Boekresensie: Grilgrypers – Web van die mummie

Grilgrypers 2: Web van die mummie is geskryf deur De Wet Hugo en word uitgegee deur Human & Rousseau.

Wie gril en ril nou nie vir liederlike spinnekoppe en mummies nie? De Wet Hugo skryf skaamteloos sy lesers vrekbang. Jy loer heeltyd oor jou skouer of ’n kurkdroë, geelbruin biltongmens jou nie bekruip nie. Web van die mummie is boek twee in die Grilgrypers-reeks. Dit is geskik vir lesers 9-12 jaar oud, maar as volwassene het ek ook heerlik hieraan gelees en sien ek daarna uit om boek drie, Kamp vir Monsters, te lees wat in Julie vrygestel word.

Pippa woon as enigste kind saam met haar ouers op Moordkuil in die Moordenaarskaroo. Net voordat sy met haar graad agt jaar begin en in ’n koshuis in die Paarl moet inwoon, word die gemummifiseerde liggaam van ’n meisie in ’n skeur in die berg op hulle familieplaas gevind. Is dit dalk Annette, haar pa se jarelange vermiste suster waaroor niemand praat nie? Die mummie en duisende harige spinnekoppe spook by Pippa en volg haar al die pad koshuis toe. Daar is sprake van ’n familievloek wat geslagte terug oor Pippa se familie uitgespreek is. Gaan Pippa soos Annette die prys betaal vir iets wat haar grootjie jare gelede gedoen het?

Ek het die interaksie tussen Pippa en haar kamermaat en vriendin, Siphokazi, baie geniet. Afrikaans is Siphokazi se derde taal; haar taalgebruik is dus nie suiwer nie, maar dis juis haar loslit en ongedwonge manier van praat wat van haar ’n geliefde karakter maak waarmee baie kinders sal identifiseer. “Don’t you ever read?” vra Siphokazi. “Net ghosts en spirits kan ’n mens so hard klap dat ’n palm print so clearly op jou wang agterbly.”

Die boek verwys na toordokters, toorkuns, ’n heldersiener en vloeke. Daar is selfs ’n séance met brandende kerse en al, ten spyte daarvan dat Pippa vir Siphokazi vooraf waarsku: “Jy speel met vuur. Ek sal my nooit, ooit in my hele lewe ophou met sulke speletjies nie. En jy moet ook nie! Weet jy nie hoe gevaarlik dit is nie?” Sommige ouers mag dalk voel dat bogenoemde onderwerpe te donker is al vorm dit deel van ’n lekkerlees storie en word dit nie in diepte verken nie. Die boek stel die kind egter aan niks meer bloot as wat ’n hy of sy nie in elk geval al teen daardie ouderdom op TV gesien het nie. Ouers kan die boek selfs as aanknopingspunt gebruik om met sy kind oor hierdie dinge te gesels.

Die tema van die boek is dat mens sterker as jou vrees moet wees; dat jy jou ergste vrese in die gesig moet staar en dit teenstaan. Die goeie oorwin wel die bose. Maar dan eindig die boek op Hugo se kenmerkende styl – ’n spanningsvolle oomblik wat jou hare laat regop staan! Die hoofstukke is kort en die spanning bou tot breekpunt toe op teen ’n lekker vinnige pas.

Web van die mummie word as jeugfiksie deur Human & Rousseau uitgegee. Dit beslaan 128 bladsye en beloof om kinders ure lank te vermaak. Die spokerige voorbladontwerp en illustrasies is deur die talentvolle Shân Fischer gedoen en komplimenteer die inhoud van die boek.

Meer oor die outeur:
De Wet Hugo is ‘n laerskoolonderwyser by ‘n Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië. Hy het as tiener Stephen King se boeke verslind. Hy is ook lief vir Francois Bloemhof se rillers en Troula Goosen se raaiselstories. Die kinders vir wie hy skoolhou verkies R.L. Stine se opwindende Goosebumps-reeks.

Lees meer oor De Wet Hugo se boeke op sy webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.