Boekresensie: Hoezit! Die wonderwêreld van die ruimte

Hoezit! Die wonderwêreld van die ruimte is geskryf deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Weetgierige feitevrate sal beslis hierdie wonderlike opvoedkundige boek propvol aktiwiteite, speletjies, kopkrappers en vreemde en fassinerende feite oor die ruimte geniet. In Hoezit! Die wonderwêreld van die ruimte span die bekroonde skrywers, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, weereens hulle talente saam – dié keer om lesers bewus te maak van die wonder van die uitgestrekte hemelruim.

Mooi foto’s en kleurvolle illustrasies wakker die verbeelding aan en die aspirant sterrekundige sal ure lank se kyk- en leesgenot put uit die boek wat uit 48 bladsye bestaan. Oud én jonk sal hulle verstom aan al die feitelike inligting en die interessante aanbieding daarvan geniet. Die boek kan vir ontspanning gelees word, maar dit is ook die perfekte hulpbron vir skoolprojekte.

Die boek beantwoord vrae soos: Wat is die ruimte? Hoekom is die maan vol gate? Wat is ’n magnetosfeer? Hoe groot is die Melkweg? Waarom is Mars rooi? Waaruit bestaan Saturnus se ringe? Ek het dit veral interessant gevind om te lees wat ruimtevaarders alles op ’n ruimtestasie doen. Dis ook moeilik om te glo dat daar mense is wat aan astrofobie – ’n intense vrees vir die sterre en die ruimte – ly! Daar is net soveel wonderlike dinge om te leer oor sterrestelsels en veral die planete in óns sonnestelsel!

Het jy geweet meer as een miljoen aardes kan in die son pas? Al die planete draai antikloksgewys om hulle as – net Venus draai kloksgewys. Die son se lig neem sowat 499 sekondes om die aarde te bereik. Jupiter het 69 mane. Winde op Neptunus waai min of meer teen die spoed waarteen ’n Amerikaanse F/A-18 Hornet-vegvliegtuig vlieg. Elon Musk, ’n Suid-Afrikaans gebore sakeman, se maatskappy SpaceX lanseer ’n motor die ruimte in met die Falcon Heavy wat die kragtigste vuurpyl ooit is. Mark Shuttleworth, ook van Suid-Afrika, het in 2002 $20 miljoen betaal om saam met die Russiese Sojoes TM-34 op ’n sending na die Internasionale Ruimtestasie (IRS) te gaan. Die IRS wentel elke 92 minute om die aarde.

Al hierdie feite en soveel meer is in Hoezit! Die wonderwêreld van die ruimte beskikbaar. Ek hou veral van die hoofstuk wat oor die moontlikheid van lewe in die buitenste ruimte handel. Hier kan jy meer lees oor VVV’s en saam bespiegel of daar Marsmanne is of nie. Wyle professor Stephen Hawking het geglo dat daar wel lewende wesens op ander planete is. Jy kan die SETI@home-rekenaarprogram aflaai wat radioteleskoopseine uit die buitenste ruimte ontleed vir tekens van lewe indien jy wil help soek na ruimtewesens!

Skaf gerus hierdie leersame boek aan vir ’n weetgierige kind. Jy sal hiermee sy of haar algemene kennis oor die ruimte verbreed.

Die uiters gewilde Hoezit-reeks is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za of Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.