Lesersindruk: Doodsroeper

Dié resensie is opgestel deur Alexander S. Mickel, ʼn Duitser wat homself Afrikaans leer skryf en praat het. Hy is nou ʼn passievolle Afrikaanssprekende in Duitsland met ʼn groot netwerk Afrikaanse vriende in Suid-Afrika wat hom voorsien van Afrikaanse leesstof en geleentheid om sy Afrikaans te oefen wanneer hulle Europa besoek. Klik hier om sy eerste brief op Maroela Media te lees. – Red

Doodsroeper is geskryf deur Rika Cloete en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Ek is nie ʼn joernalis nie en ek weet nie hoe om ʼn resensie te skryf nie. Maar ek is ʼn passievolle leser wat kan verwoord wat hy voel. Dalk is dit die soort van tekste wat vir belangstellendes die mees inspirerende is.

Ek is eintlik Duitssprekend en Rika Cloete het my Afrikaanse brief op Maroela Media gelees en my gelukgewens met my prestasie. Ek het nog nie geweet sy is ʼn outeur nie. Ek is maar altyd op soek na goeie Afrikaanse literatuur wat vir my maar ongelukkig dikwels in Duitsland nie verkrygbaar is nie. Toe gaan google ek en vind ʼn onderhoud op Ontbytsake waar sy van haar eerste groot spanningsroman Doodsroeper vertel.

Die verhaal se toneel is die Stilbos. Sy verduidelik die Stilbos is ʼn bos sonder voëltjies. Maar hoe kan ʼn bos stil wees? As ʼn bioloog weet ek ʼn woud sal nooit stil kan wees nie. Mens is nie alleen daar nie. Stilte impliseer maar in meeste gevalle dat mens alleen is. En tog weet iedereen hoe maklik stilte vreesaanjaend kan wees as ʼn mens besig is met sy eie gedagtes en dan skielik iemand se teenwoordigheid voel. ʼn Koue rilling kriewel teen my rug af en ek was dadelik onder die ban van die Stilbos. Ek móét hierdie boek gaan lees.

Vir lesers wat in geskiedenis belangstel, sal dié boek ook interessant wees. Die verhaal speel in 1861 af. ʼn Boeregeselskap trek in hulle waens agter die trekbokke aan. Rika Cloete beskryf die alledaagse lewe van die trekboere, vertel van hulle ontberings en uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word. ʼn Groep werk die beste as die mense mekaar goed ken en mekaar kan vertrou. Die fokus lê myns insiens op die manier hoe die groep saamleef.

Toe daar naby die laer ʼn aaklig geskende lyk in die Stilbos gevind word, word Soois Bruwer versoek om die moordenaar vas te trek, want hy is die enigste wetsman onder hulle. Hy begin die kamp se mense ondervra, maar hy besef die mense is onwillig om hom te help. Die vermoorde het baie vyande en die mense se verhoudings is ingewikkeld wat gepaardgaan met geheime en raaisels wat hy moet oplos. Toe vind daar nog moorde plaas en elke sterfgeval word aangekondig deur ʼn geroep uit die Stilbos. Die Doodsroeper. Bruwer se taak is veeleisend en hy sukkel telkens, tog hou hy aan, want dit is die taak wat hom opgelê is.

Tussen die daaglikse roetine, Albert Siener se visioene, verdere ondervragings en nuwe verdagmakings, ontwikkel ʼn liefdesverhouding met ʼn vrou. Soois se geliefde vrou Frederika is oorlede en hy het lank gerou. Die nuwe verhouding laat hom nou sukkel en soos ʼn verraaier voel, want hy is ontrou aan Frederika se nagedagtenis.

Cloete slaag daarin om die moordenaar se identiteit tot die einde geheim te hou en ek het besef dat ek nie maklik kon ophou lees nie. Elke keer wanneer ek gedink het ek kan nou ophou lees om te gaan slaap, moes ek nóg ʼn hoofstuk lees. Die spanningsboog is uitstekend. Verder het sy deeglike navorsing gedoen oor die Kalahari se landskap, inheemse plantegroei, die daaglikse lewe op trek en nogal oor die boere se gewere ook. Daar is ʼn paar argaïese woorde en uitdrukkings, of ken jy bv. “herneuter”, “pollevinkery” of “ammelee”? Weet jy wat “blo” is? Dit is wel uitdagend maar dit steur glad nie die leesgenoot nie.

Ek het hierdie boek baie geniet!

Doodsroeper
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R265-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

malinda ·

Het die boek gelees en dit baie geniet.Boeiend tot die einde

E.K. die eerste ·

Wens Afrikaanssprekendes in SA wil MEER lees. Veral in Afrikaans en AFrikaanse boeke koop op ‘n maandelikse grondslag. Ek word sommer vies as mense sê hul “het nie tyd” om te lees nie. Twak man! Mens maak tyd. As jy regtig omgee vir Afrikaans moet jy boeke koop en lees.

Christine ·

Dankie vir die resensie, Alexander. Jou Afrikaanse taalgebruik is puik! Baie geluk!

Alexander Mickel ·

Baie baie dankie, Christine!! Dit was ‘n groot plesier!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.