vuil Ferdie kruip sommer diep in jou hart.

Skaf gerus jou eksemplare van die reeks by Graffiti Boeke (Burp!, Eeuw! of Kieme) aan of by toonaangewende boekwinkels aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.