Boekresensie: Fanie Viljoen se Slym se stories (4 in 1)

Slym-omnibus-HIGH-RES-002.jpgResensie deur Louise Viljoen

Fanie Viljoen se immergewilde Slym-reeks wat uit vier prettige boeke bestaan, word nou in ’n pragtige en lywige volkleur-omnibus uitgegee. Van die enkeltitels in die reeks het al meer as 24 000 boeke verkoop en het boonop twee ATKV-Woordveertjies ingepalm. Die heel eerste Slym-boek het reeds in 2004 verskyn en sedertdien beleef dié oulike wurm en sy aanhangers die een heerlike avontuur na die ander. Die vier boeke wat in die omnibus vervat is, se name is:

  • Slym: Die wêreld se eerste wurm in ’n paddakonsert
  • Slym en die beker van geluk
  • Slym en die gogga-sirkus
  • Slym en die towertapyt

Slym se storie begin wanneer hy, ’n wurm, op ’n dag deur ’n voël gevang word. Hy skrik so groot dat hy sommer ’n hele klomp vrotterige slym in die voël se bek los. Die voël laat val toe vir Slym net daar en hy beland by ’n skool vir paddas. Hier ontmoet Slym vir juffrou Plat Anna en die ander onderwysers. Hy leer ken ook paddamaatjies soos Paddavoet en Brulbekkie. Dan is daar ook die skoolboelie, Padarotti, en ou Giftand, die slang! Slym sing nie net in ’n paddakonsert nie, hy maak ook ’n draai by die gogga-sirkus en ontmoet die paddakoning. Hy ry selfs op ’n towertapyt!

Slym se stories (4 in 1) is propvol aksie en en word teen ’n vinnige tempo vertel. Slym ontmoet nie net vele interessante karakters nie, maar beleef die een asem-ophou avontuur na die ander. Daar is nie een vervelige oomblik in die omnibus nie. Die kinders sit behoorlik op die punte van hulle stoele wanneer daar uit die Slym-reeks gelees word. Dis prettige, skoon stories wat die jong lesers se verbeelding aangryp en hulle anders laat kyk na wurms, paddas en ander goggas. Skaf gerus hierdie oulike omnibus aan – dit sal sorg vir ure se leesgenot!

Slym se stories (4 in 1) is geskik vir kinders van 7 jaar en ouer. Dié dik boek wat bestaan uit 293 bladsye, is teen R150.00 beskikbaar LAPA Uitgewers en ander toonaangewende handelaars. Dit spog met die mooiste, kleurvolste illustrasies wat die skrywer ook self gedoen het. Fanie Viljoen, die skrywer van die Slym-reeks, het ’n huishoudelike naam geword met onder andere pryswenner boeke soos Onderwêreld, BreinBliksem, Afkop, Betower en sy Nova-wetenskapfiksiereeks.

 

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.