Boekresensie: Duinhuis

Isabella Niehaus se Duinhuis word uitgegee deur Human en Rousseau.

Ek geniet dit vreeslik baie om deur kookboeke te blaai – nie net vir die smullekker resepte en aptytwekkende foto’s nie, maar beslis vir die heerlike kuier wat tussen die bladsye vasgevang word. ’n Kok wat nie hartlik kan gesels terwyl die geure meng en die potte prut nie, se kombuis is koud en sonder liefde – en ’n mens se smaakknoppies kan mos liefde of die gebrek daaraan proe in die disse wat vir jou voorgesit word.

Op die agterbladteks van Duinhuis staan die volgende geskryf: “Die lafenis, die joy van Isabella se aardse towerresepte is als in Duinhuis se blaaie vasgevang: ’n viering van dié oudmoderedakteur en magic-maker se affair met ’n stukkie Afrika-strand en haar nuwe passie: kos.” Ek moes dadelik die kookboek van 224 bladsye optel en begin lees, en ek was beslis nie teleurgestel nie. Buiten die wonderlikste resepte word die leser getrakteer op vertellinge oor Isabella, ’n Vrystaat-kind, se grootwordjare, interessante mense wat sy op haar pad ontmoet het en haar reise na veraf plekke. Sy lewer kommentaar by die resepte, en só ontdek die leser ’n juweel soos “wanneer Vader Claerhout my pa en Dolf se hare kom sny het, ’n vinnige kerkdiens gehou het en op die breë stoep gesit en whiskey drink het”, het Maria Dansa, wat in Ma Issie se kombuis gewerk het, ’n ongelooflike vispastei gemaak. Dié resep, met ’n baie moderne kinkel, verskyn op bladsy 26 as Duinvispastei.

Isabella skryf dat sy as ’n selfgeleerde kok die wonderlike liefde vir speel ontdek het. “Vir magic maak. Vir goeters en dinge bymekaargooi en voilà, dis lekker.” Sy vervolg: “En met dít het die herinneringe noodgedwonge begin terugkom. Kiekies, oomblikke, smake, geure, kom nesskrop.” Toe wéét ek, Isabella se kos sal na liefde proe. Op die Weskus is ’n duin waarop ’n grys huis staan, maar dis die posbusrooi tafel wat daarvan getuig dat “magic en joy en blessings” deel van haar lewe is.

Mnr. Basson se plaasskool was al opsie vir die jong Isabella en Dolf. “My hele Sub A het ek in my kortbroekie en vlegsel buite met skaapdrolletjies en skaapbeentjies plaas gehou.” Sy onthou hoe al die kinders “rondom die tafel met ’n vrolik geblomde plastiektafeldoek varsgebakte broodjies met tuisgemaakte konfyt of ’n koue stukkie vleis gekry – dit, en soet tee.” Sy skryf ook: “As ek my gedagtes laat teruggaan is my eerste herinneringe aan kos en kuier by ouma Bellie se huis. Op die stoof ’n nimmereindigende bredie. Die reuk van gebak in die oond. Bakke vol vars vrugte en groente. Buite die enorme moerbeiboom. Agter dit waar Oupa se koeie gewei het ’n welige groentetuin met als.”

Isabella se belofte aan haar kind was net dít: “vir jóú sal ek die wêreld wys.” Sy reken: “Reis gee jou vlerke. Stel jou bloot. Maak jou sintuie wakker. Dwing jou om te proe, te ruik, te sien en te hoor … en dikwels te voel. Te ervaar. Dit te liasseer vir weer op ’n dag gebruik.” Sy het selfs by ’n klein kookskool op die oewer van die Sein in Parys leer macaroons maak!

Duinhuis is dan ook deurspek van haar reis- en kosherinneringe. En die ménse wat sy op haar lewenspad ontmoet het en saam kos mee gemaak of geët het! Sy vertel ook van die kunsgallery wat sy as jong ma in Groenpunt saam met ’n vennoot begin het en haar werk as skoonheidsradakteur vir Rooi Rose. “Die begin van ’n 23-jaar lange loopbaan by vroue-en manstydskrifte.”

“Die kokery het als hiér begin. Op die Duin met ’n paar trestle tafels. Oesters, Krewe. Mossels en vars vis.” Sy maak op 8 Augustus 2009 haar huis vir die eerste keer oop vir ’n Langtafel. “Die Langtafel op die Duin het ’n lewe van sy eie gekry. Sy eie aanhangers. Agter die stoof. Agter die rooi sementtafel kyk en luister ek na die gedruis van stemme. Sien ek hoe nuwe vriendskappe gesmee word rondom ’n bord kos. Word vreemdelinge vriende. En ek wil kook! En ek kook! Nuwe disse. Ou disse met ’n nuwe draai. Dis ’n langdagkuier. ’n Unieke ervaring. ’n Bucket list-ervaring.” Isabella juig: “En so kom die kookkuiers. Die kookklasse. Almal weeg en kook en bak. Interaktief.”

Dit is inderdaad ’n heerlike ervaring om deur Duinhuis te blaai. Resepte soos suurlemoenmeringue-roomyskoek, lamsvleis met feta, monnikvis in roomkerriesous, mosselbobotie, kreefstert-krokette, Guinness-koek, Elsa se beskuit, Miss Lelie se legendariese afval, eerlike vleispasta met groenslaai, Taro se hoendersosatie, Maria se kluitjies, koue hoenderkerrie, oondgebakte Hanover-hoender, Kobie se lamsblad, my peri-peri hoender, Ma Issie se pampoenkoekies en duinfrikkadelle het my oog gevang. Ek het Lolandri se wit pan-chocolat op bladsy 218 uitgetoets – wat ’n bederf!

Isabella dra Duinhuis op aan Taro. “Vir jou geloof in jou ma. Jou inspirasie. Jou vriendskap. Maar veral vir al jou liefde.”

Skaf Duinhuis gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.