Boekresensie: Hoe om ’n haas te vang

Hoe om ’n haas te vang is geskryf deur Claire Freedman en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Ek beveel die topverkoperskrywer Claire Freedman se skreeusnaakse boek aan vir oud en jonk al word dit verkoop as kleuterfiksie vir kinders drie jaar en ouer. Nie net sprankel die teks nie, maar die kostelike illustrasies deur die briljante Monika Filipina is ‘n visuele fees.

Die beroemde Nare ou Wolf, ʼn opperste haaskenner, skryf ʼn boek om vir sy honger wolfmaters raad te gee oor hoe om sappige hasies te vang waarmee hulle heerlike haasbredies en haaspasteie kan maak. Hy bespreek verskeie haasvang-tegnieke in sy gids propvol kreatiewe wenke en planne. Maar o wee, geen plan is flopbestand nie en daar is altyd nagevolge om in ag te neem! Hasies is baie slimmer as wat hulle lyk en laat hulle beslis nie maklik vang nie. Boonop moet wolwe oppas vir bere wat weer van húlle ’n maaltyd wil maak.

Nare ou Wolf bespreek sy slinkse bekruip-strategie en skelm gat-in-die-grond-poets. Hy brei ook uit oor sy oulike liefie-lokaas, vernuftige posman-plan sowel as sy bons en bespring taktiek. Uiteindelik gee Nare ou Wolf bes en leer vir sy wolfmaters hoe om vegetariërs te word en liefs van groente te lewe.

Hoe om ’n haas te vang het 32 lekkerlees en lekkerkyk-bladsye wat die leser se lagspiere prikkel en maak dat jy nie kan wag om om te blaai nie. Let veral op die mooi taalgebruik: “Nou moet jy slinks wees om jou ete te kry. Stap kammalielie net fluit-fluit verby …”

Meer oor die skrywer en illustreerder:
Claire Freedman is bekend vir haar suksesvolle prenteboeke, insluitend Aliens Love Underpants en A Squabble and a Squawk. Haar boek Die avonture van superseun is onlangs in Afrikaans deur LAPA Uitgewers uitgegee.
Monika Filipina het ’n MA-graad in kinderboekillustrasies aan die Cambridge School of Arts behaal. Sy skryf ook graag.

Claire Freedman se Hoe om ’n haas te vang is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R135,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.