Boekresensie: Fouriesburg en sy mense in die Brandwaterkom 1840 – 2019

Een van die interessanthede wat van die tyd van die Anglo-Boereoorlog dateer is dat daar tong in die kies ʼn saak uitgemaak kan word dat Fouriesburg, die dorp in die Vrystaat, dié provinsie se hoofstad moet wees. Nadat die Engelse Bloemfontein beset het, het die regering te velde tydens ʼn besoek aan Fouriesburg die dorp as hoofstad geproklameer. Die proklamasie is nooit herroep nie.

Fouriesburg en sy mense in die Brandwaterkom 1840 – 2019 is ’n tweede, hersiene en bygewerkte weergawe wat die skrywer, Adinie Scheepers, in 2011 net voor haar 80ste verjaardag, self uitgegee het. Nou, byna ’n dekade later, het sy hulp van twee vaardige vroue ingespan. Die redakteur van die omvattende werk is Susan Maré, afgetrede redakteur van die Oos-Vrystaatse koerant, Vrystaat. Maré was (en is nou as vryskut) nie net ’n vaardige skrywer en joernalis wat joernalistieke erkennings ingeryg het nie, maar is ook orreliste wat Sondae na mekaar by twee kerke in Bethlehem optree. Haar vroeëre dae as onderwyseres het stellig tot haar perfeksionisme as joernalis en redakteur bygedra, maar anders as ander perfeksioniste met wie ek al te doen gekry het, is sy flink én akkuraat in haar werk.

Scheepers het Maré versoek om ook die oorspronklike teks te herskryf. Die produk lees dus gemaklik en lekker. Maré kry ook erkenning vir redigering en proeflees saam met Elsabé (Fourie) van der Merwe, ’n gebore Fouriesburger en later onder meer dosent aan die US. Dis egter gou duidelik dat Van der Merwe nie net geredigeer en geproeflees het nie, maar ook enorm baie werk tot die inhoud bygedra het, insluitend die merkwaardige stamregister van Fouriesburg se Fouries, waarvan sy uiteraard self een is.

Die boek is ’n baie effektiewe samestelling van geskiedenis, staaltjies en ’n stamregister. Die stamregister is volgens die skrywer nie volledig nie, iets wat natuurlik eie is aan stamregisters. Maar die geweldige werk daaraan maak dit tog merkwaardig volledig sodat daar nie ’n lys “ongekoppeldes” nodig was nie, wat in sommige stamregisters nogal ’n lywige lys kan wees. Die stamregister word op die toepaslike plekke in die register self aangevul deur staaltjies, geskiedkundige gebeure en agtergrond, foto’s en spotprentjies.

Met die deurwerk van die boek was dit opvallend hoeveel Fouries daar is, wat almal van net een voorouer, ’n Franse Hugenoot, afstam. ’n Fyner kyk verklaar gou hoekom dié van Fourie, volgens die skrywer, in ’n stadium die vierde mees volop van onder Afrikaanssprekendes in die land was. Die stamvader, Louis Fourie, wat as enigste gesinslid die bloedbad ná die terugtrek van die Edik van Nantes oorleef het, het via Nederland waar hy drie jaar gewoon het, as vrygesel in die Kaap aangekom. Hier is hy eers met Suzanné Cordier getroud en na haar dood met Anne Jourdaan. Uit die eerste huwelik is tien kinders, en die tweede 11 kinders gebore, hoewel daar weens onder meer kindersterftes nie ’n baie groot nageslag was nie. Maar groot gesinne was daarna steeds baie algemeen. Op een bladsy van die stamregister was daar drie gesinne met tien kinders, een met 11, en een 13.

Die eerste Fourie op Fouriesburg, bekend as Louis Fourie II of Ryk Lewies, het nege seuns en drie dogters gehad.

Nie lank nie en Fouriesburg het ’n groot Fourie-bevolking gehad, dié keer deur meer as een Fourie “gevoed”. Baie het in die Brandwaterkom gewoon. Verskeie faktore het tot ’n afname in getalle bygedra, soos die onderverdeling van plase vir nasate wat dan later onvolhoubaar geword het, die opneem van ander beroepe en die verwoestende uitwerking van veral die Anglo-Boereoorlog en die depressie.

Die foto’s, veral dié wat werklik saak maak soos op die dekblad en agterop, is skilderagtig mooi. Die omslagfoto van die Brandwaterkom is die werk van Roy van der Westhuizen. Omdat so ver in die geskiedenis gedelf word, is van die ouer foto’s wat bekom is, vanselfsprekend swart-wit, maar ook al erg verslete. Die drukkers, Print on Demand van Parow, het wonderwerke verrig met die kwaliteit-reproduksie. Dit sluit gesinsfoto’s in (dit is interessant om op te merk dat tot in ’n sekere stadium die mense op die foto’s baie ernstig en strak na die kamera gekyk het, waarna dit gebruik geword het om te glimlag). Die Oos-Vrystaat is natuurlik sandsteenwêreld, en foto’s van sandsteenhuise en ander geboue, waaronder die NG Kerk, gee ’n goeie idee van dié boukuns. Uiteraard het die Anglo-Boereoorlog ook hier verwoesting gesaai. Een huis is nie afgebrand nie omdat daar ’n baie siek persoon in was, maar hooi in die solder is na buite gedra en langs die huis verbrand. Die foto toon die brandmerke prominent. Daar is pragfoto’s van mooi holkranse in die nabygeleë pragtige Meiringskloof, en van histories-belangrike holkranse, waaronder een waar vroue en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog geskuil het.

Die staaltjies wat tussenin verskyn, wissel van komies tot tragies. Een, ondersteun deur ’n spotprent deur Frans Esterhuyse, handel oor ’n Fourie wat deur die bobbejane uitgekoggel is terwyl hy aangeklam met sy perdekar deur die lande ry. Dan lag hy vir die bobbejane en vertel hulle hy gaan die plaas binnekort onder hul basse uitsuip – wat toe ook bewaarheid is.

Ook Jopie Fourie se verhaal word in ’n afsonderlike artikel vertel.

Dis beslis ’n boek wat op elke Fourie in die land, maar veral dié wat in Fouriesburg of omgewing woon of bande met Fouriesburg het, se koffietafel hoort.

Skakel Adinie Scheepers by 082 448 8032 om ʼn eksemplaar van boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.