Boekresensie: Genesing vir elke vrou

Genesing vir elke vrou: God kán jou emosionele pyn genees en Genesing vir elke vrou: 90 inspirerende dagstukkies deur die gewilde prediker en skrywer, Joyce Meyer word deur Struik Christian Media uitgegee.

Ek het albei hierdie boeke baie inspirerend, bemoedigend en leersaam gevind en beveel dit heelhartig aan. Die boeke fokus op die vrou se identiteit as geliefde van Jesus Christus.

Genesing vir elke vrou: God kán jou emosionele pyn genees

Meyer skryf in die voorwoord: “Vroue wat genesing nodig het vir hul siel, het net een van twee keuses. Die eerste is om aan te gaan om deur die lewe te hinkepink; om te probeer om net deur elke dag te kom. Die tweede is om te sê: “Ek het genoeg gehad van ellende, ongelukkigheid, voorgee, skuld en skande. Ek is reg om te doen wat ook al gedoen moet word om heel te word!” Sy hou Jesus voor as die Een wat ons siel volkome genees en herstel. “Met die hulp van die Here kan jy leer om só te leef en te dink dat jy die vryheid sal hê om die wonderlike vrou te wees wat die Here jou geskep het om te wees.”

Sy fokus graag op die mens se emosies, ingesteldheid en gemoedstoestande. Sy deel openhartig haar eie pynlike reis nadat sy deur haar pa seksueel misbruik is, hoe dit haar lewe, besluite en huwelik geaffekteer het, en hoe sy uiteindelik genees is van die seer. Hoewel sy in ’n vloeiende geselstrant skryf, pak sy kwessies soos onder andere bitterheid, woede, skaamte, mislukking, verwerping, verraad, verskonings, selftwyfel, selfbejammering en selfblaam sonder handskoene aan. Daarmee saam skryf sy reguit oor onder meer vergifnis, selfvertroue, die stel van grense en om nie jou eie grootste vyand te wees nie. Ek hou van die manier waarop sy voortdurend uit die Bybel aanhaal en voorbeelde uit die regte lewe gebruik om haar skrywe te staaf. Sy bemoedig vroue deur hulle te verseker dat hulle sterker is as wat hulle dink hulle is. Sy gee praktiese, uitvoerbare raad oor hoe vroue van emosioneel verwonde slagoffer na emosioneel geneesde oorwinnaar kan groei.

Dit is duidelik dat vroue wêreldwyd in emosionele pyn verkeer en gebind voel deur hulle omstandighede. Bykomende inligting oor stemreg vir vroue, onderwys, ongelyke betaling, geslagsmoord, vroulike genitale verminking, geweld en misbruik jeens vroue, boedskande en mensehandel verskyn in Bylaag 1. Suid-Afrikaanse vroue het, soos miljoene ander vroue die wêreld oor, ook ’n stryd wat armoede, misdaad, verslawing, enkelouerskap, huishoudelike geweld, verkragting, ens. betref. Hierdie stryd word veral gedurende Augustus wat ook as Vrouemaand gehuldig word, uitgelig.

Genesing vir elke vrou: 90 inspirerende dagstukkies

Hier neem Meyer vroue op ’n onvergeetlike 90-dae-reis om volkome genesing vir hulle emosionele pyn te vind deur lewegewende wyshede uit die Bybel te deel. Sy moedig vroue aan om hulle lewensdoel as God se dogters te ontdek en om, ten spyte van struikelblokke, te glo dat hulle ’n vervulde, vreugdevolle lewe kan lei. Sy hou haar eie kinderjare in ’n disfunksionele gesin waar misbruik aan die orde van die dag was, voor en getuig hoe sy deur haar pyn en leed gewerk het nadat sy ’n pad na genesing saam met God begin stap het. Dinge het nie oornag in plek geval nie, dit was ’n proses – maar sy is oortuig dat dit wél vir elke vrou moontlik is om op die ou einde genesing vir hulle stukkende siele te vind.

Meer oor die outeur: Joyce Meyer is ’n New York Times-topverkoperskrywer van meer as 100 boeke wat in net soveel tale vertaal is. Wêreldwyd saai meer as 450 televisienetwerke en 400 radioprogramme haar TV- en radioprogram Enjoying Everyday Life uit. Sy is ’n gerespekteerde, praktiese prediker wat Hand of Hope borg. Dit is ’n welsynsorganisasie wat onder meer mediese sorg aan armes bied en ook weeshuise finansieel bystaan.

Bestel Genesing vir elke vrou: God kán jou emosionele pyn genees hier. Skaf ook Genesing vir elke vrou: 90 inspirerende dagstukkies hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.