Boekresensie: Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam

Hoezit-15-Die-wonderwêreld-van-my-liggaam-HIGH-RES-002.jpg

Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam is geskryf deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Ek is heel in my skik met hierdie opvoedkundige volkleurboek wat propvol aktiwiteite, speletjies, kopkrappers en interessante feite is oor die menslike liggaam. In Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam span die bekroonde skrywers, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen, hulle talente saam om kinders (én volwassenes!) bewus te maak van die wonder van ons liggame.

Die foto’s en kleurvolle illustrasies in dié leersame boek van 48 bladsye is ’n visuele bederf en die feitelike inligting word op ’n prettige wyse aangebied wat kyk- en leesgenot beloof. Die boek kan vir ontspanning gelees word, maar is ook die ideale hulpbron vir skoolprojekte. Kinders wat feitevrate is, sal nie genoeg van hierdie boek kan kry nie. Jy kan nie wag om om te blaai en te sien wat wag op die volgende bladsy nie.

Het jy geweet dat die bloedvate in ’n grootmens se lyf meer as 100 000 km lank is? Die gemiddelde mens asem daagliks sowat 11 000 liter lug in. Jou speekselkliere produseer ongeveer 1,5 liter spoeg per dag. Die menslike brein bevat sowat 80 miljard senuweeselle. Jou ooglede knip byna 10 000 keer op ’n dag. Vroue se reuksintuig is meestal beter ontwikkel as mans s’n. Jy het ongeveer 10 000 smaakknoppies. Al hierdie feite en soveel meer is in Hoezit! Die wonderwêreld van my liggaam beskikbaar.

Die boek beantwoord ook interessante vrae soos: “Waarom grom my maag?”, “Waarom is ’n gaap aansteeklik?”, en “Waarom is party mense kleurblind?” Daar is selfs ’n toets om te bepaal of jy dalk kleurblind is!  Ek hou veral van die ’n Nuwe lewe-hoofstuk. Dit verduidelik hoe ’n baba ontwikkel vanaf bevrugting wanneer ’n embrio-sel binne 24 uur verdeel in twee selle tot wanneer die baba aan die einde van 40 weke gebore word.

Ek vermoed dat kinders baie sal hou van die hoofstuk wat vertel wat gebeur wanneer jy slaap. Het jy byvoorbeeld geweet dat een uit elke tien mense net in swart en wit droom?

Skaf gerus hierdie uiters leersame boek aan vir ’n weetgierige kind. Jy sal hiermee sy of haar algemene kennis oor die menslike liggaam verbreed.

Daar is veertien ander titels in die Hoezit-reeks waarvan daar al meer as 56 000 kopieë verkoop is. Dit is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za

Louise Viljoen is ‘n resensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.