Boekresensie: Doen dit al is jy bang

Die New York Times-topverkoperskrywer Joyce Meyer se boek getiteld Doen dit al is jy bang word deur Struik Christian Media uitgegee. Christa Swanepoel het die Engelse titel, Do It Afraid, in Afrikaans vertaal.

Doen dit al is jy bang is baie relevante leesstof vir die tye waarin ons leef. Dié sagtebandboek beslaan 310 bladsye en 23 hoofstukke en handel oor hoe mens jou vrees kan oorkom om in oorwinning te leef in God. Die boek is in drie interessante dele opgedeel, naamlik Verstaan vrees, Konfronteer vrees en Gesindhede om onbevrees te leef. Daar is ook ’n ekstra bylaag met skrifgedeeltes wat lesers aanspoor en bemagtig om vrees te oorwin, sowel as ’n uitnodiging om in ’n lewende, persoonlike verhouding met Jesus te staan.

Meyer stel beslis nie teleur met Doen dit al is jy bang nie. Soos met haar vorige blitsverkopers (o.m. Wen die stryd in jou gedagtes, My tyd met God, Genesing vir elke vrou en Jou stryd behoort aan die Here), draai sy nie doekies om wanneer sy die Woord aan lesers voorhou nie. Sy hou onwrikbaar by die Waarheid, maar sy neem ook die menslike aspek in ag. Juis daarom doen sy moeite om te verduidelik wat vrees nou eintlik is en hoe dit ons beïnvloed. Dit hoef ons egter nie te beheer nie. Sy skryf op ’n reguit en maklik verstaanbare trant en moedig lesers aan om oplettend te wees oor hoe vrees in ons lewens kan werk en ons kan terughou. Dan leer sy hoe ons ons denkwyse en dus ons dade kan verander sodat ons ons vrese kan eien vir wat dit is en dit kan agterlaat.

Doen dit al is jy bang bevat talle inspirerende getuienisse deur en voorbeelde van mense wat die vrees wat hulle op een of ander manier weerhou het om hulle volle potensiaal te bereik uiteindelik oorwin het omdat hulle besluit het om God te vertrou en voluit te leef.

Meyer hou ook dosyne Bybelverse voor om lesers te bemoedig om nie langer in vrees te lewe nie, want “in Jesus is daar altyd hoop op positiewe verandering” (23).

Ek het heerlik aan Doen dit al is jy bang gelees en het die boodskap beslis ter harte geneem. Meyer, wie se pa haar mishandel het en wie se ma haar verwerp het, het haar vrees oorwin en vandag raak sy wêreldwyd mense se harte aan deur haar skryfwerk waarin sy God verheerlik.

Uittreksel: “Ek wil jou aanspoor om nie toe te laat dat vrees jou beheer en dit bloot te aanvaar nie. Moet ook nie deur die lewe gaan en ander mense vir jou ongelukkigheid blameer nie. Neem verantwoordelikheid vir jou probleme en maak jou hart vir God oop. Hy sal help om weer lig in die duisternis (in situasies wat jy nie begryp nie) te bring. As jy eers verstaan wat vrees is en hoe dit werk, kan jy dit oorwin” (vi).

Meer oor die outeur: Joyce Meyer is ’n bekende en geliefde prediker en kenner op gebiede wat haar bediening fokus op gemoedstoestande, emosies en gesindhede. Sy is die skrywer van meer as honderd boeke wat al in meer as honderd tale vertaal is. Sy borg Hand of Hope, ’n welsynsorganisasie wat geld skenk aan weeshuise en ook mediese sorg verleen aan minderbevoorregtes.

Joyce Meyer se Doen dit al is jy bang is beskikbaar by toonaangewende boekwinkels. Kry gerus jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.