Boekresensie: Dik Dun Thick Thin

Dik Dun Thick Thin deur Nataniël word uitgegee deur Human & Rousseau.

Die nimlike Nataniël se volwaardige memoir, Kyk na my, het in 2019 verskyn. Daarin vertel hy op sy sonderlinge manier van sy kleintyd-herinneringe (en vrese) in drie dorpies en ’n groot voorstad. Met die lees van Kyk na my het ek besef Nataniël se verbeelding is weergaloos en so ook die verbluffend eerlike wyse waarop hy sy vrese en die manier waarop hy die wêreld ervaar, skets. Hy omarm sy uniekheid en aanvaar sy totale menswees op ’n inspirerende wyse wat hom immer gewild maak. Ek het dieselfde leeservaring gehad met Nataniël se heel onlangse publikase getiteld Dik Dun Thick Thin, ’n versameling van 28 splinternuwe kortverhale en sketse.

Die lokteks op die agterblad beloof dat die verhale – 20 in Afrikaans en 8 in Engels – skreeusnaaks, aangrypend, wys, onvoorspelbaar en hoogs vermaaklik is. Die uitgewersbrief noem dat die bundel van Nataniël se beste (en snaaksste!) stories bevat wat die afgelope vier jaar landswyd opgevoer is. Natuurlik is dit goeie nuus, want nie net is Nataniël ’n uitmuntende uitvoerende kunstenaar nie, maar hy is ook ’n begaafde storieverteller wat sy gehoor moeiteloos aan sy lippe laat hang. Ek het heerlik aan hierdie verhale gelees wat onder meer geïnspireer is deur Nataniël se kinderjare (veral sy ouers en ouma), maar ook meer vertel oor sy optredes as sanger op klein dorpies. Nie net het ek soos altyd Nataniël se vertellinge as heerlik humoristies en geweldig verbeeldingryk ervaar nie, maar ek het ook die lewenswysheid en insig wat daar tussen die blaaie van Dik Dun Thick Thin te vinde is, kosbaar gevind.

Nataniël is nie almal se koppie tee nie, so ook nie sy skrywes nie. Maar diegene wat hom en sy werk aanhang, is lojaal in hulle ondersteuning van hierdie uiters produktiewe en vlymskerp kunstenaar. Hy spreek op ’n baie besonderse manier tot mense wat graag lekker lag, hulle nie blind hou vir die feit dat daar dinge in die lewe is wat ’n mens nie kan verklaar nie, en glo in wonderwerke en die viering van verskeidenheid. Sy werk daag die leser uit om selfondersoek te doen. Ook om die lewe nie té ernstig op te neem nie, want dit gebeur met álmal – maak nie saak hoe jy teen die prikkels skop nie. Snaaks genoeg, hoe meer ongeloofwaardig ’n Nataniël-storie vir my is, hoe meer gegrond in werklikheid, vind ek – verál as dit tong-in-die-kies die draak steek met voorstedelikheid, resepmatigheid en clichés. Nataniël is in wese ’n viering van anderswees. En dis hierdie egheid en oorspronklikheid wat treffend deurskemer in sy werk.

Die kortverhaal, “90 minute” op bladsy 64, bevat die volgende stukkie waarheid: “Die dae waarop jy jou grootste lesse leer, begin – anders as in rolprente – nie noodwendig met ’n stormwind of donderwolk of ’n reënboog nie. Die dag van ’n lewensles sluip gewoonlik nader soos ’n ligte hoofpyn of die reuk van kookolie in ’n woonstelblok.” Die Afrikaanse verhaal “Dik Dun” op bladsy 222 se pitkos is eweneens treffend. “Die lewe verander, een dag sus, een dag so, een dag moeilik, ander dag maklik, ons moet alles oorleef” (p. 226). Die daaropvolgende Engelse verhaal, en ook die slotverhaal van die boek, se titel is “Thick Thin” en reken: “There is a reason God gave feathers to the birds and wool to the sheep” (p. 238).

Dit het my nie gepla dat die kortverhale en sketse in Afrikaans en Engels is nie. Ek het die manier waarop die een taal die ander een opvolg soomloos en nie steurend nie, gevind. Dik Dun Thick Thin beslaan 256 bladsye en is in ’n gerieflike sagtebandformaat gedruk. Ek het elke aand een verhaal gelees en só die lekkerte uitgerek. Hier en daar is selfs ’n oulike illustrasie in swart en wit.

Meer oor die skrywer

Nataniël het al meer as 80 oorspronklike verhoogproduksies aangebied, 19 albums en 5 DVD’s vrygestel en 21 boeke gepubliseer. Hy besit ook sy eie produksiemaatskappy Nataniël House of Music, asook Kaalkop Studio. Sy liefdadigheidsorganisasie is The Nataniël Progress Project, ’n kinderbeskermingsprogram wat die kollig plaas op kindermishandeling.

Skaf Dik Dun Thick Thin hier aan. Dit is ook as e-boek beskikbaar.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.