Boekresensie: Geure

Geure deur Lientjie Wessels word deur Annake Müller Publishing uitgegee.

Anna Trapido skryf oor Lientjie Wessels, die outeur van Geure en ’n deelnemer aan die televisieprogram Kokkedoor 3, die volgende: “Haar kos is deur en deur Afrikaans, maar terselfdertyd ook uiters internasionaal. Sy is ’n wêreldburger en ’n vrou van Suid-Afrika. Moderne en ouwêreldse bestanddele, resepte, kookmetodes en geure kom byeen op maniere wat herkoms weerspieël sonder om ooit die geykte cliché te wees.”

Geure sorg nie net vir ’n gastronomiese ervaring nie, maar die boek self is ook visueel baie aantreklik. Trapido gee die rede hiervoor weg: “Haar [Lientjie se] kunsskoolopleiding is duidelik, nie net in hoe sy elke bord voorsit nie, maar ook in die maniere waarop sy kosmaak – haar kunsmedium van voorkeur – gebruik as ’n proses vir groter inspirasie en selfontdekking. Wat sy doen, is kuns op sy voedsaamste. En genade, dit smaak hemels!”

Daar verskyn ’n treffende opmerking deur ene Elsa op bladsy 9: “A good cook is like a sorceress who dispenses happiness.”

Die vreeslike mooi kunswerke en helder kleure wat deurgaans deur die boek gebruik word, laat dié leser se hart sing. Die kleure is sterk, onapologeties en onbeskaamd uitdagend, nes die geure en smake wat die maaltydganger se aptyt wek. Byvoegend tot die guitige kosmopolitaanse flair is daar meer as ’n tikkie aardsheid in die eenvoud van die bestanddele te bespeur, want Lientjie grond haar liefde vir kos in die geuravonture wat sy reeds sedert haar kinderdae beleef het. Sy dra Geure dan ook op aan haar ma, Louie Wessels, wat haar “van kleins af blootgestel het aan wonderlike geure en smake”, en sy wens “ons kon nog een keer om die groot tafel sit, resepte uitsoek en saam kook.”

Die lekkerte van die boek, behalwe die mooi foto’s, besondere kunswerke en die verruklike resepte, lê vir my in Lientjie se persoonlike mymeringe wat sy deel. Lemoene laat haar byvoorbeeld dink aan “Sol y Sombra van Uys Krige, een van die boeke op my ouers se boekrak. Die boek het my op ’n verbeeldingstog geneem na die verre land Spanje “propvol beloftes”. Sy gee ook interessante inligting weer en het byvoorbeeld die volgende te sê oor gemmer: “In soutgeregte word gemmer met Thaise, Chinese en Indiese geregte vereenselwig. Marokkane is ook baie lief daarvoor om dit in hul tajines te gebruik. Hulle gebruik dit in poeiervorm wat warmer is en nie die pikante smaak van die wortel het nie. Gemmer word in sterk tajines gebruik en saam met vleis, vrugte, saffraan, kaneel, komyn en rooipeper.”

Daar is beide ’n resepindeks volgens geure (216) sowel as ’n alfabetiese resepindeks (218) agter in die resepteboek. Die resepindeks volgens geure is opgedeel in verskillende afdelings, naamlik asyn; blomme; brandrissie & mosterd; gemmer; heuning, saffraan & vanielje; knoffel; kruie; neute, sesamsaad & tahini; olywe & olyfolie; sitrus; sout; speserye, en sumak & tamaryn. Onder elke geur is verskeie resepte wat die spesifieke geur vervleg. Ek noem hier onder slegs een gereg by elke geur.

Asyn: okkerneutpiekel op roosterbrood met bokmelkkaas (15)
Blomme: skaapwors-en-waterblommetjiepot (150)
Brandrissie & mosterd: my stadiggeroosterde tamatieblatjang (115)
Gemmer: 3 koppie-hoender met gestoomde jasmynrys (49)
Heuning, saffraan & vanielje: pampoenkoek met rum-en-heuningjogurt (213)
Knoffel: tamatie-en-knoffelsop met kaasbroodvingers (103)
Kruie: garnale met feta en kruie op tamatierys (192)
Neute, sesamsaad & tahini: gorgonzola-kaaskoek met gepiekelde beet, heuning en haselneute (131)
Olywe & olyfolie: aartappelslaai met tuna-tapenade en ansjovis-mayonnaise (69)
Sitrus: beeskruisskywe met gepiekelde radyse, avokadohummus en suurlemoenaartappels (25)
Sout: soutsnoekbolletjies (168)
Speserye: varkribbetjie met chinese meesteraftreksel en pampoenkoekies (83)
Sumak & tamaryn: tamatie-en-mozzarellaslaai met sumakslaaisous en spekboom (181)

Die volgende sin verskyn op Geure se agterblad: “Met haar gunstelingbestanddele en grensverskuiwende kombinasies voer Lientjie Wessels jou weg op ’n onvergeetlike internasionale smaak-, geur- en kleuravontuur.” Ek kon dit nie beter gestel het nie. Met die toemaak van hierdie boek, voel dit vir my asof ek pas terug van ’n reis op ’n towertapyt afstap.

Skaf Geure gerus hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae