Boekresensie: Het ek my geloof verloor?

Het ek my geloof verloor? deur Pierre du Plessis word deur Lux Verbi uitgegee.

Pierre du Plessis skryf krities, onderhoudend en soms met ’n humoristiese inslag oor drie hooftemas in hierdie boek, naamlik God, swaarkry en die kerk. Hy raak ook verdere temas soos geloof, godsdiens, spiritualiteit en die Bybel aan. Sy ideale lesers is dié wat durf om te erken dat hulle twyfel en stoei en dalk “nie meer weet wat geloof regtig beteken of wat die doel van godsdiens en spiritualiteite is nie. Wat nog te sê van sakramente, die liturgieë en die gebede” (22). Hy reken dat twyfel noodsaaklik is tot groei, want dit is ’n teken dat ons dink en besin oor wat ons glo, wie ons is, wie God is en hoe alles inmekaarpas.

Het ek my geloof verloor? beslaan 184 bladsye en tien hoofstukke. Dit het ’n sagtebandomslag en is in ’n gerieflike skrifgrootte gedruk. Tom Smith, wat ook die voorwoord geskryf het, is dankbaar dat daar ’n hulpbron is vir ons almal wat ook sê “Ek glo … help my in my ongeloof.” Hy merk op dat toe hy hierdie boek gelees het, dit hom opgeval het dat dit toepaslik vir ons sekulêre era is en dat almal wat twyfel baat kan vind by die gesprek daarin.

Du Plessis skryf: “Ons almal het ’n prentjie van God, en dit is hierdie prentjie wat later nie meer sin maak nie, nie meer pas nie. Die vrae het te veel geword vir die prentjie en die prentjie het begin dof raak. Geloof, godsdiens en spiritualiteit gaan egter nie soseer oor antwoorde op hierdie vrae nie, maar eerder oor baklei, oor worstel, oor twyfel en om die worsteling en die twyfeling te aanvaar, te vier, selfs lief te hê” (24). Hy wys daarop dat Jakob met God gestoei het, en dat God dié juis geseën het omdat hy met Hom worstel. “God stel nie in robotte belang nie; God stel belang in verhoudings, en verhoudings is morsig” (28).

Het ek my geloof verloor? is propvol aanhalings, idees en skeppings van mense soos Peter Rollins, Paul Tillich, CS Lewis en Jordan Peterson. Du Plessis noem homself ’n kurator omdat hy ander se werk saam met sy eie kan voorhou. Dis juis hierdie samevoeging van denke wat hierdie boek so interessant en geslaagd maak. Moet mens bly glo op die tradisionele manier, of kan mens durf anders dink oor waarheid, God, die Bybel en kerk? Lê die antwoorde slegs in dogmatiese belydenisskrifte of kan mens durf vrae vra en wonder? Du Plessis se mening is dat God ons oneindig liefhet. Hy is daar en Hy bestaan. Hy hoop dat hierdie boek vir lesers as ’n gids op hulle geloofsreis sal dien. Hy skryf: “My selfsugtige hoop is dat hierdie boek die kooltjie vuur so ’n klein bietjie aangeblaas het, dat dit selfs sal vlamvat, al is dit eers oor ’n paar jaar. … En dat jy dalk vir my sal sê: ‘Pierre, ek dink ek het dalk begin glo’” (179).

Meer oor die skrywer: Pierre du Plessis is ’n leraar by InVia gemeente in Rondebosch, Kaapstad. Sy boek getiteld Jesus ruik na mirre en stof het die Gerrit Brand-Desmond Tutuprys verower. Hy lewer gereeld bydraes tot verskeie blogs. Sy praatjies oor kreatiwiteit en hoe om te leef en te werk in ’n vinnig veranderende wêreld kry groot aftrek.

Het ek my geloof verloor? is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars. Skaf dit gerus ook hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Foeitog. As die Here nie doen wat ek wil he nie, dan stamp ek my voetjies en maak of Hy nie bestaan nie.

Barend van der Merwe ·

Ek het Du Plessis se boek reeds gelees. Hoeveel teoloe van vandag beoefen nog hulle geloof volgens die drie belydenisgeskrifte van die Gereformeerde kerke? Mens sit met die verdere komplikasie dat kredobaptiste tipies nie die Calvyniste as ‘Christene’ erken nie. Dit maak dit nogals kompliekyted as jy nou eers begin vra wie het hulle geloof verloor en wie nie! Ek praat onder korreksie hier maar, ek kry nie die indruk dat Du Plessis ‘n goeie ou dolerende gemeente daar in Kaapstad bedien, belyn met die Kairos-netwerk nie.

Oor die Bybel skryf hy in sy boek: dis letterkunde. Maar elke ander soortgelyke teologiese boekie herinner ons daaraan. Die probleem is juis dat die belydenisgeskrifte nie maar na die Bybel kyk as net nog letterkunde nie, maar as die ‘Woorde’ van hulle ‘God’.

Miskien die kern van hierdie hele aangeleentheid vir my is die skynbare gemak waarmee mense steeds die woordjie ‘God’ rondstrooi. So asof alle mense dieselfde ding verstaan wanneer die woordjie ingespan word.

Atta ·

As ʼn leraar die dag teologie verruil vir filosofie dan lê ateïsme net om die draai en loer. Dominee, preek asb die Woord van God, dit is jou opdrag. Preek Christus en Hom as die gekruisigde. En as jy nie glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is nie, gaan verkoop eerder tweedehandse karre want dan hoort jy nie op ʼn preekstoel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.