Boekresensie: Huis van gruwels

Huis van gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel deur Susan Cilliers word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Huis van gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel skok jou stil. Die boek lees soos ’n riller wat jou wind uitslaan. Mens sukkel om te glo dat dit ’n ware verhaal is en nie grieselrige fiksie nie.

Landi is die oudste van vyf kinders wat in Mei 2014 gered is uit die opspraakwekkende Springs-gruwelhuis nadat haar erg aangerande oudste broer na die buurvrou om hulp gevlug het. Sy vertel haar gruverhaal aan Susan Cilliers, ’n senior verslaggewer vir Beeld en Netwerk24. Landi is nou mondig en onthou in die fynste besonderhede hoe haar sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare lank aangehou en “aangerand, getreiter en gemartel het”.

Cilliers verweef Landi se vertellings met die feite van die saak. Sy skryf ook oor die hofsaak en verwys na verskeie kundiges se verslae en indrukke oor die situasie sowel as oor wat van die kinders geword het nadat hulle uit die helhuis verwyder is.

Landi noem op bladsy 1: “My pa is ’n sterk, fris geboude donkerkopman. My ma is stil, maer en verskrik.” Dan merk sy die volgende op oor die gewelddadige, gespanne atmosfeer waarin hulle daagliks moes oorleef: “Pa en Ma se dwelmgebruik in ons huis het gepaardgegaan met prostitusie, pornografie en siek seks. Van kerk [en skool] was daar nie sprake nie” (p. 4). Sy beskryf verstommende insidente van mishandeling, verwaarlosing en molestering, en sy onthou (aldus die uitgewersbrief) “hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het”.

“Enigiets kon Pa kwaad maak. Die een oomblik was hy nog in ’n goeie bui; die volgende oomblik was die duiwel los” (p. 19). Landi sê: “Ek het nooit veilig gevoel nie” en “In ons huis was dit normaal dat die pa die ma … slaan …” “Dit was nie vir ons snaaks dat alles altyd sleg moes gaan en die pa die kinders gereeld geslaan het nie” (p. 19). Landi noem dat haar ma bang was vir haar pa, “want sy het, nes ons, geweet as sy nie doen wat hy sê nie, gaan hy haar slaan” (p. 22).

Die hof het Bronwynn Stollarz se verslag aanvaar “dat die kinders se pa waarskynlik ’n sadis en psigopaat is wat sy omgewing tot op ’n patologiese vlak wil beheer en geweld sal gebruik om sy behoefte te bevredig om te domineer” (p. 112). Regter Eben Jordaan merk vroeg in Augustus 2018 op: “Nie een van hierdie kinders is versorg nie.” Hy sê ook: “Al vyf die kinders is erg verwaarloos en moes oorleef in ’n vieslike, vuil huis waar die rotte rondgehardloop het.” Hy lê Landi se pa ’n swaar straf op van altesaam 67 jaar waarvan hy effektief 35 jaar moet uitdien. Landi se ma kry onder meer ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar. Die hof het ook bevind dat sy aan “battered-woman”-sindroom gely het en dat sy nie kon keer dat die kinders aangerand word nie (p. 16).

Daniëlla van Heerden, bekende TV-joernalis, beskryf Huis van gruwels as “’n ontstellende, maar noodsaaklike boek oor die huis wat ’n hele land geruk het”. Dit is egter ook ’n boek van hoop, want die dapper Landi het heling en genesing gevind en haar sibbe het ook die hulp en ondersteuning gekry wat hulle so desperaat nodig gehad het.

Hierdie tipe leesstof maak die publiek bewus daarvan dat mishandeling soms reg onder jou neus kan gebeur. Mens moet jou oë en ore oophou, want dan sal dit vir mense soos Landi se pa moeiliker wees om met hulle gruweldade weg te kom.

Huis van gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel word deur LAPA Uitgewers uitgegee. Koop die boek nou by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elize du Plessis ·

Ek het Desember hierdie boek gelees en dit was uitstekend. Was ‘n paar kere in trane en totaal verslae oor hoe ouers sulke tipe goed aan hulle eie kinders kan doen. In my opinie verdien die pa sowel as die ma om agter tralies te wees.

Willa ·

Ek het die boek as ‘n Kersgeskenk gekry. Dit was ontstellend om te lees, en ek moet bieg soms was daar tye dat ek die boek toegemaak het en gewonder het of ek verder wil lees. Ek voel egter die Ma het baie lig hiervan afgekom – ek verstaan die feit dat sy ook bang was vir die sadis, en dat sy nie baie intelligent is nie – maar indien sy werklik wou sou sy en die kinders al baie vroeer uit die hel kon ontsnap.

Smurf ·

Wil nie die boek lees nie……..genoeg gehoor en gelees in die media om my nagmeries te gee….

OK ·

Die boek is baie baie swak geskryf. Ek sal dit beslis nooit aanbeveel nie. Ek verstaan die kinders het baie trauma beleef maar die skryfer kon dit glad nie uitbeeld nie. Die boek was nie naastenby so goed geskryf soos “Dis ek, Anna” nie. En boonop is dit baie geld om te betaal vir so n dun boekie.

Springs Inwoner ·

Ek ry steeds daagliks verby die huis waar hierdie nare gebeure plaasgevind het; dit maak my egter bang om te weet dat hierdie tipe gedrag in baie ander huise ook gebeur.. net jammer alle kinders en vroue/mans kry nie die kans om “vry” te kom nie :(

Lorraine Hinrichsen ·

Ek voel die boek het by my nog meer vrae laat ontstaan.
Daar word baie gemeld dat hulle die huis moes netjies hou? Tog was dit in n skokkende toestand gevind.
Wat het geword van die mense wat in die erf gebly het … die man wat vir hulle soms gaan kos koop het? en die familie lid waarby die seun afgelaai is na die laaste aanranding.

charmaine ·

Ek wil ook graag die boek lees maar ek weet dit gaan my maande vat om “te herstel” juis omdat dit werklik was. Ek is verslaaf aan lees ek moet elke dag lees, en al lees ek n lekker misdaad of n lekker romanza, die stories bly my so paar dae by, en die boek gaan by spook ek sal nog die “guts” kry en hom dalk aanskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.