Boekresensie: Helde van Suid-Afrika 1

Helde van Suid-Afrika 1 is geskryf deur Wendy Maartens en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Hierdie sagtebandboek van 64 bladsye bevat ses ware kinderverhale en is geskik vir lesers sewe jaar en ouer. Die eenvoudige taalgebruik en die toeganklike manier waarop die stories vertel word, sorg dat beginnerlesers die boek maklik self sal baasraak. Alex van Houwelingen se kleurvolle illustrasies verdien spesiale vermelding. Ek het my behoorlik verkyk aan die mooi prente en dit het beslis daartoe bygedra dat die aksiebelaaide stories in my verbeelding lewe gekry het.

Die boek handel oor ses van die heel dapperste Suid-Afrikaanse helde en is in die volgende hoofstukke opgedeel:

In “’n Perd van ’n ander kleur” beland Oupa Hank in ’n rivier wat afkom nadat hy probeer het om Beauty se vulletjie uit die water te red. Die dapper merrie, Beauty, red Oupa Hank se lewe deur hom met haar neus wal toe te stoot. Sy red ook haar eie vulletjie.

In “Die matriekheld van Henley-on-Klip” gee Johan le Roux van Daleside in 1970 sy lewe om sy maats te red wanneer die skoolbus op die treinspoor gaan staan. Johan stamp ’n seun by die een venster uit. Hy skop die bus se noodvenster ook uit en gooi nog ’n seun na veiligheid. Dan tref die trein die bus en 23 van die 42 kinders sterf. Johan ook.

In “Nelson Mandela, ’n leier so na ons hart” lees ons oor Nelson Mandela wat by die ANC aangesluit het omdat hy wou veg dat alle mense regverdig behandel moes word. Hy word gevang en tronk toe gestuur. Ná 27 jaar word hy vrygelaat en word hy ook die president van die land.

In “Nkosi Johnson veg vir hoop” lees ons van Nkosi, ’n seuntjie wat met die MI-virus in sy bloed gebore word. Nkosi se skoolmaats is bang dat hy hulle gaan aansteek en die hoof wil nie hê hy moet meer skool toe kom nie. Hulle vra hom egter om verskoning toe hulle meer leer oor die MI-virus en vigs en vra hom om terug te kom skool toe. Nkosi vertel hierna vir soveel moontlik mense van sy siekte sodat hulle ander vigslyers soos hy kan help.

In “Wolraad Woltemade, ’n melkboer met durf” storm Wolraad sewe keer op die rug van sy perd die woeste see binne wanneer ’n skip sink. Van die drenkelinge klou aan Wolraad en sy perd vas en hulle bring hul veilig strand toe. Wolraad en sy perd sterf, maar hulle het veertien mense se lewe gered.

In “Japie Greyling swyg” weier die jonge Japie om vir kaptein Seeley te sê waar sy pa en die boere se kommando is. Ses soldate moet Japie skiet as hy nie wil klik nie. Japie sal egter eerder doodgeskiet word as om sy pa en die kommando te verraai. Kaptein Seeley kry respek vir die dapper seuntjie en spaar sy lewe.

Skaf gerus hierdie interessante boek aan vir jou kind. Helde van Suid-Afrika 1 is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Wat ‘n swak resensie.

Om kinders te leer ‘n moordenaar is ‘n held.

SWAK!

Barend van der Merwe ·

Dit was oorlog en hy het self teen moordenaars geveg.

Lyk na ‘n uitstekende boek!

et1 ·

Wanneer was die slagoffers van die Kerkstraat-bom skuldig bevind aan moord?

CG ·

En so leer ons ons kinders dat die ANC se weergawe van die geskiedenis inderdaad die reine waarheid is – dat hulle die helde en engeljies was en die Afrikaners die varke in die verhaal… Dit is siek verby…..

humor ·

Historiese verraad vermeng met treffende verhale om die boek toeganklik te maak dmv breinspoeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.