Boekresensie: Gangster

Gangster deur Carla van der Spuy word deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

In hierdie versameling ware verhale vertel geharde én gerehabiliteerde bendelede in hulle eie woorde oor hul betrokkenheid by gevreesde bendes. Carla van der Spuy, ’n bekende outeur van ware-misdaadboeke, het haar ervaring as joernalis en skrywer ingespan om aan lesers ’n intieme blik op bendegeweld te bring. Jacques Pratt, stigter van die Hope Hela Foundation, het haar tydens al haar Kaapse onderhoude vergesel.

Van der Spuy gesels met persone aan beide kante van die strydlyn. “In hierdie boek word talle gesprekke met gewese gangsters, slagoffers, familielede van gangsters en diegene wat hulle probeer rehabiliteer, gevoer om agter die kap van die byl te kom” (8). Ook polisiebeamptes, tronkbewaarders en pastore en groepe kry ’n spreekbeurt. Sy het die gewese bendelede en nommers in die tronke self laat praat in hulle eie taal, want sy het gevoel dat dit nodig was om hulle stories te hoor. “Om te hoor waar hulle vandaan kom. Maar ook van keuses” (9). Sy vra indringende vrae en haar informante bied aan haar ’n seldsame kykie on die binnewerkinge van die bendes.

Sy het dit nie nodig geag om oor die grusame besonderhede rondom die geweldsmisdade uit te brei nie. Die bendelede se denke, mentaliteit en leefwyse het haar eerder geïnteresseer. Hierdie besluit van haar maak dat die boodskap van hoop –  te midde van die gevoel van hopeloosheid en magteloosheid, die absolute sinneloosheid van alles, en die geweldige verskrikking wat ’n gemeenskap bly teister terwyl dit lyk of die wêreld van hulle vergeet het – soos ’n fakkel hoog en helder brand. Sy noem dan ook dat, hoewel die probleem so groot is dat mens nie weet of dit ooit opgelos sal word nie, daar wel mense is wat probeer help. “Daar is uitreike, kerke, sopkombuise en motiverinsprekers wat skole toe gaan en kinders waarsku dat misdaad nie lonend is nie. Soms met ’n gewese gangster in oranje tronkklere en in boeie om as afskrikmiddel te dien” (9). Meer sigbare en strenger polisiëring is nodig. Ook ontspanningsgeriewe vir die jonges waar hulle opbouende aktiwiteite kan beoefen.

Bendes bied aan die lede ’n geleentheid om te “behoort”. “Dit is so maklik om gemanipuleer en in hierdie onderwêreld ingetrek te word. Om te hoor dat jy potensiaal het en ’n aanwins vir hulle kan wees. En geprys te word nadat jy iemand met ’n mes gesteek het” (8). Van der Spuy lig ook erge armoede en werkloosheid uit as redes waarom kinders “met begerige oë na die gangsters se blink, rolle banknote, “brand”-klere en duur motors kyk. Hulle wil nie meer niks hê nie. Hulle wil ook iets besit. Nes die gangsters. Die gangsters word as glansryk beskou, hulle word bewonder en selfs gerespekteer” (8). Die tekort aan vaderlike rolmodelle dra ook daartoe by dat seuns in opstand kom “teenoor die sogenaamde ‘voorskootbeginsel’ en huishoudings met ’n vrou aan die hoof, en hulle besluit dan om ‘macho’ te wees. Jy word deel van ’n groep. Jy behóórt. Jou ‘broers’ sal na jou omsien” (8). Dan is dwelms natuurlik ook die spil waarom alles draai. Van der Spuy noem dat sy nie met een gewese bendelid gesels het wat nie self dwelms misbruik het nie.

Gangster beslaan 264 bladsye. Heel agter in die boek is kontakte gelys vir mense wat hulp nodig het. Die verhale van die mense in hierdie boek het my geskok, laat dink, en ook laat huil. Dit het my ook laat glimlag en in my enigheid laat handeklap, want die boek gaan oor méér as net misdadigers en slagoffers. Dit gaan ook oor diegene wat hulle lewens omdraai en die gemeenskap begin dien. Dit gaan oor helde wat opstaan en ’n verskil probeer maak.

Van der Spuy slaag daarin om die bendebedrywighede en alles wat daarmee saamgaan sonder voorbehoud aan die leser voor te hou op ’n wyse wat my beïndruk het. Haar vertellerstem is reguit en eerlik, maar nooit veroordelend nie. Sy gee die feite weer en laat die leser toe om self die bendelede se stories te verteer.

Meer oor die skrywer:

Carla van der Spuy woon in Hartebeespoort in Gauteng. Sy het ’n graad in beeldende kunste, en is al amper vyf dekades lank ’n joernalis en skrywer. Sy het al twee keer die toekenning vir die “Best Real-Life Story” ontvang by die Caxton Magazine Excellence Awards en is ook ses keer met merietetoekennings bekroon. Nege boeke, meestal ware-misdaadverhale en ’n kinderboek getiteld Poppedonsie, het al uit haar pen verskyn. Van haar werk het verskyn in Vrouekeur, LIG en Beeld. Sy het ook al geskryf vir rooi rose, Kerkbode, By en webtuistes soos Kletskerk en Boekblik. Sy is betrokke by Reading for Redemption wat leesboeke aan gevangenes verskaf.

Skaf jou kopie van Gangster hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.