Boekresensie: God se wonderbaarlike genesingskrag

God se wonderbaarlike genesingskrag deur dr Isak Burger word deur Christelike Uitgewersmaatskappy uitgegee.

Hierdie besonderse publikasie beslaan 142 bladsye en dertien hoofstukke oor ware verhale van wonder-genesings in die lewens van gewone mense. Hierdie relevante onderwerp herinner die leser dat wonderwerke vandag steeds gebeur en dat God die onmoontlike kan doen. Die volgende skrifverwysing verskyn op die agterblad: “Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtighede vergewe, wat al jou krankhede genees (Psalm 103:2-3).

Natuurlik is daar diegene wie se wenkbroue sal lig by die blote gedagte dat gewone mense – vir wie daar opreg gebid is – bonatuurlike genesing kan ervaar. Hulle is dalk geneig om te dink dat gerugte van wonder-genesings leuens is, of dalk toevallig is. Miskien was die dokters se aanvanklike diagnoses verkeerd. Dr Burger wys egter daarop dat getuies die moontlikheid van leuens weerlê en dat omstandighede en bewyse enige kans op toeval weerspreek. Boonop is daar dokumentasie en feite wat diagnoses ondersteun. Alles dui dus wel daarop dat God wel vandag nog mense van hulle krankhede genees. “In ons tyd, midde-in en ongeag ons moderne tegnologiese era, is daar waarskynlik meer getuienisse van wonderwerke as ooit in die geskiedenis. Daar is talle boeke en visuele materiaal daaroor beskikbaar” (8).

Dr Burger skryf in die inleiding dat hy in sy lewe genoeg gesien en beleef het om te weet dat die mens en die wetenskap nie altyd die laaste woord het nie en dat bonatuurlike, onaanvegbare en wetenskaplik onweerlegbare wonderwerke wel gebeur. Hy lê egter klem daarop dat sommige prestasies wel deur die wetenskap bereik word en dat ons God moet dank vir die wetenskap en nie wantrouig daarteenoor moet wees nie. Hoofstuk een gaan reeds oor die onnodige spanning tussen wetenskap en geloof.

God se wonderbaarlike genesingskrag handel oor “die realiteit dat God soms in soewereiniteit en volgens sy eie diskresie ’n bonatuurlike wonderwerk doen of iemand op ’n wyse genees waarvoor daar geen natuurlike verklaring is nie” (9). Dr Burger noem dat hy baie selektief was met die keuring van die getuienisse oor wonderwerke wat aan hom gestuur is. Hy het probeer om dié te gebruik “wat selfs die mees kritiese en skeptiese ongelowige wetenskaplike nie van die tafel sal kan vee nie” (9). Verder het hy buitengewone moeite gedoen om mediese en wetenskaplike bewyse te kry oor die buitengewone aard van die genesings. Hy bedank dan in besonder vir dr Frieda Pienaar, ’n spesialis-internis van Bloemfontein, wat ook deur die getuienisse gewerk het.

Ek het dit hartroerend en inspirerend gevind om van die talle uiteenlopende wonderwerke in God se wonderbaarlike genesingskrag te lees. Dit het my daaraan herinner dat ons die vrymoedigheid kan en moet neem om God vir genesing te vra. Sy weë is nie ons s’n nie, maar sy genade is oorgenoeg. Die mense met wie die wonderwerke gebeur het, vertel meestal self van hulle genesing en gee aan God die eer. Daar is ook mediese verslae. Dr Burger was getuie van sommige van hierdie wonderwerke. Hy en sy vrou, Heletia, se dogter, Vasti, wat vir jare aan fibromialgie gely het, is ook wonderbaarlik genees. Aan die einde van die boek, maak dr Burger ’n aantal gevolgtrekkings. Die een wat die meeste vir my uitgestaan het, is: “Ons voel dikwels onwaardig en geestelik te ontoereikend om vir onsself of vir ander te bid. … Die vraag is nie soseer hoe groot my geloof is nie, maar dat ons die Here moet vertrou met watter grootte geloof ons ook al het” (138). Hy nooi lesers uit om hulle getuienisse oor wonder-genesings met hom by [email protected] te deel.

Meer oor die outeur: Dr Isak Burger en sy eggenote woon in Silver Lakes. Hy is in 1988 as president van die AGS verkies. Daarná is hy telkens herkies en emiriteer in September 2016. Verder tree hy gereeld as spreker op. Dan is hy ook die skrywer en medeskrywer van verskeie boeke en artikels, en sy stem word gereeld oor die radio gehoor. Gaan lees gerus op sy amptelike webblad meer oor sy werksaamhede.

God se wonderbaarlike genesingskrag kan hier bestel word. Dit is ook by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar. Lees dit gerus. Dit was vir my baie bemoedigend om daaraan herinner te word dat God die Groot Geneesheer is en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tokkel ·

Sal beslis hierdie boek koop. Wat ‘n wonderlike prediker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.