Boekresensie: Floreer

Floreer deur Ilse Salzwedel word deur Lux Verbi uitgegee.

Wat is die “iets” wat ’n mens weer laat opstaan as dit voel of die lewe jou asem uitgeslaan het? Hierdie vraag op die agterblad het my uitgedaag om Ilse Salzwedel, bekende en geliefde radiopersoonlikheid en joernalis, se boek getiteld Floreer te lees. Sy deel nie net haar eie aangrypende lewensondervindinge rondom uithou, aanhou, wéér begin en uiteindelik floreer openhartig met die leser nie, maar ook dié van bekendes soos Raymond Ackerman, Yolande Korkie, Vanessa Goosen, en LaRae Quy.

Salzwedel glo dat almal oor veerkrag beskik, en dat ons hierdie vermoë soos ’n spier kan oefen en uitbou. Martie Pansegrouw, voormalige rooi rose-redakteur, beaam dat Salzwedel mense bewus maak van hulle eie innerlike veerkrag en hoe om dit aan te wend om te groei, te leer en te floreer. Phyllis Green, Sarie se boekeredakteur, stel dit onomwonde dat Floreer ’n belangrike boek is oor veerkragtigheid wat jou voorberei om te oorleef in ’n veranderde en veranderende wêreld. Wyle Ian Wessels, aanbieder van onder andere Regsake en Loslip op RSG, het gereken dat sy die “iets” hier bo vermeld suksesvol verwoord met ’n uitstekende kombinasie van raad deur die voorste kenners, alledaagse voorbeelde ter illustrasie en maklike praktiese wenke. Hy het Floreer vroeër vanjaar gelees voordat hy in April oorlede is.

Floreer beslaan 224 bladsye en 16 hoofstukke. Interessante hoofstuktitels soos “Eienskappe van veerkragtige mense”, “Aanvaar jou nuwe werklikheid”, “Ken jy jouself?”, “Kies om anders te reageer”, “Helde, ankers en geloof”, “Veerkragtigheid se groot vyande” en “Om die seën in swaarkry te sien” bied reeds aan die leser ’n voorsmakie van die bemoediging en aanmoediging wat daar tussen die bladsye van dié boek te vind is.

Salzwedel skryf of bladsy 10: “Ons almal se benadering tot trauma en die terugslae van die lewe verskil egter hemelsbreed. Vir party is geloof die deurslaggewende faktor; ander maak meer staat op hulle bankbalanse of ondersteuningsnetwerke. Maar die een gemene deler in al hierdie verhale is veerkragtigheid. Die goeie nuus is: Jy kan kies of jy wil floreer, of krepeer. Elke keer dat jy kies om op te staan en weer te probeer, slyp jy aan jou veerkragtigheid. En hopelik kan hierdie boek jou so ’n bietjie daarmee help.”

Ek het persoonlik daarby baat gevind om Floreer te lees. Die inhoud is inspirerend en wys daarop dat dit wel moontlik is om bo terugslae uit te styg en te leer hoe om teenspoed makliker te oorkom. Salzwedel deel ’n stel karaktereienskappe wat by veerkragtige mense waargeneem kan word, en sy herinner die leser daaraan dat veerkragtigheid altyd ’n positiewe ingesteldheid vereis: “’n Gesindheid wat sê: Ek gaan my nie laat onderkry nie, kom wat wil” (29). Sy gee praktiese en uitvoerbare wenke oor hoe om tree vir tree aan te hou op jou pad vorentoe.

Salzwedel noem dat volgens Hugh van Cuylenberg, stigter van The Resillience Project in Australië, ’n mens meer veerkragtig kan raak as jy kan leer om meer empaties en dankbaar te wees en meer bewustelik leef. Op bladsye 80 en 81 kan jy selfs jou stresvlakke meet. Daar is ook ’n veerkragtigheidswerkboek om deur te werk. Die boek word afgesluit met die Auschwitz-slagoffer Edith Eger jare ná haar traumatiese ondervinding gereeld gesê het: “We can’t erase the pain. But we are free to accept who we are and what has been done to us, and move on.”

Meer oor die skrywer: Ilse Salzwedel is ‘n joernalis, radioaanbieder en skrywer. Sy het al ATKV Woordveertjies, ‘n PICA en ook Caxtontoekennings verwerf, en in 2009 vereer die FAK haar met die H.B. Thomtoekenning vir ‘n besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek. Haar program Skrywers en Boeke is baie gewild op RSG. Besoek haar webwerf hier om meer oor veerkragtigheid te wete te kom. Floreer is haar sesde boek.

Skaf jou kopie van Floreer hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.