Boekresensie: Doodsake op Karibib

Doodsake op Karibib is geskryf deur Isa Konrad en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Isa Konrad bewys met hierdie lekkerlees spanningsverhaal weereens dat sy ’n uiters talentvolle skrywer is wat meesterlik met die Afrikaanse taal omgaan. Ek kon Doodsake op Karibib, die opvolg op Moord op Karibib, nie neersit nie.

Nie net het die interessante, onvergeetlike en ja, deerniswekkende karakters, my verbeelding op loop gehad nie, maar ek het my omtrent verlustig in Konrad se manier om woorde kreatief in te span. Haar heerlike sin vir humor en fyn waarnemingsvermoë sorg vir ’n leeservaring soos min.

Inspekteur Conrad Dorfling moet bontstaan toe ’n geraamte in die Von Bülow-huis se agterplaas ontdek word en die dorp in rep en roer is daaroor. Dit word gou duidelik dat die oorledene al vyf en twintig jaar daar begrawe lê. Die Von Bülow-susters is lankal vort en kan dus nie antwoorde verskaf oor die vlak graf in hulle erf nie. Kort voor lank is daar sprake van nog ’n lyk … en moontlik nóg een …

Con moet ál sy speurvernuf inspan om die moordraaisel, wat aanvanklik soos ’n doodloopstraat lyk, op te los. Maar hoe doen hy dit wanneer hy self verskeie geraamtes in hulle kaste in sy binneste ronddra? En dan is daar Alet Gouws. Alet wat nog met “Die Poepol” getroud is en moet besluit of sy vir Con wil hê, of nie.

Ek beveel hierdie boek aan vir lesers wat veel meer in ’n spanningsroman soek as net bloed en derms. Die spanning bou fluks op, maar die menslikheid bly nie agterweë nie. Konrad het haar storie deeglik beplan en nagevors, en ook die agtergrond met ’n ryke verbeelding ingekleur. Haar uitstekende uitbeelding van Con as doodgoeie, onbeholpe sout van die aarde-man waarin daar tog ook maar ’n duiwel skuil, dra daartoe by dat die karakter diep in die leser se hart inkruip. Ek was spyt om die laaste bladsy te lees, want ek was nie gereed om Con te laat gaan nie.

Juwele soos die volgende het my die bladsye gretig laat omblaai:

“Gisteraand vlieg soos ’n rooiborsie uit haar oë, vrolik en wild en pragtig.” (p. 110)

“Alet se lippe veg hard met mekaar om nie te huil nie, maar dis haar oë wat die oorlog verloor. Iets word swak daar soos ’n voet wat swik. En sy val. Haar trane loop ’n dun, blink paadjie oor die wang waarop die lig uit die gang skyn. Con se hart kruip stadig, pynlik in sy keel op toe haar huil by haar bolip aankom.” (p. 185)

“Op ’n somerdag soos vandag breek die witgat se dik bosse blare die sonlig dat dit soos stukkies glas op die sand lê. Die skaduwee melk die gif uit die hitte.” (p. 214)

“Hy voel hoe sy bloed donkerder, dikker vloei en in sy arms en bene begin opdam. Droewigheid en wrokke dryf soos olie bo-op, vlak onder sy vel. Maar wag, hier kom die onverskilligheid. Oor alles. Sy doodloop is besig om dood te loop en Alet Gouws is op pad terug Kaapstad toe, maar so verdomp what.” (p. 266)

Meer oor die outeur:
Isa Konrad is oorspronklik van Namibië. Doodsake op Karibib is haar vyfde spanningsroman. Sy was al as finalis benoem in die ATKV-Woordveertjieprys vir Spanningslektuur met haar sielkundige riller, Die soenoffer.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R265,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.