Boekresensie: Evie Erdvark en haar natuurvriende

Evie Erdvark en haar natuurvriende deur dr. Lynn Hurry word uitgegee deur Briza Publikasies.

Het jy al gehoor van die Sodva-klub? Sodva staan vir “Sien Om Na Diere Vandag en Altyd”. Dr. Lynn Hurry se lieflike hardebandboek (wat 104 bladsye beslaan en propvol wonderlike natuurfeite is) druk dié boodskap op die hart van jong en ouer lesers en moedig hulle aan om iets vir Afrika se wonderlike natuurlewe te doen. Hurry is ’n welbekende Suid-Afrikaanse omgewingskrywer wat ’n passie het vir omgewingsvolhoubaarheid. Hy moedig lesers aan om na te dink oor die maniere waarop hulle met hulle omgewing inskakel.

Dr. Jim Taylor, direkteur van omgewingsopvoeding: Wessa (1994 – 2019) skryf in die Voorwoord die volgende: “Die stories is belangrik vir mense omdat dit die boodskap van die Ahmenadab Verklaring van Omgewingsopvoeding, Indië, 2002 oordra: Ons wêreld is ’n wêreld waarin ons werk en lewenstyle bydra tot die voordeel van alle lewe op Aarde.” Volgens Taylor wek Hurry se stories ’n positiewe houding teenoor diere en hulle lewensomgewings. “Hulle verhaal ’n wêreld vol moontlikhede en inspirasie om alles om ons te verstaan en meer van alles te leer sodat elkeen se gedrag beter verstaan kan word en sodoende kan meehelp om beter in ons natuur saam te leef in stede van die natuur te vernietig” (9).

Hurry, wat ’n meestersgraad in ekologie en ‘n doktorsgraad in omgewingsopvoeding het, noem dat Evie Erdvark en haar natuurvriende ’n samevoeging is van visuele elemente en die geskrewe woord. Hy bedank die talle fotograwe wie se pragtige foto’s daartoe bydra dat die boek ’n aanskoulike geheel uitmaak. Rachel Hurry se humoristiese illustrasies van Evie Erdvark bind die twintig fassinerende dierestories mooi saam. Die boodskap van elke storie is dan ook dat “elke dierspesie, van ’n aasvoël tot ’n krokodil, jou hulp nodig het om in die toekoms nog te bestaan” (12).

“Evie Erdvark is ’n langsnoet natuurvriend met sagte oë en groot ore en sy leef diep in die hartjie van die Dukuduku-woud op die rand van die stowwerige, rooigrond iMfolosi-vlakte in Afrika” (11). Sy lê graag onder ’n groot geelhoutboom, observeer wat om haar aangaan en leer só meer van die plante en diere. Evie en haar vriende het die Sodva-bewaringsklub gestig waarvan sy die ere-president is. ’n Sodva-klublid moet instem om meer te wete te kom van die natuurlewe en hulle habitat. Daar is ook instruksies oor hoe om jou eie Sodva-klubwapen van karton te maak.

Die hoofstukke is só ingedeel: Erdvarke en Blouswaels, Ratels en Grootheuningwyservoëls, Reusevyebome en piepklein vyewespe, Pa en Ma Gekroonde Neushoringvoëls, Grootlangtoon-pa’s, Bobbejane en Rooibokke, Kameelperde en Rooibekrenostervoëls, Vlaktekwaggas en Blouwildebeeste, Voëls wat peetouers gebruik, Kelkiewyn-pa’s en -ma’s, Aasvoëls, Klein termiete, vrugte-etende voëls en wilde vrugtebome, Heuningbye en Blomme, Klipspringers en Rooivlerkspreeus, Dwergmuishonde, Hamerkoppe en Nonnetjie-uile, Swartoogtiptol, Buffels, Nylkrokodil-ma’s, en Erdvarke en Aardwolwe.

Elke hoofstuk is propvol inligting oor die diere, soos byvoorbeeld waar hulle bly, hoe hulle voetspore lyk, die geluide wat hulle maak, wat hulle eet, hoe groot hulle is, hoe van die diere saamwerk om hulle gunstelingkos te vind, ens. Die leser word ook aangemoedig om aktiwiteite te onderneem, soos byvoorbeeld om hulle eie tekeninge van ’n gekroonde neushoringvoël te maak en teen hulle muur op te plak.

Daar is waardevolle inligting oor onder meer bestuiwing, voëls wat peetouers gebruik, en die diere se wetenskaplike en Engelse name (ook sommiges se name in inheemse tale). Aan die einde van die boek is ’n baie nuttige woordelys en ’n indeks.

Ek het heerlik aan Evie Erdvark en haar natuurvriende gelees. Die boek het ’n waardevolle les en hoort op elke kind se boekrak. Die besondere aanbieding van die stories maak dat die lesers voel dat hulle die diere van naby in hulle natuurlike habitatte leer ken. Die inligting is goed nagevors en die volkleurfoto’s is ook baie leersaam. Hoewel Evie elke dier voorstel en opvoedkundige kommentaar lewer, vertel die diere hulle eie stories op unieke wyses.

Kinders sal die boek nie net kan gebruik om hulle kennis oor diere en die natuur op te knap nie, maar dit sal ook baie handig te pas kom wanneer skooltake gedoen word. Dit sluit aan by die leerplan vir grade 4-6 sowel as graad 7 se sekondêre fase en skep bewustheid oor natuurbewaringsake.

Bestel jou hardebandkopie van Evie Erdvark en haar natuurvriende hier. Die PDF-weergawe kan hier aangekoop word. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Abygale Aardvark and her Wildlife Friends. Koop die Engelse weergawe hier (boek) en hier (pdf).

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.