Boekresensie: Dis MY boek

Dis MY boek is geskryf deur Fabi Santiago en vertaal deur Jaco Jacobs en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Kerneels die kameelperd tel ’n boek in die veld op. Hy is baie opgewonde oor sy vonds en kan nie wag om die storie te lees nie. Maar o wee, sy dieremaats is vreeslik plaerig en nuuskierig! Hulle wil elkeen vir Kerneels vertel hóé hy die boek moet lees. Hulle stry sommer met mekaar oor watter wenk nou eintlik die beste is en wie nou eintlik die kenner is.

Kerneels stap naderhand vies weg met boek en al, want hy weet die beste manier om ’n boek te lees is op jou eie manier. Die diere is vreeslik jammer dat hulle sulke aapstreke uitgehaal het. Kerneels besluit toe om die boek op sý manier te lees, en dit is sáám met sy geliefde maats.

Dis MY boek is ideaal vir saamlees en geskik vir jong lesertjies van drie jaar en ouer. Die groot, hardeband kinderboek beslaan 32 bladsye met oulike prente wat die skreeusnaakse teks komplimenteer. Die storie leer kinders dat dit pret is om dinge op jou eie manier te doen.

Die talentvolle skrywer-illustreerder Fabi Santiago is in Rio De Janeiro, Brasilië, gebore. Sy studeer kuns en ontwerp en voltooi dan ook in 2014 ’n M.A.-graad in Kinderboekillustrasie aan die Cambridge-kunsskool. Haar pragtige illustrasies skep die indruk van beweging en kleur, tog is sy bekend daarvoor dat sy beperkte helder kleure gebruik. Sy slaag daarin om die karakters se persoonlikhede getrou weer te gee op ’n unieke wyse. Kinders sal dol wees oor die hoppende kangeroe wat heeltyd wikkel en wriemel terwyl sy lees. Wat nog te sê van die grasieuse flamink wat op een been staan en lees sonder om te waggel!

Die illustreerder Chris Venter merk in ’n onderhoud op Storiewerf die volgende op oor die belangrike rol wat kinderboek-illustrasies speel: “Waar die woorde in ‘n kinderboek natuurlik ‘n kind se spraak-, lees-, dink- en skryfvermoëns kan verbeter, kan die illustrasies net so direk verband hou met kinders se abstrakte gedagtes (verbeelding).” Hy sê ook: “Piet Grobler het my altyd geleer dat die prentjie ‘n storie van sy eie moet vertel parallel aan die teks. Wanneer die kind die prentjies lees (of probeer ontsyfer), sal hy iewers die teks begin raaksien en self begin lees.” Mens moet dus nooit die belangrikheid van goeie illustrasies in kinderboeke onderskat nie.

Skaf gerus hierdie oulike boek met die baie mooi prente aan vir jou kind. Dit word deur LAPA Uitgewers uitgegee en is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars of Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.