Boekresensie: Hou die kruit droog

Hou die kruit droog deur C. Johan Bakkes word deur Protea Boekhuis uitgegee.

In hierdie dae dat mense nie meer so geredelik vrylik rondbeweeg en met vakansie gaan nie, smag leunstoelreisigers na boeke wat ten minste hulle verbeelding op reis neem. Een só ’n boek is Casparus Johannes Bakkes se Hou die kruit droog.

Die uitgewersbrief beskryf die boek só: “Dit bevat Bakkes se roerende, inspirerende en vreksnaakse Facebook-plasings in inperkingstyd, toe hy gereeld vir sy lesers gevra het om hul kruit droog te hou. Saam met foto’s uit sy albums en lekker filosofiese, snaakse brokke uit sy vorige boeke word dit so persoonlik soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur. Die kwasterige Bakkes tree in al sy grinterige glorie na vore. Dis ʼn dol reis vol humor en deernis.”

Die skrywer het die volgende in ’n verklarende nota oor Hou die kruit droog te sê: “Die volgende geskrif is nie ’n “boek” nie. Dis los gedagtes en ’n kopreis gedurende inperking (“Grendeltyd” per RSG) in boekvorm. Hy noem dat sy redakteur, Deborah Steinmair, met ’n kennersoog en insig hierdie geskrif aanmekaargetimmer het nadat hulle in sy ou vertellings gaan delf het. Van sy vorige skrywes sluit in: Moer toe die vreemde in (2001), Nou’s ons in ons donner in (2006), Norrevǿk (2008), To Hell and Gone  (Engelse vertaling van sy eerste twee boeke; 2008), samoe(r)sa reis (2010), Oepse Daisy (2011), Openbaring (2016) en Erfgeld is swerfgeld (2020). Hou die kruit droog word opgedra aan Bakkes se twee kleinseuns, Erik en Casparus Lafras, met die wens dat hulle mierpote in hulle bloed sal hê, want hy glo die enigste manier om ’n plek te leer ken, is om hom te loop.

Heel in die begin van Hou die kruit droog wonder Bakkes: “Wat maak my heeltyd wil wegneuk?” Hy volg dit op met: “Hierdie wegneuk kom egter nie van gister af nie. Ek is so “bebore”, het my ma altyd spottenderwys gesê. “Hiperaktief” het die boeke my beskryf. Ek’t nonstop geskrou, so in my eie kot, sê my ma. Die dokter het gesê: “Hy kry nie genoeg tiet nie,” maar sy’t geweet dis omdat ek nog nie kon loop nie … Ek wou sien wat aan die ander kant van die koppie lê …”

Hierdie sagtebandboek beslaan 224 bladsye en bevat 42 reissketse. Dis klaar ’n bederf net om jou vinger oor die Inhoudsopgawe te laat gly. Hier is net ’n paar titels: “Die lewe is ’n driepootpot”, “Drinkrituele, ramen en reisigers”, “Johannes die Loper se gunstelingbestemmings”, “Briekloos en bittereinders”, “Waar jou siel langbeen kan sit”, “Loopdop in Derry en Brulsand”, “Mag ons nooit so arm wees dat ons net geld oorhet nie” en “Laaste toegif: Begraafplaas van die ou bulle”. Alhoewel ek die vertellings sommer baie geniet het, moet ek bieg dat die foto’s my gefassineer het. Dit het baie beslis bygedra tot my genieting van die boek.

Bakkes se beskrywings van sy reiservaringe is boeiend en ook leersaam. Hy neem sy leser saam met hom die wêreld in – of hy nou ’n berg in Ethiopië uitklouter, by ’n lodge in Namibië inboek of die Kalahari met ’n bakkie aandurf. Mensekennis en fyn en diep kyk skemer deur in sy werk. Ek het baie lekker aan Hou die kruit droog gelees en dit baie inspirerend gevind.

Uittreksel: Ons ry deur ’n see van waaiduine, ons klim teen basaltkoppe uit en kyk ver ons toekoms in, ons loop oor soutpanne ons verlede tegemoet, ons lê skuiling saam met strandlopers honderde jare oud, ons baljaar saam met robbe in die ysige water van Kaap Fria en spoel saam met wrakke by die mond van die Khumib uit, ons tel hande vol agaat en ametis op en laat dit deur ons vingers glip, ons kuier laat om vure, met die sterrehemel wat ons toevou, ons lag en huil en ons ontdek soos die reisigers van ouds … En ek weet ons het klaar daai som gemaak: ons ontdek weer vriendskap, broederskappe en kameraderie” (132-133).

Kry jou kopie van C. Johan Bakkes se Hou die kruit droog hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.