Boekresensie: Ilze Beukes se Ondersoek my hart

Deur Louise Viljoen

Ek is baie bly dat ek Ilze Beukes se skryfwerk ontdek het. Ek het haar Hartklop-liefdesverhaal, Ondersoek my hart, baie geniet en gaan beslis op die uitkyk wees vir ander boeke uit haar pen.

Madelie Botma is ’n toegewyde onderwyseres wat ’n groot liefde vir kinders koester. Sy is egter doodbang vir dokters en hospitale weens die invloed wat haar ma se siekte en lyding op haar gehad het as klein dogtertjie. Sy was alleen by haar ma toe dié dood is en voel ná al die jare dat sy iets kon gedoen het om haar ma se dood te verhoed.

Op aandrang van ’n berader dat Madelie haar vrees vir mediese prosedures konfronteer, bied sy gratis kunslesse aan vir kankerlyertjies. Hul innerlike krag ten spyte van die genadelose chemoterapie wat hulle kry, maak háár sterk. Sy het veral ’n baie sagte plekkie vir klein Sonja, die talentvolle maar baie siek dogtertjie wat so moedig teen die groot K stry.

Dokter Ian Duvenhage bars op ’n dag by Madelie se klaskamer in om sy broerskind, Handré, te ondersoek. Handré is tydelik in sy oom se sorg omdat sy ma weens komplikasies met haar swangerskap in die hospitaal is. Madelie kry byna ’n oorval toe Ian sy stetoskoop uitruk om na Handré se bors te luister! Nie net wil sy weghardloop as sy ’n dokter en ’n mediese apparaat sien nie, maar die man kom maak sommer wat hy wil in haar klas en dan wonder hy boonop hardop voor al die kinders of sy ’n student is. Die gort is behoorlik gaar tussen Madelie en Ian.

Deur die loop van die boek raak Madelie en Ian tog vriende, veral nadat Madelie onverwags ernstig siek word en ’n noodoperasie moet ondergaan om haar lewe te red. Ian staan haar by en help haar om deur haar uiterste vrees vir hospitale te werk. Hulle besluit om hul verhouding ’n kans te gee en mekaar beter te leer ken. Dan daag Ian se vorige verloofde, Natasha, ’n beeldskone model, op en wurm haarself tussen hulle in en maak allerhande wilde aantygings. Boonop verswak Sonja se toestand drasties en moet Madelie en Ian hulle eie belange opsyskuif en op Sonja en haar gesin konsentreer wat hul bystand dringend benodig.

Gaan Madelie en Ian se verhouding skipbreuk ly nog voordat dit kans gehad het om te groei of sal die buitengewone omstandighede hulle nader aan mekaar bring? Ian het immers nog nie een keer vir Madelie vertel dat hy haar liefhet nie …

Aan die einde van die boek stap die onderskeie karakters wat die leser leer ken het, in ’n CANSA Relay for Life-geleentheid om hulde te bring aan kankerlyers. Vir my as leser was die karakters se ondersteuning van dié bewusmakingsveldtog en fondsinsameling ’n riem onder die hart. Dit dien ook as aansporing vir lesers om in die vervolg moeite te doen om ook by só ’n verdienstelike projek betrokke te raak.

Ek moet erken dat Ondersoek my hart my in ’n stadium in trane gehad het. Ilze beskryf die stryd teen kanker met groot deernis, maar ook met die nodige nugterheid sodat die storie vir geen oomblik soetsappig raak nie. Die verhaal het my gehelp om meer begrip te hê vir dit wat ’n gesin deurgaan wanneer ’n gesinslid kanker het. Ek beveel Ondersoek my hart met groot vrymoedigheid aan. Dit is ’n teer liefdesverhaal wat meer bied as bloot romanse.

Meer oor die skrywer: Ilze Beukes is ’n sekretaresse by ’n laerskool op Kroonstad. Sy is getroud en het vier kleinkinders waarop sy baie trots is. Buiten skryf doen Ilze graag kralewerk. Sy droom daarvan om oor ’n paar jaar op Kleinmond te gaan aftree en voltyds te skryf.

Ondersoek my hart is onder meer beskikbaar by NB Uitgewers se www.liefdesverhale.co.za.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.