Boekresensie: In die teenwoordigheid van die Allerhoogste

LUCA, ’n onderafdeling van LAPA Uitgewers, publiseer In die Teenwoordigheid van die Allerhoogste, ’n jaarboek ofte wel jaarprogram met oordenkings geskryf deur Stephan Joubert. Die titel het voorheen verskyn as Aan my Vader se voete.

In vandag se gejaagde wêreld is daar maar min geleentheid om aan God se voete te gaan sit en sommer net in sy teenwoordigheid rus en vrede te vind. Dit verg selfdissipline om doelbewus tyd eenkant te sit om met God te spandeer en innerlike vrede te ervaar. In die teenwoordigheid van die Allerhoogste beslaan 384 bladsye en daar is ’n oordenking vir elke dag van die jaar. Die oordenkings – in ’n gerieflike leesformaat – is in ’n gemaklike geselstrant geskryf en hou 12 geestelike dissiplines voor wat geestelike groei aanwakker. Hierdie geestelike dissiplines is: Op God se pad; Nuwe denke; Op soek na integriteit; ’n Lewe van eer; Genade; Selfdissipline; Vreugde; Wag, wees stil; Liefde; ’n Lewe van wysheid; ’n Heilige lewe en ’n Lewe van oorvloed.

Hierdie jaarboek moedig die leser aan om toegewyd en gehoorsaam aan God te leef maar ook om te luister en rus. Dit begelei die leser om ’n meer gedissiplineerde lewe saam met God te lei. “Dit wil jou stap vir stap, dag vir dag en maand vir maand begelei deur ’n paar geestelike oefeninge sodat jy aan die einde van die jaar iemand kan wees wat nuwe geestelike vreugde ervaar.” Lesers moet die oordenkings stelselmatig van voor tot agter deurwerk aangesien die een dissipline by die ander aansluit.

Ek hou daarvan dat die interessante oordenkings klem lê op die aanleer van ’n lewenswyse waarin mens elke dag vir God verheerlik, sielsvrede vind en in ons ware identiteit as sy kinders funksioneer. Die geestelike pitkos en voorstelle hierin vervat vra van lesers om introspeksie te doen, self die Bybel op te neem en te lees, en ook sekere oefeninge te doen, soos byvoorbeeld om binne die spoedgrens te hou wanneer jy vandag bestuur. Die gedagte is dat ons leer om bietjie meer ontspanne te wees en ons liggame op te pas.

In die teenwoordigheid van die Allerhoogste is ideale leesstof vir diegene van ons met ’n woelige leefstyl wat besef dat daar iets in ons lewens kort, naamlik die vervulling wat ’n meer vredevolle en vreugdevolle lewe in God kan bring.

Uittreksel: “Die Here wil hê jy moet jou kop van voor af leer om reg te dink. Vir te veel jare het jy alles rondom jou onder beheer gekry: jou tuin, jou beroep, jou daaglikse roetine. Nou is dit tyd vir jou kop, want die sleutel tot jou geluk lê daar opgesluit. Gee jou kop vandag nog weg. Nooi God in as die Een wat jou gedagtes nuut maak.”

Meer oor die outeur: Prof. Stephan Joubert is onder meer ’n buitengewone professor in Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is ook as tentmakerleraar betrokke by verskeie gemeentes asook by ekerk, ’n aanlyn en praktiese geloofsgemeenskap. Daar het al dosyne boeke en akademiese artikels uit sy pen verskyn. In 2010 verwerf hy die Andrew Murray prys vir Jesus: ’n Radikale Sprong.

Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.