Boekresensie: Dink nuut leef nuut

Dink nuut leef nuut deur dr. Arnold Mol word uitgegee deur CUM Uitgewers.

Dr. Arnold Mol verduidelik ingewikkelde menslike gedrag op maklik-verstaanbare maniere en bied ook praktiese oplossings aan. In Dink nuut leef nuut wil hy by die leser weet: “Hoe belangrik is die dinge in jou hart?” Hy gee self die antwoord na gelang van Spreuke 4:23: “Wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.” Volgens dr. Mol verwys die woord “hart” na die mens se innerlike lewe waar net God kan sien. Hy noem ook dat daar meer as 700 verse in die Bybel is wat na die mens se hart verwys en betrekking kan hê “op gedagtes, emosies, motiewe of besluite”. Dink nuut leef nuut word op die agterblad beskryf as ’n Bybelstudie wat jou op reis neem na jou diepste menswees.

Dié sagtebandboek beslaan 156 bladsye en bevat tien interessante studies in maklik-leesbare skrifgroote. Dr. Mol beloof: “Aan die einde van hierdie studie sal jy toegerus wees om die werking van jou eie hart te verstaan, die duiwel se subtiele aanslae te herken en oorwinnend te leef soos Jesus vir ons die voorbeeld kom gee het.” Ten einde lesers te lei tot insig in dít wat ons inspireer, deel hy sy persoonlike ondervinding en ook ervaring as bedryfsielkundige en kombineer dit met die Woord. Die studie is geskik vir individuele maar kan met welslae ook in groepsverband gebruik word. Persoonlike selfondersoek en diep nadenke word vereis. “Die laaste studie gee spesifieke voorstelle om nader aan die Here te leef.”

Ek het hierdie studie van waarde gevind en beveel dit heelhartig aan. Nie net het die treffende hartsgebede my in gebed gelei nie, maar die “Dink na”, “Woordeboek”, “Belangrike punt” en “Het jy geweet?”-hofies bevat bykomende inligting en aanmoediging. Dr. Mol verwys deurgaans na die Skrif en verduidelik hoe ons dit van toepassing op ons lewens kan maak. Hy verskaf vele voorbeelde aan die hand van vertellinge om sy boodskap te illustreer. Ek het ook daarvan gehou dat dr. Mol gereeld samevattings gee oor dít wat lesers in die voorafgaande hoofstukke geleer het. Dit het my voorberei om die daaropvolgende studies met goeie begrip aan te pak. Die insiggewende besprekings en insigryke vrae anker die sentrale boodskap van die studie – dat jou gedagtes, wil en optrede se oorsprong in jou hart is. ’n Hartsverandering is dus nodig om jou gedrag te verander. Dit is daarom logies dat jy jou hart sal wil beskerm en geestelike oefeninge sal doen om jou gedagtes te versterk teen aanvalle van die bose.

Dr. Mol beveel onder meer aan dat ’n mens jou gebedstyd en stiltetyd beplan en spesifiek tyd daarvoor inruim. Ook dat ’n mens moet onthou om God te bedank, liefde aan ander moet betoon en ook getuig van wat Hy in ons lewens doen. Hy wens dat dit wat ’n mens deur hierdie studie leer “nie kopkennis sal bly nie, maar dat dit jou sal aanspoor en inspireer om elke dag voluit die Here lief te hê en te dien met jou hele hart, siel en verstand”.

Meer oor die skrywer: Dr. Arnold Mol, ’n welbekende openbare spreker, is ’n gekwalifiseerde bedryfsielkundige wat praktiseer as bestuurskonsultant. Onderwerpe waaroor hy al geskryf het sluit in konflikhantering, motivering, bestuur, motivering, huweliksverryking, ouerskap en geestelike verryking.

Skaf gerus Dink nuut leef nuut hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.