Boekresensie: Iemand wat verdrink en ander verhale

Iemand wat verdrink en ander verhale is saamgestel deur Fanie Viljoen en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Tieners wat van lees hou maar nie altyd genoegsame tyd op hande het om gedurende skoolkwartale dik boeke te verslind nie, sal baie opgewonde wees om hierdie pragtige publikasie in hulle hande vas te hou. Iemand wat verdrink en ander verhale bevat kortverhale geskryf deur onder andere gunstelingskrywers soos Marita van der Vyver, Fanie Viljoen, Christien Neser, Nathan Trantraal, Nanette van Rooyen, Cecilia Steyn, Anzil Kulsen en Zelda Bezuidenhout. Die sagtebandboek met die treffende heldergeel voorblad beslaan ’n allemintige 200 bladsye of te wel vyf en twintig verhale wat kort genoeg is dat mens dit saans voor slaaptyd kan kafdraf.

Die titels van die kortverhale is genoeg om jou lus te maak om te begin lees. Ek noem ’n paar van die titels hier as bewys: Die meisie wat graag wou vlieg, Freaks, Dreigklippe, Naalde, Wraak proe soos milkshake, Bea en die BVV, Beukes en ses biljoen zombies, Die Walkures en Hartedief.

Bea en die BVV geskryf deur Arleen Stone het my aandag getrek omdat die hoofkarakter, Bea, bloginskrywings gebruik om haar verhaal te vertel. Sy skep ’n blog, Facebook-, Instagram- en YouTube-rekeninge vir haar feminis ouma en laai foto’s en video’s van dié en haar (befoeterde) vriendinne se vergaderings, werkswinkels en praatjies daarop. Kort voor lank word ouma Magda jouwaarlik ’n “influencer en ’n social media hit”! Dié verhaal speel heerlik op die stoep van die tegno-mileu waarin hedendaagse tieners hulself bevind.

Op die agterblad word elke verhaal in ’n enkele sin opgesom. Hier is ’n paar lusmakers: Iemand wat gesond eet vir Instagram-likes, Iemand wat begrafnisblomme kry vóór hy sterf, Iemand wie se lewe verfrommel, Iemand wat vir die eerste keer gim toe gaan, Iemand wat ongelukkig ’n gelukkige trekking wen en Iemand wat ’n nuwe hart kry. Die uiteenlopende kortverhale is heerlik slim geskryf en prikkel die leser se belangstelling van meet af. Die uitnodiging, “word iemand wat verdrink in stories”, is heel gepas, want mens wil beslis net aanhou lees.

Marita van der Vyver se verhaal, Iemand wat verdrink, handel oor ’n seun se versugting om nog één keer met sy baie siek ma te kon baklei. “Skreeuend stry, soos vantevore, só die hel in te raak vir haar dat hy kan uitroep: “My ma verstaan my nie!” Dis immers ’n voorreg om ’n ma te hê wat jou nie verstaan nie en waarmee jy kan baklei …

Alhoewel Iemand wat verdrink en ander verhale as jeugfiksie bemark word, het ek as volwassene die verhale as verfrissend en anders beleef. Ek het byvoorbeeld baie gehou van die oortuigende wyse waarop Zelda Bezuidenhout haar verhaal getiteld Nommer Een op bladsy 152 begin: “Ek is moeg. Vrekflippenmoeg. Dis al waaraan ek kan dink toe ek iewers tussen slaap en wakker my selfoon se alarm doodgedruk kry. Dit gebeur as mens tot drieuur in die oggend skelm na TV-reekse op jou laptop kyk.” Is dit nou nie tipiese tienergedrag nie?!

Meer oor die samesteller:

Fanie Viljoen se verhaal, Superzero’s, verskyn op bladsy 95. Viljoen is ’n geliefde en baie produktiewe skrywer in Afrikaans. Daar het al dosyne boeke (fiksie en niefiksie) uit sy pen verskyn. Hy skryf ook radiodramas, kortverhale, gedigte en rympies. Sy TV-enkeldrama, “Môre as ons groot is”, het in 2016 op TV verskyn. Hy skilder graag en het al verskeie boeke se illustrasies gedoen.

Iemand wat verdrink en ander verhale word deur LAPA Uitgewers uitgegee en is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar. Dit kan ook hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.