Boekresensie: Dié woordeboek gesels terwyl jy ‘n nuwe taal aanleer

Briza Publikasies gee The Talking Dictionary uit.

Ek is hoogs beïndruk met hierdie handige en omvattende oudio visuele woordeboek – die eerste in Suid-Afrika – wat die beginsels van sien, hoor en leer onderskryf op ’n prettige en kreatiewe wyse.

Gebruikers kan hulle in meer as 2 000 volkleur en noukeurig gedetailleerde illustrasies en 5 000 woorde verlustig terwyl hulle met behulp van die Briza-Klankleser® luister na die terme en meer as 200 algemeen gebruikte frases gerangskik in 20 temas. “Die Klankleser® is ’n tegnologies gevorderde apparaat wat klank uit ’n gedrukte bladsy ontsluit”. Deur bloot met die Klankleser® aan die teks te raak, kan lesers luister na die vertaling van die woorde en frases in die taal van hulle keuse.

Daar is tans agt verskillende tale beskikbaar – Engels (standaard), Afrikaans, isiXhosa, isiZulu, Setswana, Sesotho, Sesotho sa Leboa en Mandaryns. Daar word ook hard gewerk aan ’n spesiale N/uu (die oudste oorlewende San-taal)-uitgawe saam met Ouma Katrina Esau en PanSAT. (Lees hier hoe Maroela Media vroeër daaroor berig het.)

The Talking Dictionary bestaan uit 19 wyduiteenlopende en omvattende hoofstukke wat só ontwikkel is dat dit ook aansluiting vind by huidige sillabustemas. Die praatwoordeboek is dus perfek om ook te gebruik saam met skooltake, of jy kan sommer net onderwerpe wat jou interesseer naslaan. Dit het byvoorbeeld ’n afdeling wat handel oor die nasionale simbole en ook die volkslied. Daar is ook afdelings oor onder andere die natuur, voedsel, vervoer, sport, en energie. Ek het veral die afdeling oor die menslike anatomie boeiend gevind. Selfs al sou ’n mens nie die Klankleser® hiermee saam gebruik nie, is die woordeboek steeds uniek en leersaam.

’n Besliste pluspunt vir my is dat lesers nie eens nodig het om enige skermtyd te gebruik wanneer hulle deur hierdie praatwoordeboek werk nie. Die Callfinder®-tegnologie stel jou in staat om slegs die punt van die Klankleser® op die woord in die boek wat jy vertaal wil hê te plaas en só die uitspraak te hoor. Jy kan ook luister na 300 bykomende klankeffekte soos dieregeluide, voëlgesange, musiekinstrumente en alledaagse geluide soos dié van voertuie en kraggereedskap. Die lekkerte is dat jy sommer speel-speel leer hoe die woorde in jou taal van keuse klink. Boonop weerspieël die inhoud ons eg Suid-Afrikaanse kulture. Dit is ook nie net kinders wat hierdie opwindende taalverwysingsinstrument sal waardeer nie; trouens, enigiemand wat graag woorde in ’n ander taal wil aanleer of selfs toeriste wat graag met plaaslike mense in hulle eie taal sou wou kommunikeer, sal dit nuttig vind.

Die standaardpakket sluit in The Talking Dictionary, die Briza-Klankleser® en ’n afsonderlike, gedrukte woordelys wat die spelling en vertaling van die Engelse woorde in die taal van jou keuse weergee. Jy kan ook ekstra tale aankoop. Indien jy reeds ’n Klankleser® het wat jy saam met ander boeke uit die Briza Publikasies-stal gebruik het, kan jy die woordeboek en ekstra klanklêers ook afsonderlik aankoop. Die uitsprake op die klanklêers word deur moedertaalgebruikers gedoen om te verseker dat die gebruiker ’n kwaliteit leerproses geniet. My pakket het die standaard Engelse praatwoordeboek bevat tesame met die Afrikaanse woordelys en klanklêer.

Ek is baie bly dat daar sulke wonderlike en moderne inisiatiewe soos The Talking Dictionary bestaan wat taalonderrig bevorder. Die beste van alles is dat die ervaring soomloos en prettig is.

Lees gerus hier meer oor The Talking Dictionary.

Engels is gratis en die standaardpakket (R1 250-00) sluit een addisionele taal van jou keuse (R325-00) in. Elke bykomende taal kos ʼn ekstra R280-00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Werner ·

Wat ‘n wonderlike produk! Geluk aan die produseerders en dankie aan Maroela vir die resensie.

Afrikaans is ‘n wonderlike taal, en een van Afrikaans se goeie eienskappe is dat ons taal- en plekname in Afrikaans het, en slegs die generiese (of Engelse) woorde hoef te gebruik wanneer dit nie in Afrikaans beskikbaar is nie. So byvoorbeeld is “Australia” in Afrikaans Australië, of “Deutsch” is Duits, “Moscow” is Moskou, maar “Katowice” behou sy Poolse/Engelse naam, aangesien daar nie ‘n Afrikaanse pleknaam daarvoor bestaan nie.

In die lys van tale wat die woordeboek ondersteun, word Engels en Mandaryns se Afrikaanse name gebruik, wat natuurlik korrek is. Die Afrika-tale se Afrikaanse name word egter nie gebruik nie, en ek sien dit in talle publikasies. Ek weet nie hoekom nie, aangesien ons pragtige Afrikaanse name daarvoor het. Neem byvoorbeeld isiZulu: In English, the language is called Zulu. In Afrikaans word die taal Zoeloe genoem. Natuurlik dieselfde vir Tswana, Xhosa ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.