Boekresensie: ‘Grootgeluk’ deur Jan van Tonder

Dit is die Klein-Karoo, die skrywer se “hartskontrei” soos die agterblad daarna verwys, wat in Grootgeluk, Jan van Tonder se sewende en jongste roman, nie net die omgewing is waarin dié historiese roman afspeel nie, maar meteen ook karakters in die roman help vorm, handelinge medebepaal en as’t ware die toonaard aandui vir die intriges in die verhaal. Die fiktiewe plaas Grootgeluk lê iewers tussen Oudtshoorn en die Gamkarivier en dit is dié omgewing met die Swartberge aan die noordekant en die see verder suid waar die Schoemans met volstruise boer.

Van Tonder plaas sy roman tussen 1858 en 1914, die hoogbloei van die volstruisbedryf in die Klein-Karoo. Dié tydperk sluit benewens erge droogte en ʼn insinking in die ekonomie van die streek ook twee goue eras in die pluimbedryf in, maar so ook die rimpelings van die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog. Dit was die uitbreek van dié oorlog (en die koms van die motor en veranderende modegiere) wat daartoe bygedra het dat die veremark in duie gestort het.

Van die eerste gewaarwordings wat die leser kry in die dié roman, is die belang van tyd en plek. Deur jaartalle te benut as opskrifte vir hoofstukke of dele van hoofstukke word die chronologiese voortgang van die verhaal benadruk, maar eweso die feit dat mense grootliks die produk van hul tyd is. Soos wat mense die produk van hul omgewing is. Watter ambisie (én ironie) sit daar nie byvoorbeeld agter ʼn plaasnaam soos Grootgeluk nie – die grond waar Andries Schoeman die septer én die sweep swaai.

Benewens Andries en sy vrou, Hendrien, is Grootgeluk ook die tuiste van Hessie, ʼn vrou wat as jong meisie na die plaas gebring is, en haar seun Tijs Velaat. Tijs en sy ma woon ʼn klipgooi van die deftige opstal in ʼn tweeslaapkamerhuisie – so na aan die groot huis dat Tijs snags die werfhonde kan hoor snork (35).

Vernuftig smee Van Tonder ʼn band tussen landskap en karakters. Vroeg in die boek word Andries (Dries/baas Anneries) beskryf as ʼn man met oë “wat gewoonlik blou is soos Oudtshoorn se lug” (18) en Tijs as iemand wat dalk nóg nader aan die veld leef: “Veldgoed gaan nooit by my oë verby nie: kalkoentjies en snotterbelle en bobbejaanoor en granaatbos, of hulle blom of nie.”

Van Tonder span twee vertellers in om die wel en wee op Grootgeluk te verhaal: Hendrien wat die binnewêreld van die huishouding weergee, en die stomme Tijs wat van buite af inkyk en grootliks verantwoordelik is vir kommentaar op gebeure. Bitter min besonderhede gaan by Tijs se oë verby.

Tijs is die man wat die leser op die eerste bladsy in die tronk op Oudtshoorn teëkom. En onwillekeurig roep dié gegewe Van Tonder se eerste bundel kortverhale, Aandenking vir ʼn vry man (1984) op, verhale waarin die mens op sy wreedste én kwesbaarste verbeeld word. In die lewe van ʼn karakter soos dié van Andries word albei uiterstes verreken.

In ʼn onderhoud net ná die verskyning van die boek het Van Tonder uitgebrei oor die maande lange navorsing wat hy vir die roman in die argief van die CP Nel-museum op Oudtshoorn gedoen het. ʼn Hofverslag in ʼn koerant van die laat 1900’s was die sneller.

“Dis die verhaal van ʼn boerenooi wat op ʼn uitlander verlief geraak en saam met hom weggeloop het. Haar vader het die twee, nog nie eens van die plaas af nie, gekonfronteer en die verleier van sy dogter geskiet. Die man het later in die Oudtshoornse hospitaal gesterf. Dele van die hofsaak word woordeliks aangehaal, maar die verloop en afloop van die vertelling in Grootgeluk lyk anders.”

Grootgeluk is ʼn verwewing van geskiedenis en fiksie, van die politiek van die dag, van gemeenskapswaardes en van vergrype, van blinde ambisie en noodlottige eenogigheid. In die Van Tonder-tradisie is dit ʼn boek wat boei, meesleur en jou bowenal laat besef dat Toynbee reg was: Die enigste ding wat ons uit die geskiedenis leer is dat ons nie uit die geskiedenis leer nie.

Jan van Tonder se Grootgeluk word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R328.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.